1-2-3 blog myself: Pak!
2012-10-01 07:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die
groot gepakkery is op ons. Die heeltyd het ek nog in my agterkop dat
die groot trek nog ver weg is, totdat ek vandag skielik besef het dat
daar nog net twee maande oor is en dat nou miskien ‘n goeie tyd sal wees
om goed te begin uitsorteer.
Kobus
het al lankal begin om sy goed te pak en hy maan my al vir die afgelope
maand en ‘n half om dieselfde te doen, maar dit was nie totdat ek
vanoggend self begin het om ‘n paar goed weg te pak dat ek besef het hoe
‘n groot storie hierdie gaan wees nie. Toe ek jonger was het my ouers
gereeld getrek vanwee my pa se werk. So ek was toe relatief gewoond
daaraan om elke nou en dan al my speelgoed en boeke gesorteer te kry,
maar dit was ook nou al ‘n paar jare gelede. Selfs toe ons van die een
kant van die huis oorgetrek het na die ander toe, was dit maar eintlik
net meer ‘n verskuiwery van al ons goeters gewees en nie ‘n ware trek
nie.
Eerstens
moet daar nou rêrig van goed ontslae geraak word. Baie keer wanneer
mens skoonmaak of van goed probeer ontslae raak eindig jy op om dit net
weer so in die boks of terug op die rak te sit omdat jy sentimentele
waarde daaraan heg of omdat jy dink jy dit eendag weer sal kan gebruik.
Vanoggend was ek gelukkig in die regte bui gewees om eenvoudig goed weg
te smyt. Ek was totaal ongenadig met die hoeveelheid goed wat reguit
asblik toe is, soveel so dat Kobus my op oomblikke moes keer dat ek nie
goed weggooi waaroor ek later spyt sou wees nie.
Ek het toe maar baie stadig deur die bokse en papiere begin gaan en dit het ontaard in ‘n heerlike trip-down-memory-lane met
baie van die goed, soos van my ou universiteit-werkstukke en notas waarop ek afgekom het. Baie van die klasnotas lyk meer soos ‘n ouderwetse chatroom as
studie notas soos wat ek en my vriende met mekaar gesprekke gevoer het
onder die dosent se neus.
Ons het oor ander geskinder, kuiers beplan en
gepraat oor flieks wat ons gesien het of wou sien. Dit het my ‘n oomblik
gevat om te besef dat hierdie notas en papiere oor die 15 jaar oud was
en die gesprekke het gegaan oor mense of dinge wat ek al lankal van
vergeet het. Dit bly vir my weird dat
mens op oomblikke in jou lewe so na aan ander mense kan wees en dan
jare later nie eers meer hulle name of gesigte kan onthou nie.
Verder
het die een werkstuk wat ek op afgekom het my verras met hoe in-diepte
ek in ‘n stadium oor goed kon skryf, ek het nogal baie slim daarin
geklink! Ek kan nou sien waar met dit kon verbeter het ek ‘n hoër punt
kon gekry het. (Die dosent het ook so in haar kritiek geskryf.)
Ek
dink ek sou dit nou baie meer geniet het om sulke werkstukke te skryf as
toe. In daardie stadium wou ek dit net so gou as moontlik uit die pad
gekry het. Ek het ook afgekom op artikels wat ek amper so tien jaar
terug vir ‘n aanlyn-tydskrif geskryf het en dit het my sommer ‘n warm
kol op die maag gegee om te sien hoe lekker ek toe geskryf het. Nie dat
ek nie nou lekker skryf nie, maar dit het my jare gevat om weer terug te
kom op die punt waar skryf vir my ‘n plesier is en nie iets is wat ek
voel ek móét doen nie. Dit herinner my aan die feit dat ek ‘n talent
gegee is, een waaruit ek plesier kan put en waarvan ek meer gebruik moet
maak.
Genade,
hier kom ek nog af op my papiere vir Amsterdam ook! My verblyfspermit
en my brief van die Instituut en die briewe wat sê dat ek nie
tuberkulose het nie en al die ander menigte burokratiese gemors wat so
lank gevat het om uit te sorteer en wat geen mens in hulle regte mind sal wil hou nie.
Dit is dan seker ook hoekom mens so lank vat om te pak en waarom dit so moeilik raak om goed weg te gooi. Die trip-down-memory-lane verander in ‘n mugging en
as jy nie versigtig is nie eindig jy in trane op die vloer midde die
gemors aan’t huile oor die kanse wat jy verspeel het en die dinge wat
jy nog wou gedoen het en hoe jy so mooi en maer was en dit nooit
behoorlik waardeer het totdat dit gans en al te laat was nie.
Ag, miskien sal ek net die verblyfspermit hou ...