Die lewe ná die dood. Dis ‘n eensame pad. ‘n Baie lang
pad.
Jy voel nog sy hare, sy voorkop, sy lippe aan die
punte van jou vingers. Jy sien sy oë is toe, sy mond effens oop. En jy weet: dis
die einde van alles wat was en dít wat nog sou wees.
Dit sny deur
jou hart. Die vlymskerp lem wat jou deurboor en besny en opkerf asof jy ‘n
proefpadda onder ‘n mikroskoop is.
Jy voel gedissekteer.
Tot jou hart en longe en brein saam in ‘n silwer bakkie lê. Want jy glo jy
sien ‘n lykskouer met elastiese handskoene wat ‘n ontleedmes in sy kriewelrige
hande vashou.
Daardie lem
sny deur jou menswees. Dit ontwortel jou vel en been, dit ontrafel alles wat jy
is, ontbloot jou innerlike siel. En uiteindelik word die oorskot weggegooi in
‘n swart vullissak. Ready to dispose.
In die enigmatiese
fliek Apocalypse Now sny die lemme
van ‘n dakwaaier en dié van helikopters figuurlik gesproke dwarsdeur jou lyf. Jy
word aan flenters gesny totdat jy nie meer weet of jy ashoop of skrootwerf toe
gaan nie.
Maar jy gaan
aan. En aan. Soos die hoofkarakter in Apocalypse.
Al besef jy nie mooi waarheen jy op pad is en wat jy gaan doen as jy daar
aankom nie. Want jy weet nie wanneer gaan iemand dalk eendag ‘n muntstuk in ‘n
juke box gooi en Abba se Dancing Queen
laat speel nie – spesiaal vir jou.
Dancing Queen feature nié in Apocalypse
Now nie. Glad nie. Eerder dramatiese, klassieke musiek wat bulderend uit
die bome en bosse en rietstapels en die oseaan kom. Met ontploffende gevolge
vir die “vyand”. En dis dit.
Ek het binne
my bekrompte na-doodse wêreld ontdek die vyand lê binne jou eie brein. Jy dink,
jy dog, jy wonder, jy speel met die lemme wat dreig om jou ook dood te maak. Maar
jy bly lewe, moord-lemme of te not. Want jy wil.
Snaaks hoe
musiek ‘n mens se lewe kan
omwentel. Of dalk nie.
Sedert ek die intense
werklikheid van die heengaan aan my vingerpunte gevoel het, het ‘n doodsheid my
ook beetgepak. Ek wou alleen wees. Kluisenaar by uitstek. En stilte, baie
stilte – geen musiek nie, asseblief. Verkieslik ook geen telefone nie, dankie.
En los maar die gekuier hier by my of die uitnodigings om elders te gaan kuier.
Liewer nie.
My liggaam het
‘n Star Trek geword – op pad na
verdoemende en onbekende bestemmings. Want skielik was ek ‘n ander ek, nie die
een wat ek al vir 54 jaar lank self ken nie.
Eet het
eensklaps ‘n weelde geword. My eetlus het ’n dorre plaasdam geword. En wanneer
ek wel iets sou inkry, het die dam se wal iets aller-ysliks gelek. Of sy wal
oorstroom.
Vleis en
seekos is nou nog uit. Dalk ‘n stukkie hoender. Maar net dalk, en net ‘n
stukkie.
Slaap het ‘n
tweede nagmerrie geword. Ek rol en spartel so erg dat ek soggens sukkel om al
die kussings en duvet met ‘n oogopslag te kry.
Ek slurp vir
dae die stilte en alleenwees op. Nee, ek mope nie, ek wil net op my eie wees.
Herinneringe onthou, ou foto’s bekyk, wonderlike woorde inprent, gryp na ‘n tyd
wat vol beloftes was.
En sedert die
onvermydelike dood het ek nog nooit weer na ‘n enkele stukkie musiek geluister
nie. Ek kon nie. Want musiek in ons huis was ‘n saambindende faktor van
samesyn, die utopia van geluk. Ja, dis ‘n bietjie oordrewe, maar dis soos dit
gevoel het.
Nou voel ek
niks. Dood. Ek kan nie huil nie, ek kan nie verlang nie, Ek
voel nie eens eensaam nie. Ek voel soos ‘n klip in die Sahara
– as jy dit nie optel en skuif nie, bly dit net daar lê.
Vir my het dit
die lewe ná die dood geword. En toe kom die openbaring. Die apokalips.
Nou die aand.
Ek kon weer nie slaap nie. Opstaan en rekenaar toe, maar my vingers wou nie op
die key board gel nie. Sitkamer toe, TV aan, maar niks om na te kyk nie.
Meer as twee
maande lank gluur Tsjaikofski se CD-boksie al vir my van die TV-kas af. Dis so
maklik: glip dit in, oorfone op die kop, en gooi die klank.
Die
vioolkonsert maak alles dood wat lelik is, herroep alles wat mooi is, vul jou
met ‘n krag wat jy gedink het onmoontlik is.
Ek dink oor
die uitwerking van die dood op dié wat agterbly. En ek onthou die einde van Apocalypse Now: Marlon Brando se apokaliptiese
“The horror, the horror”.
Ek staan op.
Ek ontkoppel die oorfone. Ek gaan bed toe met Dancing Queen wat deur die huis weergalm.