1-2-3 blog myself: Eenkeer in Amsterdam...
2012-01-20 12:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Eendag lank, lank gelede was ek vir my eerste keer op pad oorsee. Deur ‘n heel toevallige sameloop van omstandighede is die geleentheid aan my gebied om as intern by die Zuid-Afrika Huis in Amsterdam te gaan werk vir omtrent so ‘n jaar. Ek was, nodeloos om te sê, amper uit my vel uit van opgewondenheid en het glad nie geslaap gekry die aand voor die tyd, of op die vliegtuig self nie. Nie net was dit my eerste keer oorsee nie, maar ook my eerste keer uit die ouerhuis. Dit is ook hoekom my pa vir die eerste twee weke saam gekom het, om seker te maak dat ek weet hoe om kouse uit te spoel, vir myself kos te maak en my te waarsku teen die euwels van Amsterdam se wêreldbekende rooilig-distrik.
Ek dink nie die besef dat ek werklik oorsee is, het heeltemal ingedring tot my tot die oomblik wat ek vir die eerste keer my pa se sy verlaat het om vir ons koeldrank te gaan koop het nie. Skielik het ek besef ek’s miljoene kilometers van die huis af, in ‘n ander land op my eie en ek weet nie eers hoe ‘n wasmasjien werk nie. Ek het so skuins duskant ‘n katatoniese toestand myself op ‘n bankie neergesit en gewonder “Westcott, waarvoor het jy jouself ingelaat?”. Ek het so ‘n paar keer diep in-en-uit geasem en vir myself herinner dat ek vir die ervaring gevra het, dit is mos wat ek wou gehad het, and it bloody well better live up to my expectations. Terwyl dit nie heeltemal van al die skoenlappers in my maag ontslae geraak het nie, het ek myself darem redelik kon oortuig daarvan dat ek kapabel is om die situasie te hanteer.
Ons het in Frankfurt geland en is daar verder per trein Amsterdam toe. Ek en my pa kon ons oë nie glo toe die eerste trein wat ons vang, waaragtig op die aangeduide tyd by die stasie indraai nie. Ons was immers nog op Afrika-tyd ingestel. Ek kon natuurlik nie wag om my eerste regte-egte kasteel/katedraal/een of ander outentieke Europese gebou van eeue gelede te sien nie. Ou geboue, veral ou Europese geboue fassineer my al van kleins af. Ons het gelukkig vir ‘n hele ent van die rit langs ‘n rivier (heel moontlik die Ryn) gery en ek en my pa het soos klein seuntjies tekere gegaan toe ons die eerste murasie van ‘n kasteel teen ‘n berg sien. Na die tiende murasie het die opwinding so bietjie afgeneem en na die 50ste kasteel het ons nie eers meer gekyk nie en ons eerder verwonder oor elke ding wat ons nie herken het nie.
Menige besoeker aan ‘n vreemde land se grootste vrees is om verlore te raak. Dit kan gebeur deurdat jy jou kaart onderstebo lees, nie die straatname so mooi verstaan nie, of deur die verkeerde trein/trem/bus te vat. So beland ek en my pa op die verkeerde trein by Düsseldorf saam met ‘n ander klomp verwarde toeriste. So by die tweede treinstop besef een van die kondukteurs gelukkig wat aan die gang is en het hy ons gou weer op die regte trein gekry. Daardie paar oomblikke van yskoue vrees sal ek nie gou vergeet nie en dit sal natuurlik ook nie die laaste keer tydens my oorsese verblyf wees wat so iets met my gebeur het nie. Die op en af klim by elke stasie is deur ons hope bagasie bemoeilik. Ek moes vanselfsprekend byna elke item van kleredrag wat ek besit het saam bring, maar dit was nie die grootste probleem nie. Die grootste probleem was die sakke vol gordyne en kussings en lakens wat my ma aangedring het ons moet saamvat. Sy was bang dat die woonstel wat Zuid-Afrika Huis vir my verblyf gereël het niks anders sal voorsien het as ‘n matras in ‘n koue donker hoekie nie. As sy kon, sou sy die matras ook nog ingedruk het. Op die ou einde was dit lekker gewees om my eie beddegoed daar te hê, maar ek en my pa was al vloekende op en af by elke stasie en het ‘n paar keer die sakke moes red soos wat hulle by roltrappe afgebliksem het.
Ek onthou nog die oomblik wat ons by Centraal Station (Amsterdam) uitgeloop het. Daardie eerste beeld van die stad het my soos ‘n Impressionistiese painting vol in die gesig getref en ek kan nou nog as ek my oë toe maak sien hoe ‘n klomp duiwe die lug in vlieg, die kerk torings wat uitsteek tussen die lae gebou in die agtergond en op die voorgrond mense op fietse en wat uit trems uit klim. Daar was eintlik soveel om in te neem op daardie stadium en ek was so moeg van die lang reis, maar ek het net vir so bietjie gestaan en om my gekyk om seker te maak dat ek dit nooit sou vergeet nie. Die direkteur van Zuid-Afrika Huis was daar om ons te ontvang en te vat na die woonstel waar ek sou bly. Ek was verras om te ontdek hoe warm en bedompig dit daar was. Dit was Junie en terwyl ons met baadjies en jasse ‘n yskoue Suid-Afrika moes verlaat, moes ons hier baie gou van hulle ontslae raak. Dit het op oomblikke vir my byna gevoel asof ek in Durban was. Ek het net nooit gedink dat Nederland warm en bedompig sou kon wees nie.
Ons kon omtrent nie meer ons oë oop hou op hierdie stadium nie, so toe die direkteur voor stel dat ons eers ‘n draai by ZAH gaan maak het ons moed omtrent in ons skoene gesak. Ons laat ons toe wel ompraat vir ‘n vinnige koffie, maar meer hieroor in volgende week se blog...