Branders: Dood-lewendig

2012-08-21 10:28

'n Donkerrooi mat lei ses bittereinders van die swart slapwa na die gat toe. Munisipale hande het ‘n dag of twee gelede hier ‘n nuwe tuiste geskep. ‘n Dieperige, langwerpige grousel die grond in. Rou grond, met sand en klippe en kluite wat eenkant “welkom” sê. 
 
Groen kamma-gras flapper in die sterk suidooster rondom die nuwe woning. Pers gordyne fladder rondom dié nuwe huis. Die laatmiddag-son maak die donkerte wat binnenshuis wag nie juis helderder nie.
 
Hulle sê die lewe ondergronds is maar eensaam. Alleen. Ietwat afgesonderd. Effe koud en muf. Want Eskom se krag is daar heeltyds af. En al is jy ‘n kluisenaar, is ‘n bachelor’s flat dalk nie heeltemal wat jy in gedagte gehad het nie.
 
Tydens die Kaapse winterreën lek die tydelike dak van sand-en-grond drupsgewys kelder toe. Kreepy crawlies gedy in die gietswart nag. En die hoop op ‘n vaste bedeksel is in die kiem gesmoor met beloftes van “eers oor ‘n jaar” nadat alles bo-gronds gesettle het.
 
Maar gelukkig rus jy sag. Soos jou bure links en regs en agter jou. Voorlangs is daar darem nog leë erwe te koop – al nader en nader na die wit muur wat dié town house-kompleks aan die een kant van die grootpad verskans en na die ander kant uitbrei waar bloekoms en sipresse se takke ratel in die lug.
 
Dis meestal stil en rustig en kalm in hierdie woonbuurt. Die inwoners – jonk en oud, afgetredenes en kindertjies en selfs suigelinge – is nie die raserige soort nie. Besadig, rustend, toegegooi onder ‘n kleed van “wat sal wees, was reeds gewees”.
 
Soms, meer af as toe, kom doen die swart (of wit) slapwa weer sy rondtes. Met nuwe intrekkers. Wat oënskynlik waardig en beskeie hul plekkie-onder-die-son kom op-eis. Beskeie, want daar is geen dubbelverdiepings in hierdie buurt nie.
 
Familie en vriende snik en huil ‘n bietjie met die koebaai-slag. Almal hoop op ‘n rustige verblyf vir dié wat noodgedwonge die skuif grond-langs moet maak. Hulle munch aan papperige driehoekie-toebroodjies as finale offerande. En dan skuifel hulle teësinnig agteruit, terug na hul karre toe. Landrovers en Kia’s en Mercs en Fords en Volkswagens. Hulle sluip uitgang toe en vat die teer terug na hul eie veilige hawens waar Eskom gedy en hul slow cookers met hoender-en-groente prut.
 
Uiteindelik weer stilte in Doves-valley. Hoewel die eiendomsagente van Avbob en Goodall & Williams ook al hul kleim hier kom afsteek het.
 
Die son sak metterwoon oor die granieterige wonings, die vroeg-aand se koue vroetel deur die bo-kors, skag-af onder toe. Die donkerte van die nag vul die grond-gegrawe huisies wat nog in aanbou is. 
 
Dan: niks nie.
 
Of is daar iewers ‘n roering?  ‘n Skadu wat die lewe-ná-die-hervestiging ontbloot? Of is dit bloot ‘n verbeeldingsvlug?
 
Dis lank ná twaalf die nag in. Ek lê veilig en knus en warm gebroei onder ‘n laken, ‘n duvet en ‘n dubbelgevoude winterskombers. My hondjie is lankal verlore met sy kop op twee kussings asof hy in MediClinic se ICU opgeneem is.
 
Ek het vroeër, ‘n hele paar maande gelede, ook tatta gesê aan ‘n close-by vriend wat willens of wetens ons dubbelverdieping vir ‘n platterige heenkome in die dooierige township naas ander onbekendes moes verruil: Doves Valley.
 
Ek het my koebaais gesê. Mildelik, maar teruggetrokke. En teruggekeer na my wortels van high flier life sonder om openlik uit my boks te klim. Immers moet ‘n mens nuwe bewoners, waar ook al, ‘n kans gun om tot verhaal te kom en hul voete te vind. As daar later van tyd nog voete is…
 
Die Groot Trek na die Valley was in November verlede jaar. Tot met Junie vanjaar: niks nie. Tot my laken en duvet en kombers en my hondjie my nie meer kon beskerm nie.
 
Ek lê op my rug. Ek is nugter, ek is wakker. Dis doodstil soos dit die nag betaam: geen geluid van motors nie, geen trok wat afrem op sy ratte nie, geen motorfiets wat knaag op sy refs nie, geen hee-hoo-a-hoo van ‘n amulans of noodvoertuig nie. 
 
Niks nie. Net ek. En ‘n hondjie wat net sowel elders kon gewees het.
 
Maar dan: ‘n geskuifel teen die trap – op, of af? Ek weet nie.
 
Ek lê doodstil. Ek roer nie. Ek voel ‘n bietjie sweet op my voorkop.
 
Kaplaks!  Dis die geluid van ‘n koffiebeker wat op die werkoppervlak in die kombuis neergeplak word. Ek ken die geluid. Ek het bekers al baie self daar neergeplak. En ek weet daar staan ‘n gebruikte koffiebeker op die werkvlak.
 
Die sweet op my voorkop kom nek toe.
 
Klap! Ek ken die geluid. Dis die lang kasdeur in die kombuis waar ek die koffie en tee en handdoekrolle en konfyt en Marmite en peanut butter en wat nog aanhou.
 
En toe? ‘n Geklokkie soos Spaanse dansers wat klap-klap met versteekte klappertjies in hul hande. Ek het van daai klokkies, uitgestal in my sitkamer…
 
Ek strobbel uit die bed uit, gooi beddegoed dié kant en daai kant toe. Ek vat my knuppel, die enigste wapen in die huis. Ek soek na die bedliggie se switch, skakel aan. Ek hoor musiek, sagweg, laggend, vanuit die binnekant van my dubbelverdieping.
 
Gang-af sit ek soveel ligte aan as wat ek kan. Tot in die kombuis. Koffiebeker staan waar ek dit laas gelos het. Kasdeur is toe.
 
Niks nie.
 
Ek loop trap-af. Kyk orals rond daar onder waar niemand ooit kom nie. En dan: kap-kap-kap-kap, soos ‘n besemstok teen die teëlvloer. Maar die gekap is bo. En ek is onder.
 
Die sweet teen my nek kom wange toe.
 
Ek gaan sit op die teelvloer, steeds onder in die huis, in die fetus-posisie, knuppel in die hand. Ek hoor steeds musiek, vaagweg, ver-af. Nie van buite af nie, van binne my huis. Maar van waar dan nou?

Ek praat, maar nie hard-op nie, in my kop. Nie met God of Jesus of Onse Vader of met die ewige Samaritaan nie. Ek praat met daai mannetjie wat ek noodgewonge in Doves-valley moes los laat, vry laat, ek sê vir hom ek sou so graag saam met jou wou wees, maar jou kompartement is ongelukkig net vir een.
 
Terug teen die trappe op boontoe, huis toe, dis waar ek leef. Die lewe gaan die volgende dag aan: sh*t, shave & shampoo. Hondjie uitlaat vir nommer een en (hopelik) ook vir nommer twee, vullissakke uitsit, skottelgoed was (die nice antie kom eers Woensdag, dis nou  eers Saterdag), nuus opvang op die internet, jubel oor onse krieketspan, gly oor wats oppie dish, glip tussendeur fone wat lui en oproepe wat gemaak moet word.
 
En skielik is dit weer nag. Slaaptyd. Rus-tyd. My oë boontoe na die donker plafon.
 
Toe, vanuit nêrens nie, sweef daar wit ballonne die hele kamer vol. Van hulle sak af na my toe. Ek steek my arm en my hand uit om hulle aan te raak – en pops! is hulle weg. Hulle hou nie op nie, hulle daal op my neer soos sneeu in die winterland van Sutherland op sy koudste en beste.
 
Ek vryf oor my oë, maak seker ek is wakker. Ek is wakker. Ek sien rooi en blou liggies, soos daai wat by jou huis brand as jou alarm ge-arm is. Hulle speel teen die mure, dan is hulle links, dan pop hulle regs op. Hulle woermoer deur my kamer.
 
Spinnekoppe. Ek is skytbang vir spinnekoppe. Maar hulle kriewel groot-groot rond teen die plafon en maak my oë lam. En dan is daar ‘n gewroemel teen my gordyne, iets wat agter-af probeer binne kom. Lyk soos ‘n likkewaan. Nee! Ek gooi myself vas teen my kussings…  Die wriemelings in my kamer is besig om hand-uit te ruk.
 
Ek slaan weer met my vuiste teen my oë. Ek ís wakker!
 
My kamer het twee, groot  tiet-lampe plat teen die plafon. Ek haat hulle. Maar nou ja, die huis het behoort aan twee Engelse tantes wat seker maar met tiete gepla was. Maar tussendeur die wit ballonne sak daar wit lampe en hangligte op my neer dat ek onder my duvet wil inkoes. Net om aan hulle te raak, en pops! is hulle weg.
 
En pops! word ek wakker op ‘n Hermanus-oggend vol sonskyn en helderheid en ‘n see wat lyk of dit die Vaaldam kon wees. Ek voel en kyk en sien die sweet het in my slaap-T-shirt ingetrek.
 
Stort, dink ek. Nou! Was als af, maak skoon, maak mooi, lappie jou lyf en vryf jou vel en scrub jou gesig en kom net weer ‘n slag behoorlik by… Of verby.
 
Uiteindelik koffie ek met beskuit. Ek gaan sit in my kamer en bekyk die plafon. Tiet-lampe heelhuids in plek, soos dit hoort. Verder: niks nie.
 
So kom oggend, so kom aand, of nag. Al weer. Hierdie keer lê ek op my sy, oë toe. Met ‘n omdraaislag vang ek my bedkassie so skuinsweg. Dis vol bokse gepak, lyk dit. En ‘n ongekende silwer staanlamp met ‘n ligkop wat knik neffens my bed. Kan nie wees nie, dink ek. En ek beur op om my eie bedlampie aan te skakel, maar ek vind geen skakelaar of lamp tussen die bokse deur nie.
 
Iemand lê aan my linker-sy. Ek kan die iemand voel, maar as ek my hand uitsteek, is die iemand weg.
 
My hondjie spring opeens op die bed en loop dwarsdeur daai iemand en kom lê ook langs my, onbewus van die vreemde maatjie langsaan hom.
 
Ek swaai om anderkant toe. Nog ‘n silwer staanlamp, nes die ander een. Twee lampe wat nog nooit staanplek in my huis gehad het nie.
 
Ek swaai terug na my kant van die bed. Ek steek my hand uit so ver ek kan. Niks nie. Ek kan nie die bokse op my bedtafeltjie deurdring nie. Ek beur vorentoe en val op my sy op die vloer. En alles is weg toe ek die bedlamp se koord by die plug beetkry en die lamp raakvat en die gloeilamp laat gloei.  
 
Die aande daarna raak ek byna gewoond aan die ballonne en hanglampe en rooi en blou liggies en bokse en staanlampe wat kom nesmaak in my kamer. Ek sweet nie meer nie, laat die spoke maar gedy tot die blomme verwelk, dink ek. Te hel!
 
Een middag gaan maak ek ‘n onvoorspelbare draai by Doves Valley. Met my spanjoel aan ‘n leiriem. Net om te kyk en te sien of my verloopte vriend darem gelukkig is.
 
Dit was nie ‘n beplande besoek nie, eerder spontaan, op die ingewing van die oomblik.
 
Tussen al die nuwe intrekkers vind ek sy standplaas gehawend weens wind en reën en ondeurdagte bloekomtakke wat afvallig die plek vol lê. Ek gaan sit op ‘n buurman se graniet-tempeltjie en wonder oor “the life down under”. Het Liewe Jesus sy beskermde hande na jou toe uitgereik? Was die Here daar toe jy hom in angs en bewing nodig gehad het? Het God jou sondes vergewe? Het jy die sogenaamde Ewige Lewe beërwe? Is jy regtig opgehelp vanuit die woestyn en weggevat na die sogenaamde paradys? Het jou kennis van die Ou en Nuwe Testament in Christelike terme enigiets vir jou beteken toe morfien die pyn nie meer kon stil nie en jou asem minder was as wat ‘n kommen gogga kon uitblaas? Ás die gogga nog kon blaas.

Jy kon nie.  En nou hoef jy nie meer nie.
 
Op pad kar toe doen my hondjie sy nommer 2 in die oprit na Doves Valley toe. Hy swaai sy stert, hy lag, hy blaf vir al hierdie onbenullige gehuggies waarin daar binnegronds geglo word “die Here sal voorsien”.
 
My hond kon ‘n leke-prediker gewees het.
 
Tuis. Aand. Nag. Daar is twee wit gedaantes op my bed. Een lank, manlik. Een kort, vroulik. Hulle kyk vir my. Ek kyk vir hulle. Ek steek my hand uit. Niks. En neffens my, op die spaarkussings, sit ‘n tiener met ‘n wit bloes en ‘n korterige Skotse rompie en staar voor haar uit. Toe ek aan haar been probeer vat, vat ek aan my laken. Sy en die gedaantes is daar, maar eintlik is hulle nié.
 
Ek lê uiteindelik lang-been uitgestrek op my bed. Ek swaai my regterbeen so ‘n bietjie skuinswaarts om my alewige krampe te verhoed. Ek voel ‘n voet. Nie ‘n skim nie, ‘n voet. ‘n Mens-voet. ‘n Lewendige voet. Tone en als.
 
Ek vries. Geen sweet nie. Net hoendervleis.
 
Ek beweeg my groottoon oor Die Voet se tone. Ek voel die vel, die grofgeit, die naels, die ek-is-hier. Ek sidder. Ek skuif my eie voet hoër op na Die Voet se enkel toe. Dis toe net ‘n voet met ‘n enkel, niks verder nie. Afgekap. Geen lyf nie. Ek gryp na die bedlampie tussen die “bokse” en “staanlamp” deur – en met die lig: niks nie.
 
OK, dis nou hier waar ieder en ‘n elk wat iets weet of dink hulle weet iets of glo hulle weet iets vir my gaan sê ek is koekoes. Ek lieg. Ek fabriseer. My verbeelding is hoër as my IK. Ek is ‘n nul.
 
Maar vir ‘n nul (0) is daar altyd toegevoegde waarde. En met my beperkte onderonsie met die werklike onwerklikheid het die nul, in my oë, dalkies opgeskuif na ‘n 10.
 
Lê ek mos nou oudergewoonte bed-langs terwyl die wêreld om my tot ruste kom. Alleen op my queen-size matras. Alleen? Nee, hier lê al weer iemand langs my. Lyf-gewys,kan ek voel. Gesig-gewys sien ek niks. Ek steek my hand uit. Dit verdwyn in die mistigheid. Maar lê, lê iemand langs my. Believe it or not, but believe it!
 
Ek probeer die skim se hande vat, ek kan nie. Maar dit (of wat ook al) lê daar. Beduie met hande wat vir my geen sin maak nie. En uiteindelik kom die hande my kant toe, probeer aan my vat, en ek probeer ook vat, en ek vat, daai hande, daai hande wat ek vir oulaas wil vat, net om agter te kom ek vat aan my eie hande.
 
Toe niks.
 
Dis tydsgewys 20:43 – 20 Augustus 2012, Maandagaand, Vermont, Hermanus. My deurklokkie lui.  Ek sit ligte aan sover ek trap-af loop. Ek sit die stoeplamp aan en maak die voordeur oop. Niks nie.
 
Ek bespied die drive way, ek check die hekke, ek loop agterlangs, gooi ‘n oog hier en daar. Maak seker als is toe.
 
Ek sluit die voordeur. Ek klim twee trappe op boontoe.
 
Die deurklokkie lui…
 

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 15-19°C Afternoon clouds. Mild. Pta: 11-31°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 12-26°C Morning clouds. Pleasantly warm. Bfn: 14-30°C High level clouds. Pleasantly warm.
Dbn: 17-27°C High level clouds. Warm. PE: 16-23°C a few showers. Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!