B(l)og: Uitnodiging
2012-01-31 11:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Volksguru Professor Wilhelm Jordaan se rubriek oor uitnodigings het my destyds diep geraak toe dit die eerste keer in Beeld verskyn het. Gelukkig het hy dit ook in sy nuwe boek, SPiTSTYD, met ander gunstelinge opgeneem. Die rubriek was op die gevierde Kanadese digter, Oriah Mountain Dreamer, se gedig, “The invitation” gebaseer.
Ek het, soos ander met wie ek dit bespreek het, gedink dat ek natuurlik mos weet wat uitnodiging beteken maar ek was verkeerd... Die Latynse woord vir “uitnooi” (invitare) beteken oorspronklik om ’n “uitdaging” te rig oor dit wat “lewe gee”, het die guru verduidelik. Lees die vorige sin gerus weer – ek moes om dit na behore te kon verstaan.
Só kry ek ongeveer twee jaar gelede 'n Facebook-vriendskapversoek.
Ons het mekaar vyf en veertig jaar gelede laas gesien en na skool geen kontak gehad nie. Ek was verbaas dat hy my nog onthou het, want ons was nie juis groot vriende nie en ek glo nie dat ons ooit meer as vyfhonderd woorde met mekaar op hoërskool gepraat het nie. Hy was nou egter ’n pittige en intelligente bron van inligting en skindernuus oor amper al ons ou skoolmaats. Ons het gou tussen al die e-posse en telefoniese gesprekke deur agtergekom dat ons telkens dieselfde oor dinge dink en voel – kompleet soos ou en hegte vriende.
Hy was ’n baie suksesvolle ontwikkelaar aan die Suidkus maar het verlede jaar afgetree omdat die eiendomsmark maar net nie na die groot val van 2007 wou herstel nie en ook omdat ’n mens nie jonger word nie. Hul enigste kind bly en werk oorsee, hulle reis nou die wêreld vol en hulle enigste groot stokperdjie is resiesperde. Hulle het finansieel baie gemaklik afgetree maar daar word al lankal kort-kort in ons bos gekap en ’n mens maak nie sommer op ons ouderdom meer nuwe vriende nie. Selfs hulle het dus ook nie die onvermydelike vereensaming, wat ons almal maar met die ouderdom inhaal, heeltemal vrygespring nie.
Dit is en bly altyd ’n eer om spesiaal uitgenooi te word na ’n partytjie, ’n fliek, ’n troue en selfs net vir ’n kuiertjie maar dit word heel besonders wanneer julle uitgenooi word om in iemand, wat julle beslis nog nie baie goed ken nie, se huis te kom vakansie hou.
Daar was gelukkig sommer met die inval geen ongemaklikheid tussen ons of die vrouens nie. Al bly vyf en veertig jaar dan ook so ’n lang tyd is ons amper oormatig op die hande gedra, dermate dat ons feitlik onmiddellik gewaardeerde, hegte en gemaklike vriende met mekaar geword het. Uit die aard van my werk gaan ek nie baie van die huis vir vakansies weg nie omdat die twee weke tussen Kersfees en Nuwejaar die enigste tyd is wanneer ek die dringendste onderhoudswerkies aan die huis kan probeer doen, maar vanjaar se kort vakansietjie by hulle het my laat besef hoe nodig ek ’n ruskansie en die hervatting van ’n goeie vriendskap werklik nodig gehad het.
Toe ons groet het ek vinnig blad geskud en “dankie vir alles” gemompel voor ek vinnig omgedraai het kar toe, want ek was diep onder die besef dat ek vir vyf en veertig jaar onnodiglik ’n groot vriendskap ontbeer het. Ek wou ook nie hê dat enigeen moes sien hoe diep aangedaan ek eintlik was nie. Ek sou waarskynlik meer mens gewees het as ons die vriendskap dalk direk na skool al versterk en voortgesit het. Ag tog.
Baie mense praat domastrant en neerhalend van die proffies se akademiese ervaring, insig en opinies, maar lees net wat professor Wilhelm in sy slotparagrawe van die betrokke rubriek sê: “Wat opval is dat Oriah telkens die oppervlakkigheid van ‘uitnodiging’ – soos ons dit dikwels aanwend – omwerk tot ’n dieper sin van menslike samesyn. Dat selfkonfronterende alleenheid die oergrond is van gemeensaamheid, dat die ontdekking van wie jy is ook die ontdekking van ander toelaat.
"Daarom, wanneer ons ‘uitnooi’, is dit ten diepste ook ‘uitdaging’ om meer mens te wees, ter wille van jouself en die ander.”
Tjek sy boek gerus uit en polish daardie ou vriendskappe weer ’n slag op want dit maak méér (en gelukkiger) mens van jou.
Dankie prof Wilhelm, Jurie en Susan.
* Lees Wilhelm Jordaan rubriek hier.