1-2-3 blog myself: Práát in Amsterdam
2012-01-27 12:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Een groot ding wat mens in ag moet neem wanneer jy die verre vreemde inskiet is of jy sal kan kommunikeer met die mense om jou.
Wanneer mens gewoon toeris speel en nie vreeslik lank op een plek gaan wees nie, sal meeste mense eenvoudige frases aan leer of op gebaretaal staatmaak om die boodskap oor te kry. Maar wanneer mens vir ‘n langer tydperk gaan afpak op een spot is dit ‘n ander storie. Dan vind meeste dit makliker om na ‘n land te gaan waar Engels die voertaal is, of ‘n land waar die taal relatief naby genoeg aan jou eie is om te kan verstaan.
Ek weet nie hoekom ek gedink het ek maklik sou leer Nederlands praat nie. Ek was gelukkig genoeg gewees om vriende te ken wat reeds ‘n tyd lank al daar gebly het teen die tyd wat ek oorgegaan het, en hulle het my voorberei op sekere aspekte van Afrikaanse spraak wat ek liefs uit Nederlandse gesprekke moes hou. Eenvoudige dinge soos “Verskoon my”. In Nederlands kry mens baba “verschoon kamers”, dus vra jy iemand om jou boude af te vee as jy dit sou gebruik. Vra eerder “Pardon” soos die Franse dit sê, of “Eksuseer”. Moet ook nie praat van “een rukje geleden” nie, want ‘n “rukje” verwys na masturbasie.
Verdere verwarring word veroorsaak deur ander eenvoudige verskille. ‘n Pan is in Nederlands ‘n pot. ‘n Pot is ‘n ander woord vir ‘n lesbiër en ‘n pot is ‘n “schaal”. Lemoensap is “sinasappelsap” en ‘n geskenk is ‘n cadeau. ‘n Beursie is ‘n “portemonnee” en ‘n sambreel is ‘n “paraplu”. Vaak beteken nie moeg nie, maar wel gereeld. Vreeslik entertaining was die eerste keer wat ek iets koop en die man wat dit vir my aangee sê vir my “alstublieft”. Ek was heeltmal deurmekaar, hoekom sê hy vir my asseblief as ek hom klaar betaal het? Mis ek iets? Ek sou later uit vind dat Nederlanders “alstublieft” sê wanneer hulle iets vra en wanneer hulle iets vir jou aangee. Amper soos “Daar’s hy!”.
Nou ja, buiten dit het mens ook nog te doen met die feit dat Nederlands uit hoeveel verskillende dialekte bestaan, al is die land so groot soos ‘n posseël. Ek kon my verstaar aan die begin van my verblyf aan nuus berigte op tv, waar daar subtitels sou wees as iemand van die suide of noorde van Nederland aan die woord was. Sekerlik praat almal tog dieselfde taal! Dit het my ‘n rukkie (sorry, ‘n tydjie!) gevat, maar toe ek eers gewoond was aan die klank van Nederlands, of ten minste Amsterdamse Nederlands, het ek die verskille in almal se aksente begin hoor en laat ek vir jou sê, daar is niks so moeilik om uit te maak as iemand van die Limburgse provinsie wat teen volle spoed praat nie. Dit sou makliker gewees het om te probeer om ‘n Russiese gesprek te ontsyfer.
Die grootste probleem vir my om self Nederlands te leer praat was die feit dat ek aanhou in Afrikaans dink het en dan probeer praat het...
Ek het geen probleem gehad om dit te verstaan nie, maar die oomblik wanneer ek self ‘n sin probeer aanmekaar flans het, het dit uiteindelik meer Afrikaans as Nederlands uitgekom. Ek kon myself darem met eenvoudige sinne duidelik maak, maar vollengte gesprekke was buite die kwessie. Dit het vir my al hoe meer duidelik geraak dat dit baie makliker is om tussen jou eie en ‘n ander taal te skakel as die twee hemelsbreed van mekaar verskil, maar probeer dit nou net doen met een wat te naby is en kyk wat gebeur. Soms wonder ek ook of my brein maar nie net te lui was om die fyn verskille te probeer uitsorteer van mekaar nie. Gelukkig is Nederland die een Europese land waar die mense geen probleem daarmee het om met jou Engels te begin praat as hulle sien jy sukkel nie. Dit het my ook laat wonder of hulle dit nie vir my so maklik gemaak het dat ek nooit verder gebodder het om die taal te leer praat nie.
Baie van die Nederlanders wat ek ontmoet het was vreeslik geïnteresseerd in Afrikaans en het my uitgevra daaroor. Sommige het gedink dit klink meer soos Vlaams as Nederlands en dit was vir my nogal interessant gewees, want die eerste Vlaamse persoon wat ek ontmoet het, het vir my geklink soos ‘n Afrikaner wat probeer Nederlands praat. Die voorvaders van meeste Afrikaners het van die suide van Nederland, wat nou België is, gekom. Ek het ‘n klein teorie dat ons veel meer Vlaams in ons het as Nederlands. Die Vlaamse mense is ook minder geneig om so bot en kortaf as meeste Nederlanders voor te kom. Die reguit manier wat meeste Nederlanders gepraat het was ook vir my nogal ‘n aanpassing gewees.
Meer hieroor in volgende week se blog.