voorsmaak: Kry vir jou 'n botteltjie

2010-08-21 16:03

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Kyk, my ma het alles waarop sy haar hande kon lê gekook, gebak of gebottel. Geen vleis, vrug of groente was veilig nie. En ek moet erken, soms het ek gevrees ek is volgende – dat sy my ook sou gryp, in ’n bottel druk en op die kas bêre vir later…

Daardie geur van vars gebakte koekies en mosbeskuit wat pas uit die koolstoof-oond gehaal is, is iets wat ’n mens nooit vergeet nie. En my ma se liefde vir kosmaak en onthaal het ek geërf.

Verstaan my mooi: Ek is nie een van daardie mense wat grênd, prentjiemooi kos maak nie. Nee. Ek maak trooskos?… daardie soort kos waarvan die geure lank in die huis hang en jou veilig laat voel. My tafelgenote moet éét en weet hulle het geëet. Die stywenek-etes wat jou ná die tyd na die naaste “take away” laat jaag omdat jy nog so blêrrie honger is ná al die mooi kossies op fyn bordjies is nie my idee van pret nie.

Ek wil ’n tafel hoor kreun onder die kos.

En gewoonlik begin ek by die soetgoed. Dis dié dat konfyt kook nog altyd iets is wat my na aan die hart lê. Baie ander stokperdjies het gekom en gegaan (waarskynlik omdat ek so gou verveeld raak), maar om ’n botteltjie konfyt perfek te kook… dit bly my groot uitdaging.

Die reuk van vye wanneer jy dit voorberei, die melk wat jou hande brand dat jy lyk soos ’n ou kombuishand, is geen plesier nie.

Maar wanneer jy daardie eerste groenvy oopsny en saam met kaas op ’n beskuitjie eet, raak alles só die moeite werd.

Dit bly ook nie altyd net by konfyt nie. Verlede jaar het ek vir die eerste keer ’n sjokoladevrugtekoek gebak en die resep só aangepas sodat hy groenvye en makataanstukke en baie nektar van die gode moes kry.

Om makatane in die hande te kry, is ook nie altyd ewe maklik nie. My soektog het op die internet begin, toe is ek Facebook toe om ’n wye gehoor te kry, SMS’e aan vriende het gevolg. Ek het net nie ’n posduif uitgestuur nie. Maar waar ek ook al gevra het, was ek net te laat vir makatane of hulle het nie meer die “oom van die makatane” se nommer nie.

Uiteindelik, net voor moed opgee, kry ek dit toe. En nie waar nie… skuins oorkant in die straat waarin ek woon – ’n hele tuin vol van dié skaars en byna ongeskikte lekkerte. Ek koop toe summier sommer vyf en begin die beplanning om hulle gekook te kry.

Ek onthou hoe ek as kind die stukke waatlemoen sonder enige smaak vol gaatjies moes steek met ’n vurk. En wee jou as jy vir ’n oomblik nie konsentreer nie. Dan het jou vinger ook sommer ’n onbeplande gaatjie of twee gekry. Ek dink dikwels was dit bloot moedswillig, want as die bloed geloop het, kon jy nie meer help met die prikkery nie.

Wat niemand my egter vertel het nie, is watter helse werk dit is om die stukke almal geprik te kry. Maar ek kan trots verklaar dat ek hulle geskil en geprik gekry het?… alles te danke aan my pa se eie uitvindsel, Die Makataanprikker. Dié tuisgemaakte masjien werk soos ’n outydse wasmasjien, maar daar is stukkies staal ingeslaan op die rollers. As jy die makataan deur die rollers stoot, prik die masjien die makataan verwoed vol gate sonder enige beserings of kind wat kerm.

Alles was geprik en geweeg en moes twee dae lank in kalkwater lê voordat ek dit kon kook in die lekkerste stroop. Dan, ewe skielik, kry die vaal kind van die veld smaak soos jy nie kan glo nie.

Dit lyk ongelooflik mooi in die bottels en die son stuur so ’n geheime boodskap deur daardie helder soet stroop wat lui: “Kom eet my, jy kan later nuwe, groter klere gaan koop!”

Almal skimp vir ’n botteltjie, maar ek hou my doof, stokdoof. Om dié konfyt te kook, is nie ’n proses vir sissies nie. O, nee!

As ek so na die klaargekookte bottels konfyt op die rak kyk, weet ek my vriendin was reg toe sy gesê het tuisgemaakte konfyt is “suinige, suutjies-kos, wat ’n mens net met jou heel dierbaarstes deel”.

Willie se makataankonfyt

1. Sny een groot makataan in skywe van 5 cm en verwyder die groen skil en die binneste sagte gedeelte met die pitte.

2. Prik dan die heel waatlemoenskywe met ’n vurk (as jy nou nie Pa se makataanprikker het nie) en sny dit daarna in stukke.

3. Plaas in ’n kalkoplossing (25 ml gebluste kalk per 5 liter water) en week vir twee dae. Roer gereeld terwyl die stukke daarin week.

4. Spoel ná twee dae die stukke deeglik af en week vir 2 uur in skoon water voordat jy dit begin kook.

5. Verhit water in ’n groot kastrol tot by kookpunt en gooi ’n bietjie sout by.

6. Plaas die stukke een vir een in die kokende water en maak seker dat die water nie ophou kook nie, anders word die stukke pap. Kook tot die stukke helder is en jy maklik ’n tandestokkie in hulle kan steek.

Stroop

1. Weeg die vrugte en vir elke 1 kg waatlemoenstukke gebruik jy 2,5 liter water en 1,5 kg suiker wat daarin opgelos is.

2. Verhit die water en gooi die suiker stadig by terwyl jy aanhoudend roer totdat al die suiker opgelos is. Dit is belangrik dat die water nie moet kook voordat al die suiker opgelos is nie.

3. Gooi 25 ml suurlemoensap en 4 stukke gedroogde gemmer by die stroop en kook 10 minute lank.

4. Plaas die waatlemoenstukke geleidelik daarin en kook totdat die stroop begin dik en die stukke deurskynend word.

5. Pak die konfytstukke in skoon flesse, gooi die warm stroop oor en verseël dadelik.

Afgesien van die vrugtekoeke waarin ek van dié lekkernye gebruik, is dit ook ongelooflik lekker as jy hulle in klapper rol en net so eet as ’n soetigheid. Die meer moderne manier om dit te eet, is om ’n soutkoekie te vat, dun snytjies makataanstukke daarop te sit met ’n flentertjie bloukaas bo-op en ’n gerookte mossel om dit mee af te rond. Die kombinasie klink dalk vreemd, maar probeer dit gerus. Dit is lékker! En iets wat jy vinnig kan maak as jy onverwags gaste kry.



- Rapport

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
12 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-21°C More sun than clouds. Mild. Pta: 11-30°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 12-26°C Sunny. Pleasantly warm. Bfn: 11-31°C High level clouds. Pleasantly warm.
Dbn: 15-28°C Morning clouds. Warm. PE: 13-22°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Assistant Retail Manager

George - Knysna
Alfa & Omega Networked Business Solutions (PTY)Ltd
R7 000 - R7 500 Per Month

GDP 21027 - Senior Site Agent

Johannesburg
Professional Career Services

GDP 21030 - Architect

Johannesburg
Professional Career Services

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!