Branders: Varswater
2012-02-09 11:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit is seker nie lojaal of geskik of geloofwaardig om ‘n blog te blog oor ‘n ander man se blog nie. Stem saam. Maar iewers tussen die bruisende opdrifsels vanuit die see se golwe moet daar tog ‘n ietsie waardevols uitkom, al is dit net ‘n knopie van ‘n hemp wat ‘n vervalle seevaarder destyds aan’t lyf gehad het toe sy skip rotse toe is. By wyse van spreke.
Ja, ek lees ook Gay Oog. Van boksies en ‘n plaashek en ‘n ode (of is sit nou ‘n antwoord?) aan ‘n prof.
Van anties en ooms en volgelinge en trawante en Bybel-slaners wat kennelik maak of hulle almal meesters is as dit kom by die human kind.
Ek verwonder my soms. Oor leë hande waarin daar nie ‘n beduidenis is van lewe nie. Of van gee nie. Nevermaaind omgee.
Ek verwonder my aan die kommentare en reaksies en kritiek en growwe tirades van mense wat dink hulle is “just it”. Dieselfde mense oor en oor, met dieselfde belustige propaganda waaruit – klaarblyklik – hul heelal bestaan.
‘n Mens kan nie anders as om ‘n sakdoek te gaan soek nie, of ‘n stukkie toiletpapier. Die trane is meer as wat die wange kan dra.
Uiteindelik is die trane die wange nie werd nie. Want dit gaan oor veel meer as die Ou Testament of die Nuwe Testament of die Koran of wat dominee laas week van die preekstoel af beduie het of wat jy in die een of ander tydskrif of wonderboek met “oortuigende” navorsing gelees het. Of oor teksversies en Bybelstudie en godsdienstige trivia. Dit gaan oor vel, been en siel. En bowenal, die hartland. Menswees. En by menswees kan jy nie ‘n hart of ‘n long of ‘n stukkie lewer vervang net omdat jy nie daarvan hou nie.
Dit gaan oor ek. Die eie ek. En oor die hand van Liewe Jesus wat oor jou voorkop streel en jou hare deurmekaar vroetel en vir jou sê: Jy’s OK. Ek’s lief vir jou. Kom lê in my arms nes jy is.
Hierdie ek het 24 jaar lank saam met ene Mike van der Merwe gebly en gewoon. Ons was onafskeidbaar. Paarties saam gegooi, vakansies saam geniet, wêrelde saam verken. Saam ge-Bybel, gebede gedeel, ge-dankie vir elke bordjie kos op die tafel. Geleef met ons hande in Syne. Ons saamwees was onomkeerbaar. Tot met Mike se dood.
Ons ware vriende staan vandag nog paalvars in ons midde: mense met uiteenlopende beskouinge van die lewe, maar mense wie se hande daar is wanneer jy regtig ‘n hand nodig het. Mense wat God se hande groot en oop ervaar, mense wat nie bang is om Sy én hulle hande in joune te sit en onbevooroordeeld hierdie sielvolle kameraadskap met jou te deel nie.
Nou kom antie of oom So-en-so en klap Die Bybel voor jou neer. Julle is (was) ‘n gruwel in die oë van die Here! word beweer. Julle boksie stink!
Ja oom, ons gruwel was geluk, ons was lief vir mekaar, ons was nie kerkmense nie, maar ons was (is) gelowig, ons bid, ons praat, ons steek ons hande in liefde uit na die Oom daar bo. En Hy praat met ons. En ons met Hom. Steeds, al is ons nou net een.
Ek gooi nie graag profetiese kaarte op ‘n tafel nie. Ek hou nie die Joker geheim nie. Maar ek joke nie wanneer die goddelike liefde die kaarte van die tafel afvee en as wenner bo uittroon nie.
Toemaar, ek is nie heeltemal ‘n paloeka nie. Ek het ook, soos so baie ander kundige onkundiges, Bybelkunde en iets dergeliks geswot en bespied en beredeneer. Nie omdat Bybelkunde as vak vir my as sodanig in my toekomstige joernalistieke loopbaan van ‘n aller-wysheid sou voorsien nie, maar omdat ek wou. Ek wou vir een keer in my lewe agter die kap van die rêrige menswees en die sin van die liefde kom. Punt.
Daar was die meer-as-reguit Bybelkunde-dosent. Pietertjie. Wat met ‘n wa-vrag antwoordstelle onder die arm die lesinglokaal binne gestap het met die sarkasme vlak in sy stem: “Salig is hulle wat min verwag, want hulle sal nie teleurgestel word nie.”
Prof. Pieter de Villiers. ‘n Fyn man. ‘n Skerp man. ‘n Man wat twee antwoorde gehad het op een vraag wat jy gevra het. ‘n Soort enigma in eie reg.
Ek en Pietertjie het gekliek. Ons het in sy kantoor ‘n mondeling gedoen omdat ek ‘n blanc gestrike het met my finale eksamen. En daarna het ons gesels, openlik, oor God en die Here en die Seun en al daardie dinge wat Bybelkunde jou niks van leer nie.
En Pietertjie het opgestaan van agter sy lessenaar. En vir my gesê: Daar is niks groter as God se liefde nie, Sy liefde is die somtotaal van jou lewe. En as jy daardie liefde kan deel met iemand, maak nie saak met wie nie, het jy jou roeping as mens gevind. Bybelkunde of te not.
Ek het ook opgestaan. Ek wou sy hand vat. Ek wou iets sê. Maar prof. De Villiers het my voorgespring. Gaan, het hy gesê, gaan wys vir almal wat liefde is. Gaan oorrompel die bose en gryp die mooi en maak jou hart oop en laat die liewe Here én jou geliefde binne en saam sal julle die sonskyn sien. Die ewige lig wat vir almal beskore is.
Pietertjie was nie ‘n prediker nie. Hy was nie ‘n kansel-man nie. Hy was nie ‘n Ou of Nuwe Testamentiese propagandis nie. Sy praat het uit sy hart gekom. ‘n Godsman met ‘n ongelooflike vorentoe visie.
Wat my, te midde van al die polemiek vanuit gesiene kringe en hoogs gekwalifiseerde mense, gisteraand die lang tog laat aanpak het om weer vir ‘n slag na die ellelange Schindler’s List te kyk. Wat my weer eens laat besef het hoe klein ‘n mens eintlik op hierdie grootse aarde is. Nie eens ‘n spikkeltjie op die aardbol nie.
Wat my bowenal opnuut van die grootsheid van die liefde laat besef het. Mr. Schindler se lys was nie net daar om 1 200 Jode van ‘n helse ondergang te red nie. Of om sy fabriek aan die gang te hou nie. Daai lys is stiptelik met liefde saamgestel – dalk te min, maar steeds ‘n oorwinning vir wat menswees regtig is.
Lyk my baie mense hou van rondtrap en spartel in brak water, hou van die sout op hul lippe en koffie wat proe asof ‘n snoek sy vinne in hul koffiebekers kom uitspoel het.
Dan is daar dié wat van vars water hou. Nie botteltjie-water nie. Vars water, wat jy bakhand skeutjies vol kan drink en met oorgawe kan sê: my dors is geles.