Branders: Eie honde byt die seerste

2013-01-03 11:41

Uiteindelik, wil ‘n mens sê. Boney M se Kers-CD’s is terug in die supermark-bestuurders se kantore waar dit hoort – tot Oktober 2013 toe. Jingle Bells se klokke het vals geraak. Ho!-ho!-ho! het sommer saam met sy fênsie koninklike stoel verdwyn. En die reuse baniere wat praat van “big, big savings!” en “we’ll put your money back in your pocket” is poef! die lug in.

Kers-grappies, noem ek dit. Waaroor niemand wat ‘n greintjie grys sel onder sy kopvel het behoort te lag nie.

Tot die Groot Hofnar in die laaste stuiptrekkings van die (vir duisende mense) gewydheid van Kersfees besluit dis nóú die regte tyd om ‘n paar lekker jokes te crack. Siestog, arme Leon Schuster voel seker so ‘n bietjie uitgesluit omdat hy nie ook die verhoog kon deel nie…

Want met Stille Nag nog skaars uit ons geheues kom die man wat met die goue lepel in sy mond grootgemaak is (al weer) te voorskyn: Suid-Afrika se eie stand-up comedian par excellence, ene Jacob Gedleyihlekisa Zuma. En hy het ‘n paar nuwe Joker-kaarte up his sleeve.

Honde loop deur, veeartse word nie ontsien nie, halsbande word galgtoue, mooi getooide hare word afgelag, velmiddels word vloer toe gesmeer en pruike is klaarblyklik net vir kankerlyers.

Hei, die man is goed! Snaaks dat niemand klap nie.

Hier in die Overberg het ons nogal tyd en plek en ‘n oor vir ‘n stukkie skerp humor. Ons lag sit maar vlak hier tussen die voortande rond. My ma is een. Sy kan met haar Sandveldse lag almal om haar só aan’t lag sit dat jy later skoon vergeet het waaroor jy nou eintlik lag.

Dis maar hoe onse mense is.

Maar ons ken ook ‘n vrot grap as ons een hoor. Niemand lag nie. En jy, die joker, weet jy is te lig bevind. Soos onse eie koninklike komediant.

Uit die aard van my werk op Hermanus, toe ek nog gewerk het, moes ek male sonder tal deur die woonbuurt Zwelihle ry. Nou het ek een, eerlike, openlike vraag aan die man met die towerstaffie: Pres., dr., mnr. Jacob Zuma, het u al in u hele lewe probeer om met u fênsie, swart vierwielaangedrewe, lugversorgde R800 000+ voertuig met blou ligte in die grill (u staatsvoertuig sou dit nie maak nie) probeer om kruis en dwars deur Zwelihle te ry?

Het u?

Indien u het, sou u gesien het daar is meer verloopte, erg verwaarloosde honde as kinders wat in die modder en verstopte dreins en slaggate in die sogenaamde paaie speel.

U sou honde gesien het wat hul agterlywe sleep, honde met massiewe septiese kolle van nat ekseem op hul rûe, honde aan wie u die ribbes sou kon tel, honde wat net lê sonder om ‘n kop op te tel wanneer ‘n voertuig verby kom, talle uitgeteerde, dragtige tewe, talle klein puppies wat geen rigting of bestaan het nie. Het u al ooit ‘n hond hoor huil omdat hy iewers verskriklike pyn het? Sy stem lem deur jou binneste, ruk jou menswees oop, maak jou oë wasig tot jy stilhou en hom optel en, ja, mnr. Zuma, inderdaad, veearts toe vat. Net om uitgesit te word want die hondekanker is al maande lank deur sy hele lyfie versprei.

Het u, pres. Zuma, al omstreeks halfeen die oggend (weens werk) deur Zwehihle se versukkelde “strate” gery en afgekom op ‘n dronknes wat ‘n oopgespalkte hond op ‘n spit oor rou vlamme gebraai het? Het u?

Het u al gesien hoe van hierdie honde wat nog moed het probeer ontsnap uit die mense-hel wat vir hulle geskep is sonder dat hulle daarvoor gevra het? Het u al gesien hoe van hierdie ontsnaptes langs die hoofpad – die R43 na Hermanus – langs die pad staan en nog probeer stert swaai in die hoop op ‘n helpende hand?  Hoe een oor die pad probeer kom en deur motorbande getref word? Daardie angs-huil huiwer nou nog in my kop. Net ‘n goeie stort sal jou waarskynlik verlos van hierdie onaardse pyn en lyding wat jou breins met assegaaie deurboor.

Dan, en dis nie nog ‘n joke nie, het ek ‘n buurvrou, Helga, ‘n vrou met ‘n siel en ‘n hart vir honde in distress. So het sy nou al vier van die dood gered, hulle begin versorg en omring met liefde. En vandag kan ‘n mens jou nie vir Helga sonder haar vierling indink nie – al vier van die pad gehaal en na veiligheid gebring. Sekerlik met die hulp van 'n gewraakte veearts ot twee.

En weet jy wat, pres. Zuma, Helga is ‘n Afrikaan in elke deel van haar lewe. Sy leef hierdie land van ons met passie en meelewing al is sy al ouerig, vroulik en wit. Afrika-kultuur? Daar is ‘n groot verskil tussen net Afrika en net kultuur op sig self.

Gaan lees maar self wat ons hoogangeskrewe woorde- en verklarende woordeboeke oor kultuur te sê het. Of laat u navorsers en raadgewers en sekretaresses vir ‘n slag hul telefone en penne neersit en die ware “culture” onder die knie kry. ‘n Mens se bene kan nogal swik daar waar die las te swaar raak.

Nou, as pres. Zuma dalk ‘n tydjie tussen sy komiese optredes te spaar het, kom maak gerus ‘n draai hier op die kop by Hemel en See in Vermont. Nie net sal die president Helga se reddende hemelhonde in lewende lywe kan aanskou nie, maar ek sal ook graag vir hom wil bekend stel aan my tienjarige spanjoel Beetie vir wie ek inderdaad baie lief is en goed versorg en mee gaan stap om die bene sterk te hou en desnoods, ja, veearts toe vat indien nodig.

Dan sal ek graag met Beetie saam in die president se lekkerry-ding wil klim en met Beetie aan my sy vir hom ‘n begeleide toer deur Zwehihle neem – al wat die dierlike pyn en lyding na die tyd sal kan wegneem, is weer ‘n lekker stort waar niemand hoor hoe vals hy Mshini (Jacob’s song) sing nie. En voila! Weg is die probleem!

Tydens sy besoek aan die gewraarkte woonbuurt sou die president darem seker ook ‘n oog vir al die entrepeneurs gehad het. Mense wat oorleef met (hopenlik) ‘n geldjie aan die einde van elke dag.

Miss Daysies Fruit en Veg. Johnnies Spare Parts. Veronica’s Spaza Shop. Car Fix Quick-Quick. Wellington’s Welding Workshop. Cheap-Cheap Car Repairs. Charlotte’s Nail Bar.

Opvallend, meneer die president, is die heelwat haarsalonne – sommer tuis of in ‘n krat of container.  En die baie kliënte waarmee hulle te doene het. Niemand is skaam om sy of haar voorkoms te verander of te verbeter “for better human African understanding” nie. Buiten vir die hair-do’s verkoop hulle elke moontlike produk onder die Afrika son. Afrikane wat besig is om hul status op te kikker. Why not? Dalk moet u vir ‘n slag ‘n behandeling in een van hierdie township-salonne probeer! Mnr. pres. Ontspanning, is die wagwoord. Dit kan dalk net u styfgespande kopvel ‘n bietjie losser maak terwyl die opgededolliede salon-antie u opkomende geslag van donshaartjies een-een met ‘n tweezer uitpluk.

Want dit is lankal nie meer ‘n “African culture” waarvan ons hier praat nie. U sit die komiese pot heeltemal mis. Die joker het sy hand en kaarte ver oorspeel. U kan net nie meer Afrikane skei van die werklike kosmopolitiese Suid-Afrika nie. “It’s one for all, and all for one!”

Ek is terug by die huis. Nie dat ek weg was nie. Die deurklokkie lui. O, onthou ek, dis Woensdagoggend. Ek maak met ‘n vriendelike “goeie môre” vir Heylene die deur oop. Beetie is oudergewoonte aan my sy. “Môre meneer, mornings Beetie,” sê sy, baie gemoedelik.

Die hondjie lag, spring teen haar op en wag vir ‘n koppiekrap. Hy is die perfekte spanjoel wat weet hy is eintlik in charge van die huis en sy mense.

“Hawston het ‘n Beetie nodig”, sê Heylene so tussendeur terwyl sy gordyne en skuifdeure oopskuif, “net laat die mense kan sien wat die verskil tusen ‘n ware hond en ‘n strontloper is…”

Sy is, soos altyd, onberispelik seksie aangetrek. Waar sy die vermoë kry, weet net sy, want sy werk net een keer per week by my. En dis al. Sover ek weet.

Opvallend is haar goedversorgde, vlekkelose, glansende gesig. Lyk of sy pas uit ‘n beautycare-plekkie gekom het. En dan die onberispelike hare: agteroor gegel met fyn strepe van oranje en rooi tussen-in. En ek voel so sleg dat ek nog nie vanoggend geskeer het nie…

Daardie middag laat sit ek buite met my kop teen die motorhuis se deur. Ek dink. Ek hoor  weer die Groot Komediant. Ewige afsak-bril, tande wat grappies maal en ‘n glimlag wat jui nooi om saam te lag. En tot vandag toe klap niemand nie.

Ek sien ‘n huis teen miljoene die lug in skiet, ‘n kraal propvol Big Screen TV’s en ipods en koordlose fone en dongles en laserprinters en touch screen-goete waarvan ek nog nie eens gehoor het nie. Ek lees van twintig sonpaneel-toilette wat dag en nag aan jou behoeftes kan voldoen, kom wat wil. Ek hoor van ondergrondse skuilplekke waarin jy kan wegkruip wanneer ‘n verloopte vlermuis dalk ‘n paar spatsels teertou op jou sou loslaat. Ek lees van ‘n teerpad wat spesiaal na die compound toe aangelê word, van landskapstuine in aantog, van veiligheidsbeamptes wat die ingange met what ever wapens gaan beveilig.

Alles in die naam van “African culture”.

My Heylene het lankal die “African” gelos en elke week kom sy vorendag met haar eie “culture”. Onse mense se kultuur, meneer, sê sy, want ons weet alles is in die man daar Bo se hande.

Kersfees se liggies het verdof. Nuwejaar se klappers is dood. Wil die na-jaarse culture freak show nie maar vir hom ‘n verhoog in Sirië gaan soek nie?

Die meeste van ons whities se troeteldiere is uitstalvensters van geluksaligheid. Dít terwyl die Pres. se hemelhonde in Zwelihle soos hiënas rondkrap en tussen die vullis en opgaarsels soek na ‘n kouseltjie en ‘n plekkie om warm te slaap…

Is dit net nóg ‘n Kersgrappie?




Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-24°C High level clouds. Mild. Pta: 11-25°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 10-21°C Sunny. Mild. Bfn: 10-24°C Mostly sunny. Mild.
Dbn: 17-28°C Afternoon clouds. Warm. PE: 16-23°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!