Branders: Vriendelike vriende

2012-09-12 12:46

Vriendskap is ‘n mooi woord vir saamwees. Vir: ek hou van jou. Vir: jy is my beste maatjie. Vir handevat en sê: ek stap saam met jou waar jy ook al stap. Ek sal jou nooit bedonner nie, ek sal jou nooit onkant met ‘n slagtersmes lem nie, ek sal my oë oophou en jou betyds waarsku wanneer ek ‘n slaggat raaksien.

Vriendskap is ‘n vrome woord om op ‘n nié-erotiese manier te sê ek is lief vir jou, jy is deel van my binneste, deel van my lewe, deel van my bestaan wat ek as heilig koester. Jy is ek, ek is jy. Ons is saam.

Vriendskap is ‘n unieke woord, jy kan dit nie net hier en daar rondgooi tussen tientalle ander woorde en glo dié verwoorde heiligdom gaan ‘n tempel word nie.

Hoekom nie? Dis só maklik om te verduidelik.

Hello my vriend, hoe gaan dit met jou? Lekker dankie, self? Stil man, stil, ons moet een of ander tyd weer saam kuier. Een of ander tyd wat nooit vergestalt nie.

Of: Jis-jis-jis! Hoe lyk dinge, my ou pêl? Nee, man, geen klagtes nie. Ek is wel byna in my moer in met my skuld en die black listings, maar ek hou Saterdag ‘n bring-en-braai. Is jy in? Agge wat, wee' jy, my seun speel laatmiddag rugby en my vrou help laat-aand met ‘n fondsinsameling vir die ouetehuis. Dalk ‘n ander dag? Die ander dag word ‘n jaar later net nóg ‘n ander dag.

Of: Ek kom later vandag by jou ‘n draai maak. Dan drink ons ‘n whisky saam. Maar ‘n Kaapse draai kan wyd en ver en van die pad af gaan veral as jy nie jou GPS behoorlik ingestel het nie. Die whisky staan nog bottel-toe, die ys het al gesmelt.

Vriende deur dik en dun, word gesê. Maar hoe dunner die belt om jou lyf span, hoe minder die vriende. Of die liefde. Snaaks, né? Of dalk juis nié so snaaks nie…

Adam Small skryf in Kanna hy kô hys toe oor vriendskaplike liefde: “Dis ‘n verhaal hierdie van die eenvoudiges, die eenvoudigstes, die armes wat altyd daar sal wees. Áltyd – en ook die verhaal van een wat hulle lief het.”

Maar wie van ons gooi nog liefde en vriendskap saam in ‘n prutpot? Wie gee vandag nog ‘n dêm om of Kanna hys toe kom?

Van kleins af, deur my hele lewe (en ek is nie meer ‘n baba-mossie op ‘n telefoondraad langs ‘n teerpad nie), was vriendskap vir my ‘n anker waar rondom my menswees gedy het. Die wete dat jy deur rowwe breekslae dwarsdeur woeste waters voet aan wal kan sit en weet jou skip is veilig in die kalmte van ‘n rustige hawe.

Só het ek deur die jare die boesems (lees: boesemvriende) ná aan my hart nader gesleep deur hoogwater en ‘n bruisende gety en hulle tuis probeer maak daar in die waters waar daar rus is. Waar ek ek kon wees, maak nie saak wie en wat ek is nie, daar waar ons saam die seile kon laat sak en langs die kaai mekaar kon omhels met ‘n oorvloedige liefde – nié verliefdheid nie.

Daars my alma mater-vriend van standerd ses af, saam met my deur die gate en spelonke van skoolwees, saam met my deur die PW-weermag van klouter en krap en krom staan om gekafoefel te word, saam varsity toe, saam by Die Matie aan Stellenbosch in die hoop dat jy ook daar ‘n veilige verskil sou kon maak.

Saam met midder-in-die-nag-in mede-studente wat in die geheim met liefdevolle vriende vanuit die Wes-Kaap rooiwyn gedrink het en gedroom het van ‘n beter Suid-Afrika. Die reënboog alewig in ons agterkop.

Saam met verskillende mense met verskillende idees en verskillende opvattings wat desondanks ‘n tissue gereed gehad het as die vriendskapsoomblik vir jou te veel geraak het.

Waar's hulle vandag? Waar is al dié vriendskappe heen? Wat is liefde nou eintlik?

Liefde en vriendskap is ‘n kostannie toentertyd by Beeld in Johannesburg se canteen wat agterkom dis jou eerste platsak-maand as verslaggewer en jy drink net kraanwater en sit en blaai maar deur die ou koerante. En, terwyl daar vis en skyfies op die spyskaart is, skree sy kombuis toe “een fees-ete met cheeps, en hurry, die cheeps word koud!” Vir my. Verniet.

“Seestog,” sê sy vir my. “Gaan dit swaar?”  Ek sê niks. Sy sit haar arm om my bo-lyf en druk die hel uit my uit. “Moenie worry nie,” sê sy. “Ek sal vir jou sôrre.”

Sal ek haar ooit vergeet?  Ek het byna nie ‘n sent op my naam gehad nie. En sy het geweet. En nooit weer gepraat oor al die ander borde kos wat sy suutjies-suutjies vir my aangedra het nie.

Liefde en vriendskap is ‘n pa wat lank terug, toe my baie fênsie hoërskool-baaisiekel gesteel is, sy eie opgekrokte, horing-oue dikwiel delivery bike tydsaam en met presisie herstel en reggemaak het sodat ek weer wiele kon hê.

Die pa van liefde wat ná aan sy sterfte weens kanker vir sy vrou, kinders, kleinkinders en aangetroudenes koebaai gesê en beklemtoon het: Ian se vriend, al is hy ook ‘n man, is deel van ons familie. Hy ís familie. “Wees lief vir hom.”

Liefde en vriendskap is ook ‘n eens vreemdeling wat as rekenmeester eintlik net veronderstel was om state en statistiek en SARS-dokumente vir ons te voltooi, maar met ‘n boorpunt van toegeneëndheid en omgee en gevoelvolle deursigtigheid deurgedring het na die kern van hart-tot-hart-wees.

Tot vandag toe is sy daar. Al die pad, indien nodig, van Malmesbury af: ‘n krans wat nie gaan val nie, ‘n rots wat nie beweeg nie. ‘n Verskansing van veiligheid en ‘n “moenie worry nie, ek sal vir julle sôrre!”

Liefde en vriendskap is helaas ook – verskoon my, ek bedoel dit baie mooi – ‘n ander “ongekunstelde” vrou wat ons leer ken het – met ‘n baie groot hart wat op ‘n middag huiswaarts kom en vra mag sy maar die nagmaal aan ons bedien. Sy kom met rooi- of soetwyn, ek kan nie onthou nie, sy sit op haar knieë op die sitkamermat, sy vat my vriend se maer, vellerige  handjies in hare en sy praat met hom asof sy nog nooit gepraat het nie. Stil, sag, meelewend. Sy dwing nie godsdiens of geloof aan hom op nie, sy gooi nie Die Bybel of Die Koran of anderlike klippe teen sy kop nie. Ons praat oop-kop (verskoon die pun) oor sy kanker wat van sy longe af brein toe versprei het.
Sy breek die broodrolletjie wat sy saamgebring het. Sy gooi die wyn in ons klein-klein glasies. Sy gee vir ons en vir haarself. Sy maak haar oë toe. Sy bid, maar dis nie ‘n gebed nie. Dis ‘n gesprek. Sag, bitter sag. My en my kanker-vriend se oë word water.

Vriendskap en liefde. ‘n Om-arming, ‘n beskrywinglose lyf-gevoel van jy het in my binneste groot geword soos ‘n baba in ‘n opkomende mamma se maag. Ons is saam.

Dankie, baie dankie.

By die begrafnis bondel al die vriende saam. Dié van vér af het e-posse, SMS’e en kaartjies met wyse woorde gestuur. En gevra dat ek blomme namens hulle op die kis moes gooi.

Gegooi, het ek. Ook toegegooi. ‘n Graaf het vir my ‘n nuwe betekenis gekry. Dalk moet ek ‘n skopgraaf teen my muur in die sitkamer ophang?

Deur die waas van daardie middag onthou ek die gesigte: meestal bekendes, hier en daar iemand wie ek nie geken het nie.

Maar snaaks, byna al daardie gesigte het verdwyn saam met die karre wat die pad gevat het ná die begrafnis. Ek het die meeste van hulle nooit weer gesien nie. Die e-posse, SMS’e, telefoonoproepe en kaartjies het opgedroog. Selfs ons (my/sy) beste vriende het stom geword in die suiderwind.

Vriendelike vriende. So baie, so min.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 18-24°C Morning clouds. Mild. Pta: 11-26°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 11-20°C Sunny. Mild. Bfn: 9-24°C Sunny. Mild.
Dbn: 17-28°C Afternoon clouds. Warm. PE: 15-22°C Showers late. Afternoon clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!