Branders: Kwaaiwater
2012-02-02 13:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Vir my pa was Kwaaiwater in Hermanus ‘n lafenis, ‘n toevlugsoord, ‘n plek van rus en meditasie. ‘n Plek waarheen hy sy kleinkinders geneem het om in die sand tussen die skulpe te speel en piepklein vissies in die waterpoele te vang.
Dit het vir my ma en pa hul piekniekplek geword, daar teenaan ‘n oorhang-rots. Ongekunsteld en sonder fieterjasies. Twee stoele, ‘n tafeltjie, ‘n bont tafeldoek en ‘n rottangmandjie met verversings. Hulle was twee siele met oneindige liefde vir mekaar.
Soms, net af en toe, het hulle hul liefdesnessie met ander gedeel. Soos met die kleinkinders. Maar ook met die kinders wanneer pa met sy geronde glimlag besluit het vandag is ‘n Kwaaiwater-dag.
Dié strandjie is nie eintlik ‘n swemstrand nie. Dis ‘n skulpie-paradys – bykans die enigste plek in die omgewing waar skulpe en ander goete na vrywil uitspoel en hul eie wonderwêreld vir jou kom wys. ‘n Plek vir wys wees, vir stil wees, vir sê vir jouself jy is eintlik baie oulik.
‘n Plek van vrede, waar rustigheid jou knus en toevou en die harde breek van branders jou wegvoer na jou eie utopia. Jy voel verlate en alleen, klein en groots, dankbaar vir die bruising van die golwe wat aan jou menswees gestalte gee.
Wat my laat dink het aan 25 Julie 1964. My sewende verjaardag. Ek het nie ‘n PlayStation of ‘n video game of ‘n BlackBerry of ‘n iPod of ‘n wiesiewasie present gekry nie. Ek het Die Kamma Storieboek gekry. Hélène de Klerk. Meester van die denkbeelde in ‘n kinderboek.
Daar het ek vir Skillewinkie ontmoet, die wasige kind van die skemerte, die laaitie wat telkens moes keer om die duisternis te oorsteek. Ook vir Jonkheer Forel, die statige vis met wysheid wat geen grense ken nie. En vir Worteltoon, die mafia-boom van die donkerte wat ‘n doolhof vol planne het om van jou mince meat te maak.
In die Hof van die Waterkoning het jy as kind die lewe ontdek, sonder om te dink dis ‘n storieboek wat jy lees. Dit was werklik. Jy was midde-in die boek. Kamma-land of te not.
Ek onthou nog hoe pa met ons gestap het op Hermanus se veel-geroemde cliff path – al die pad van Kwaaiwater af na Grotto Beach. Onder die digte melkhoutbome en effense waterstroompies deur het ‘n sprokieswêreld op sigself vir ons ontvou. Met die sonstrale wat aspaai gespeel het tussen die takke – nou’s dit skemer, dan’s dit lig.
Terwyl ons stap, het pa vir ons die fynbos uitgewys. Die kleure, die onopvallende bossies, die reuke, die stekelrige takkies. Gesê dis ons erfenis, ‘n juweel wat vir altyd en altyd bewaar moet word. So asof hy ‘n plantkenner is.
Ons het alles geglo wat hy sê. Want hy was pa en oupa. ‘n Wyse man. ‘n Jonkheer. En ‘n man vir ‘n storie, al was dit soms net ‘n sprokie.
Skuins voor Grotto het pa ‘n plat klippie opgetel. Steek dié in jou sak, het hy vir my gesê, die mooi herinnering van vandag sal jou krag gee vir die dag van môre.
Toe kom die terugslag. Pa is terminaal. Klier, limf en wat nie nog alles nie. ‘n Boggerop. En pa gaan by die dag agteruit.
Maar pa wil steeds Kwaaiwater toe. So ons vat hom. Twee stoele en ‘n tafeltie en ‘n piekniekmandjie. Vonkelwyn, cheers! En pa kyk uit oor die see, sien die skulpies en klippertjies en stinkende rooi aas en sê: dis hemels! En hy drink daai vonkel met ‘n smak van die lippe asof dit die laaste druppeltjie voggies ooit sal wees.
Pa se oë is skemer, dit raak-raak aan die donkerte. Hy kyk op, diep die ligblou lug in. Hy vang kamma-kamma ‘n seevoël.
En toe is pa weg – onder wit klippertjies in Onrusrivier se begraafplaas.
Jare later sit ek weer daar onder die oorhang-rots. Net ek, voel dit vir my. Sonder pa of die stoele of die tafeltjie. Plat-gat op die sand. Maar helaas, ek is nie alleen nie. My beste vriend sit neffens my. Ek het hom die hemel kom wys.
Want hy het vandag, nes pa destyds, gehoor hy is onoorkombaar siek. Minder as ‘n jaar, sê die onkoloog, sy voorsien nie behandeling nie, net verligting.
Ons sit daar op die spierwit sand sonder om te praat. Ons kyk hoe die magtige branders teen die rotse breek, hoor seevoëls van iewers af skree, sien hoe klein-klein skulp-krappies uit hul gaatjies kruip wanneer die skuimwater teruggesluk word.
Ek vat ‘n plat, langwerpige, wit spoelklippie raak. Hier, sê ek, steek dit in jou sak. Laat dit jou rots wees vir die dag van môre. En jou sterk maak vir al die dae daarna.
Die skemerte sit in sy glimlag, die donkerte in sy oë. Want hy weet hierdie is nie ‘n sprokie nie. Hy is nie ‘n Skillewinkie nie.
Minder as ‘n jaar. Hierdie keer sit ek regtig alleen. Kwaaiwater se branders raas en blaas en maak vulkaan teen die groot klippe aan die rant van die see. Dit breek en knars en klap teen die grou graniet wat nie pad wil gee nie.
Ek sit met die plat, langwerpige spoelklippie in my hand. Nie meer wit nie, maar swart gevat van uithou en aanhou en hoop en glo. Soos in worry beads – van hand tot hand gewissel in die geloof dat ‘n sprokie dalk tog eendag waar sal word.
Dit het nie.
Die donkerte het uiteindelik die skemer oorwin. Die klippie was ‘n klippie, nie ‘n rots of ‘n krag vir ‘n ander dag nie. Maar snaaks genoeg, vandag loop ek met daai einste klippie én my pa s’n in my sak rond. Kwaaiwater kan maar grom – daar is sonstrale wat deur die melkhoutbome kom.