1-2-3 blog myself: Hier is 2012!
2012-01-13 13:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Wel, die nuwe jaar is eindelik op ons en dit het begin sonder dat die huis weer oorstroom het, wat altyd ‘n goeie teken is.
Eksdom waarsku ons sommer nou al dat hulle hierdie jaar die ligte aan en af gaan sit (meestal af) weens instandhouding en die feit dat hulle uiters vrot beplan het. Ons beplan om vir ons gasbottels aan te skaf vir die kos en van daai oprolbare sonpanele vir die elektroniese goedjies. Wie kan nou vir ‘n paar dae sit sonder internet, selfoon of kykstof?
2012 is ook die jaar wat ek uiteindelik ‘n iPad gaan kry. Wanneer weet ek nie, want al het ek dit 22 Desember bestel en al die papiere geteken, word die ding en sy simkaart blykbaar ingevoer van ‘n ster 22 000 ligjaar van hier af en sit ek nogsteeds en wag vir die aflewering. Die beste respons wat ek tot dusver uit iemand kon kry is ‘Vrydag, op die laatste Maandag’. Dis nou al ‘Vrydag, op die laatste Maandag’ vir die afgelope drie weke.
As 2011 vir my die jaar van wag en frustrasie was, is my hoop dat 2012 die jaar sal wees waarin dinge uiteindelik begin gebeur. Ek het in 2011 al die bal aan die rol gesit om van loopbaan te verander en tot dusver is dit die enigste ervaring buite my wag vir die iPad wat nog langer vat en meer frustrerend is. My hoop is dat daar vordering sal wees voor ek moed verloor en besluit dat ek maar tog vir die res van my lewe sal aangaan met werk wat my nie eintlik baie gelukkig maak nie.
Hierdie jaar wil ek myself ook weer leer ken. Ek het besef dat iets in my verander het toe ek nou die dag in die spieël kyk en besef dat ek myself nie meer so goed ken nie, dat ek op een of ander manier dit reg gekry het om heeltemal verby myself te lewe die afgelope jaar. Ek het gans en al te ernstig geraak oor die lewe, 2011 was nie vir my ‘n baie goeie jaar nie. Ek het heeltemal vergeet dat die lewe eintlik veronderstel is om fun te wees en dat mens baie meer vir jouself en ander kan lag. Ek het dit geword wat ek altyd gesweer het ek nooit sal word nie: ‘n grootmens.
So hierdie jaar is my grootste mission om weer die magic terug te kry in my lewe, om te speel en fun te hê. As dit waar is wat die Maja voorspel het en alles kom tot ‘n einde net voor teetyd op 22 Desember, 2012 wil ek my money’s worth in kry voor dan.
Ek hoop net ek het al teen daai tyd my iPad gekry.