1-2-3 blog myself: Wat zeg je?
2012-02-08 11:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
‘Wat zeg je?’
As ek my sônne nie ontsien nie ... Daardie vraag het vinnig een van die mees irriterendste dinge van my verblyf in Nederland geword. Dit was gewoonlik gevra deur ‘n Nederlander wat nie kan verstaan wat jy sê nie, maar ook nie kan wag dat jy jou sin klaar maak nie. Ek is groot gemaak met die idee dat dit onbeskof is om iemand in die rede te val en ook dat as jy nie verstaan wat iemand sê nie dan vra jy heel mooi; ‘Askies, wat het jy gesê?’. Hierdie geblaffery in my rigting het my glad nie aangestaan aan die begin nie.
Soos die omie by wie ek amper sigarette gekoop het op pad van die ZAH na die Dam Plein. Die skepsel het ‘n miniatuur-winkeltjie gehad so by een van daai skrefie straatjies af en daar kon slegs een persoon op 'n slag daar inpas. My eerste ontmoeting met hom het ek my beste smile gesmile en hallo gesê, hy het vir my iets terug geblaf. (Soos Casper de Vries sou sê, gooi jy op, of praat jy met my?) Toe ek vir die sigarette (begin) vra word ek halfpad deur voor geblaf ‘Wat zeg je?!’ en besluit toe maar om net te wys na wat ek wil hê. Soos wat ek daarvoor betaal word ek aangesê om die geld in die bordjie voor my te sit en nie aan te gee nie, so asof ek melaats is en die geld besmet is. Die tien Euro-noot het skaars die bord aangeraak toe brom omie weer. Na vele handgebare en geluide besef ek uiteindelik dat ek vir hom die naaste kleingeld aan die prys van die pakkie moet gee, hy het nie nou tyd om te staan en geld uit tel nie. Ek het net daar die pakkie vir hom terug gegee en besluit om my besigheid erens anders heen te vat. Die ding met die kleingeld, het ek later besef was nogal ‘n gunsteling van Nederlandse tilslaners en ek sou baie keer hierna met ‘n groot gesug en geweeklaag kleingeld gegee word as ek net ‘n noot gehad het. Waar hulle gedink het ek die heeltyd kleingeld moes kry weet nugter alleen.
Ek onthou hoe van my vriende wat al lank daar gebly het, of voorheen Nederland besoek het, my vertel het hoe direk Nederlanders soms kon wees. Iemand sal sommer afhaak en vir jou sê die hemp wat jy aan het lyk nie mooi nie of dat hulle nie baie van jou ander vriende hou nie. Dit was vir my nogal ‘n aanpassing, want ek was gewoond aan Afrikaners wat almal ons bes doen om ‘nice’ te wees, meesal ten koste van ons ware gevoelens. Ons sal iemand raak loop in die mall, tekere gaan oor hoe lank laas ons mekaar gesien het en die heeltyd vir mekaar sê dat ons ‘MOET koffie drink/braai binnekort!’ so asof ons aan mekaar probeer bewys dat ons nie van ons sosiale verantwoordelikhede vergeet het nie. Dit het baie van my Nederlandse vriende absoluut gefassineer. Hulle kon nie verstaan waarom ons vir mekaar iets sou sê as ons dit nie rerig bedoel het nie en het sommer vir my reguit gesê dat dit vir hulle baie ‘fake’ is. Op ‘n manier moes ek nogal saam stem.
So mettertyd raak mens dinge gewoond en ek het begin onstlae raak van daardie oorsensitiweit wat ons Suid-Afrikaners partykeer kan hê oor mense se maniere en stemtoon. Ek het ook al hoe meer agter gekom dat dit partykeer oukei is om net nee te sê. Mens doen jouself en ander ‘n vreeslike onreg aan as jy net ja sê vir goed of dinge sonder dat jy die bedoeling het om dit werklik deur te voer. Ek het ook meer direk geraak, nie op ‘n lelike manier nie, maar dit het byvoorbeeld my nie meer 5 minute gevat om iemand te vra om die melk aan te gee nie. Ek meen, as jy vir my gaan vra: ‘Askies tog, ek wil jou nou nie pla nie, maar kan jy asseblief vir my die melk aangee?’ gaan ek teen die tyd wat jy klaar gevra het dit al self vir jou ingegooi en die koppie vir jou geroer het.
Maar ek raak nog steeds lekker bemoerd wanneer iemand my in die rede val.