Branders: Kom sing vir my

2012-07-17 12:31

Dis wonderlik hoe jy soms met die regte soort musiek jou eie gemoedstoestand – asook dié van ander – kan beheer en reguleer. Hoe jy in sekere opsigte ‘n ligte insinking of ‘n depressiewe gevoel hok kan slaan. Hoe jou ore die klank van musiek  kan opraap en aanstuur na die brein vanwaar jou dag gemaak of gebreek kan word.

Vat maar die gevoel van ekstase wanneer jy luister na die speelsheid van Laurika Rauch se Marietjie wag-‘n-bietjie of My ou tante Koba. En later, op dieselfde DVD,  die empatiese opwelling van trane met haar Lisa se klavier en Op Blouberg se strand. En skielik, met Lord of the Dance, word daai trane goedsmoeds geblokkeer en swel jou bors triomfantelik – jy voel goed, die dag blom!

Daar speel musiek in my sitkamer. Nie te hard nie, nie te sag nie. Dis soos ‘n oondplaat wat op laag gestel is. Met ‘n pot bredie wat geluksalig voort prut sonder om aan te brand. Ek wil tog nie weer sommige van my fyngevoelige bure met klank die harnas in jaag nie.

Dis drie-uur in die oggend. My slaap is soos gewoonlik by die agterdeur uit, iewers versteek tussen my lemmetjie-boom, my grenadella-ranker, my olyfboom en my lourierbos wat maar steier om bo-uit te kom.

Dis lekker hier by my dié tyd van die oggend. Met die reuk van sterk moerkoffie wat saam met die musiek die huis vol dans. En ek wat sagweg luister na Chopin, Carl Jenkins, Tchaikovsky en Chris Chameleon se kielie-kielie musiek.

Dit reën nou al van gister af, aanmekaar. Die water wat op die donkerblou sinkdak stort, maak my musiek so ‘n bietjie dood. Maar ek gee nie om nie. Dié papnat seëning van vrugbaarheid maak my skoot oop, maak my sitvlak gemaklik, maak my denke gereinig van skroot en vullis en asblik-honde wat kom aas en skraap en vat wanneer hulle dink die swart vuilgoed-sakke buitekant is iets werd.

Sommige musiek beteken vir my veel meer as wat ‘n psigiater of sielkundige se kalmeer- en slaappille ooit kan doen. Dit vat my geheel en al weg na plekke waar ek nog nooit was nie. Dit praat met my in tale wat ek nie altyd verstaan nie. Dit omring my met helderheid, ‘n “liefde  vir” en ‘n “hou van” waarmee ek my en andere graag wil koester.

Dis soos ‘n ontdekkingstog die vreemde in – sonder ‘n padkaart of ‘n GPS.

Skielik raak dit stil in die sitkamer. Dis soos om aan die einde van ‘n doodloopstraat te kom. Die violis, Joshua Bell, se blus is uit. Die TV, DVD-speler en musieksentrum se liggies blink nog in die donkerte.  En my hondjie lê doods op die rusbank – hy het geen erg daaraan of daar musiek is of nie.

My hande dwarrel oor die CD’s en DVD’s op die boekrak in die gang. Ek maak die werkkamer se deur toe, pop Sarah Brightman se Simphony in my rekenaar se gleufie en gooi die klank. Sy is in Wenen. In ‘n katedraal, St. Stephan’s, so oud soos grond. Met, so lyk dit, duisende kerse en Gotiese kandelare, ‘n koor en twee verskillende orkeste.

Dan vlam my rekenaarskerm oop met Sarah getooi in volle rooi. Sy sweef van agter in die ou gebou stadig en statig vorentoe terwyl die simfonie- en pop-orkeste in klank en swier met mekaar meeding. Maar, ongelooflik, in volle harmonie.

Dis hoendervleis-taal.

Die stampvol kerk roer nie. Nie ‘n fluistering, ‘n selfoon wat lui of ‘n bossie sleutels wat per ongeluk op die vloer val nie. Net verwondering, ‘n orgasmestrofiese opwelling van hemelse musiek.

Dan kom (vir my) ‘n hoogtepunt. Op die omslag staan net Fleurs du mal. Die tweede snit. Niks verder nie.

Ja, ek weet Phantom of the Opera en Ave Maria is ook op die spyskaart.

Maar vir iemand wat met klassieke musiek groot geword het, wat as kind bykans elke Sondagaand in die Groote Kerk in Kaapstad gesit en daarna saam met jou ouers na die ou Stadsaal verskuif het om die destydse Kaapse Simfonie-orkes se manewales met simbale, harpe, viole, fluite en tromme gade te slaan het… nog nooit het ek gesien hoe pop en rock en simfonie soos in Symphony se snit nommer 2 hulle vereenselwig nie.

Die twee orkeste sit teenoor mekaar. Eintlik ‘n bietjie deurmekaar. Die simfonie het ‘n dirigent, die rock-ouens weet wat hulle doen, dubbel-kitare en al. En tussen-in is ‘n koor, mans en vroue wat almal deel is van hierdie spectacle wat reg voor jou oë ontsluit.

Die tweede snit begin met ‘n getienkel. Soos klokkies vanuit ‘n mistieke wêreld. Dan begin daai mannetjie (ek het nie ‘n idee wie of wat hy is nie) aan die rock-kant tromme slaan soos ek selde in Suid-Afrika gesien het. En Sarah sleep in haar rooi met die katedraal se middelpaadjie verder vorentoe, die een rokspant opgelig om plek vir haar voete te maak. Sy sing. Die koor sing. Die twee orkeste jol. Daai trom-mannetjie slaan droeë putte vol water.

My hoendervleis word trane. Nie omdat ek hartseer is nie. Omdat dit verdomp so mooi is. Magies. Skouspelagtig. In ‘n kerk waar gebede seker teen die hoë dak sou verdwyn het as daar nie ‘n klankstelsel was nie.

Maar hier is nie net klank nie. Ook fyn kamerawerk wat dit laat lyk asof die dak-kandelare op en af beweeg. Slim beligting. En gekleurde laserstrale wat jou laat dink jy sit by ‘n konsert van Queen waar die uitspansel aarde toe gebring word.

Ek wil nie eintlik verder kyk of luister nie. Ek is kalm (al was die vertoning alles behalwe rustig), ek wil kamer toe gaan en my veilig toewurm onder my lakens, my duvet en Ouma se gehekelde lappieskombers.

Ek het vrede met myself. My rooibostee met drie lepels suiker (vir krag, sien) het koud geword. En ystee in die winter in Hermanus is nie juis iets waarmee jy te koop loop nie.

Ek was al tweevoet op pad kamer toe. Kom slapies, roep ek die hondjie. Hy kom. Reguit na sy lê-mandjie toe.

Ek wil-wil uit- en aantrek, slaapsgewys.  Maar iets pla. Die mannetjie met die tromme, die diva met die mikrofoon, die die koor, die samevloeing van hedendaagse en klassieke klanke, die katedraal wat magneties na my uitreik.

Eks terug in die werkkamer. Rekenaar weer aan. CD/DVD-gleufie weer oop. Spring met die fast forward-knoppie vorentoe. Gaan sit. Ja, waarna ek wil luister is gister se nuus, in fact, meer as ‘n dekade se nuus. Maar kyk hom, hoor hom in hierdie katedraal, en jou asem haal nie jou longe nie.

Phantom.

Daars die orrel. Honderde orrelpype wat opwaarts spies-punt dak toe. En dan ‘n groot man se skadu. Oor die registers. Vier in ‘n ry.

Jy sien nooit die orrelis se gesig nie, net van agter met sy lang hare wat lyk of dit flapper in ‘n wind.

Hy speel nie. Hy kap daai klawers in al vier rye soos wat jy Phantom nog nooit gehoor het nie. Hy maak daai wonder-orrel in daai pragtige katedraal syne. Hy maak dat mense spontaan hande klap en opstaan en cheer.

Hy kon net sowel self die “phantom” gewees het.

Ek stroop my uiteindelik van my dagpakkie. Ek gaan lê. Op my rug. Ek slaap nooit op my rug nie. Dis gedagte-tyd, dink-aan-tyd, wonder-tyd. Tot ek op my sy oorrol en hoop my haas vergete slaap kom maak dit vir ‘n slag ‘n vrede-tyd.

Uiteindelik sluimer ek in. Maar in my kop: Sing my angel of music, sing for me! Die nag het geblom…

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 15-20°C Mostly sunny. Mild. Pta: 11-25°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 11-19°C Showers late. More sun than clouds. Mild. Bfn: 11-19°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
Dbn: 16-22°C Numerous showers. Mostly cloudy. Cool. PE: 13-16°C Heavy rain. Mostly cloudy. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!