wyn: Rooi... alles is rooi

2011-03-05 11:11

Jean en Coenie op Rust en Vrede

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Daar is net rooiwyn op Rust en Vrede. ’n Mens verwag ook nie anders nie. Die landgoed wat Jannie Engelbrecht, die beroemde Springbok-vleuel wat met sy deurdringende seeblou oë nooit ’n rugbybal van die agterlyn misgekyk het nie, in die 1970’s as’t ware ontwerp het, was immers rooi. Net rooiwyndruiwe. Net rooiwyne in elke bottel. Vandag nog, dekades ná die eerste bottels van 1979.

Op ’n bakkende hoogsomer-middaguur is rooiwyn, laat ons maar sê, uitdagend. Voor ons: die landgoed se ganse reeks, proe ná proe, oor ’n gesellige, eenvoudige, maar puik middagete neffens die kelder. Dis sauvignon blanc-weer. Maar dis ernstige sake dié. Al Rust en Vrede se wyne het vier sterre en meer in die Platter-gids, baie met tellings van 90/100-plus in Amerikaanse beoordelings en die mooi landgoed is sekerlik onder die land se top- statige wynname.

Jean Engelbrecht het ieder geval sauvignon vir chenin geruil. As dit dan wit moet wees. Maar vandag is dit rooi.

Ons sit onder die eike buite die kelder om ’n kitsoorsig te kry van waar die kelder vandag met sy wyne staan. Dis duidelik dat die rooiwyn op ’n dag van hoë hitte nie die talle besoekers rondom ons afskrik nie. Proeglase en bottels word aangedra en die mense praat allerhande tale aan die tafels langsaan. ’n Akker val, plomp, presies in Coenie Snyman se waterglas. Die ritueel kan begin.

Jean Engelbrecht is ’n groot kêrel wat sowel die blonde hare as priemende blou oë van sy ouers geërf het. (Ma Ellen was ’n elegante skoonheidskoningin en trek steeds aandag as sy verbystap en groet.) Hy het ook die glimlag en vrygeestigheid, nommerpas vir ’n man wat graag sy wyne aan die wye wêreld wys. En dan met pryse en lofliedere wegstap.

Hy is baie ingenome dat die restourasie aan die herehuis (1790) klaar is en dat hy aanstons intrek. “’n Huis, pragtig, oud en histories soos hy is, moet bewoon word,” stem hy in op die wynhistorikus Tim James se opmerking oor outentisiteit. Kaaps-Hollandse wonings kan óf museum-agtig stagneer, óf op ’n wynplaas dinamies deel wees van die mense en die bedryf.

Die betrek van die ou huis is dan ook ’n simboliese daad in die kleine: Jean Engelbrecht, wat tot nou toe in die jonkershuis gewoon het, is die inwonende eienaar van dié pronkwynplaas wat sy oorspronklike aktes tot die jaar 1694 kan terugeis. (Dié jaartal dui op die landgoed se duurste bottel wyn – ’n driftige versnit teen R1 200 in ’n beperkte oplaag.)

Alhoewel die geskiedenis oral onopgesmuk teenwoordig is, is ’n mens ook terdeë bewus van ’n wynplek met ’n moderne uitkyk. Alle stelsels werk. Van die proelokaal-personeel tot internasionale bemarking, onder Engelbrecht se kundige en meestal persoonlike toesig, getuig alles van ’n op en wakker bewustheid van hoe die moderne wynwêreld werk.

Langsaan, in die uitstekend gerestoureerde historiese kelder is byvoorbeeld ’n eietydse restaurant wat reeds, kwalik drie jaar ná sy ontstaan, wye roem behaal het. Die sjef David Higgs se kos is modern, sy visie nommerpas – en besprekings vir aandete is reeds vol.

Rust en Vrede se wyne is ook modern. In ’n goeie sin, meen Tim James. Coenie Snyman is die afgelope drie, vier jaar die wynmaker, en sy stil geaardheid verklap byna niks van die intensiteit, vakkundigheid en toegewydheid wat hom in 2009 die titel wynmaker van die jaar besorg het nie.

Ná die merlot is dit die 2008-oesjaar van Rust en Vrede se cabernet sauvignon in ons glase. Opvolger van die 2007 wat aan Snyman daardie gesogte titel besorg het.

(Dié dekade lange kompetisie van Diners Club het effe van ’n wanbenaming omdat net een soort wyn elke jaar teen mekaar gemeet word. Wyn van die jaar is bes moontlik ’n meer gepaste titel. Maar wynmakers is een en almal op soek na dié bekroning. Dis hoë lof. Welverdiend deur Snyman, soos die wyn in ons glase getuig.)

Cabernet sauvignon is iets besonders hier op Rust en Vrede. Van die ander wyne is dalk meer beroemd, hoër geloof, wyer bewonder. Maar cabernet had van meet af aan hier ’n eiesinnigheid.

Jean se pa, Jannie, wat aanvanklik sommer self ingespring en wyn gemaak het in daardie laaste jare van die 1970’s, het homself en verskeie ander verbaas toe sy cabernet in die beginjare kampioenskappe, superieur-toekennings en vier Platter-sterre (1982) verower het.

Vir ons om die tafel het die wyn ’n fyn-ingestemde helderheid van vrug. Om die vrugtigheid van die wyndruiwe presies vas te vat sonder om oorryp te wees, of te veel hout te gebruik, is die fyn-fyn kelderspel waarmee Snyman sy eie opdrag bepaal.

In die gees van die oomblik vra Engelbrecht om ’n bottel cabernet van 1998 (vier-en-half Platter-sterre in 2002). Die wyn is ver verwyderd van die jeugdige vrugtigheid van die ander wat ons proe: die uitmuntende landgoed-versnit van cabernet, shiraz en ’n droeseltjie merlot, twee opstandige shiraz-wyne (een enkelwingerd), en 1694 Classification-versnit (groot van cabernet en shiraz).

Die ou wyn bring sy eie sjarme na die tafel van jonges. Ouderdom lê in die parfuum van blare en soet-soutigheid. Ons is vol bewondering, al is hy effe te oud. (Die Platter-gids het destyds ses jaar aangeraai, maar nou reis ons al verby 12.)
Tussen oud en jonk – mooi en elegant jeugdig in diep rooi – kry ons die trek van die landgoed se geskiedenis en styl. Destyds het die energieke Jannie Engelbrecht, roemryke rugbyloopbaan agter die rug, ingespring en hoog gemik. Sy seun het dié ondernemingsgees met sy eie bestuursvermoë verder gevoer.

Rust en Vrede is een van die land se voorste wynplase. Daar’s geen twyfel nie. En rooi sal hy bly.

Wie | Waar
www.rustenvrede.com

Om aan te skaf

Rust en Vrede Cabernet Sauvignon 2008:

Helder vrugtig met grasie en viooltjies op die neus, sagte tannien en lengte.

Shiraz 2008: Klassiek van die landgoed, aards en mildelik rond.

Estate 2007: Een van ons uithaler- Kaapse wyne – modern, maar met kennelik identiteit. Hy sal goed verouder.

Werd om te weet

Jean Engelbrecht is ’n vlieënier (SAL) wat die grotes flink hanteer. (Hy het nou die dag nog deur die wolke gewoerts.) Dis dié reisende aspek, verkenning van die wêreld waarmee hy sowat tien, twaalf jaar gelede die landgoed se visie as verteenwoordiger van die Kaap se beste uitgebou het. Vandag het Rust en Vrede wynklante oral ter wêreld. In 2000 is die landgoed-versnit onder Wine Spectator se 100 top-wyne in die wêreld aangewys, die eerste van Suid-Afrika.
Sedert Jannie Engelbrecht in 1978 begin wyn maak het, was daar nog net drie ander wynmakers betrokke. Kevin Arnold het die eerste jare gedefinieer, Louis Strydom het in 1998 oorgeneem en Coenie Snyman het in 2007 aangesluit by die span. Engelbrecht en sy wynmakers het ook Guardian Peak en Ernie Els se wynbedryf gevestig.




Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-21°C More sun than clouds. Mild. Pta: 11-30°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 12-26°C Sunny. Pleasantly warm. Bfn: 11-31°C High level clouds. Pleasantly warm.
Dbn: 15-28°C Morning clouds. Warm. PE: 13-22°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Consultants

Midrand
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R10 000 - R28 000 Per Month

Half Day Mums - Call Centre Sales in Health Insurance

Midrand
OneCard Management Services
R2 500 - R3 500 Per Month

Consultants

East Rand
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R10 000 - R28 000 Per Month

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!