Branders: Wonder oor wonder

2012-09-05 10:01

Wonder, (w), met ‘n mate van twyfel of verwondering dink, peins, aanskou; met verbasing toekyk, beskou; nuuskierig wees. – Verklarende Afrikaanse Woordeboek.
 
***
 
Ek wonder soms oor die wonder van verwondering. Nie dat wonder noodwendig ‘n goeie of slegte ding op sigself is nie. Dis ‘n geheue-happie, ‘n seldsame, soms heimlike kol in jou brein wat eens hol en leeg en dalk selfs dood was en toe, skielik, opeens, koers beginne inslaan het.
 
Soos in: is die sprankelende Hermanus nou regtig vir my ‘n tuiste? Is die sogenaamde skone Kaap inderdaad vir my ‘n herberg? Is die reënboog-vervulde Suid-Afrika nog enigsins vir my ‘n lêplek?
 
Of raak die lê en die plek al ‘n bietjie skraps en aan die klein kant? Ek wonder maar net.
 
Dis die Olimpiese Spele. Ek's vir die eerste keer in Londen. In ‘n klein, smal, regop, lae-klas hotelletjie met ‘n venster wat uitkyk op dakke en skoorstene en geute waarin onkruid gedy. My kamer gevul met bare essentials en ‘n lendelam stortdeur wat nie dig kan sluit nie.
 
Dis ‘n natterige gemors as jy klaar gewater en gewas het. Muf hang soos verspoelde deodorant klammig in die lug. Jou beddegoed lyk soos ‘n pislelie wat iewers in die nag ontwaak en begin lek en voelers herwaarts en derwaarts uitgesteek het. Niks ruik vars nie. Daars ‘n nattigheid wat jou klere aanhang.
 
Af met die smal trappe, drie maal platvloers om op grondvlak uit te kom. Verder af om ondergronds by die breakfast nook uit te kom vir jou gratis, tradisionele Engelse ontbyt. All included with your stay in our lovely upmarket vintage hotel, soos die brosjure gesê het.
 
Vierkantige tafeltjies met beblomde plêstiek oortreksels vir tafeldoeke. Plêstiek messe en vurke. Plêstiek sout- en peperpotjies, deur baie hande al swart gevat so om die kraag langs. En plêstiek koeldrankglasies met plêstiek blommetjies waarop menige vlieë al male sonder tal kaspaai gespeel het.
 
English. Twee papperige, in ru-olie omsoomde, gebakte eiers met die wit drillerig op die bord en die slapgat geel wat wil-wil weghardloop. Twee repies spek, só crisp lat jy wil vra vir ‘n steak-mes. Twee snye toast, lankal klaar getoast, wagtend op die bietjie smeersel op tafel om van die dorheid ontslae te raak. En waterige marmelade  om jou palet aan die gang te kry.
 
“Any cheese, perhaps?” Stilte. Die uncle en die aunty was skottelgoed. Hulle sukkel om die loop-eiers van die vorige borde afgewas te kry.
 
“C-h-e-e-s-e? Anybody?” Uiteindelik kom die aunty met ‘n dik lip en ‘n ou, geroeste metaalrasper en ‘n stukkie kaas en goer-goer die kaasskaafsels oor my brood. “There!” sê sy en loop terug opwasbak toe. “Thanks!” sou op dowe ore geval het.
 
Die stad omvou my in sy vroeg-oggend mistigheid. Rooi busse en swart taxi’s skater by my verby. Grys ooms in grys pakke met grys dasse en grys jasse (al is dit somer) wriemel met aktetasse sypaadjie-langs op pad Underground toe. ‘n Punkerige seun met kettings om sy onderlyf rook ‘n sigaretjie en sê “hey!” met die verbyloopslag. Ek sê ook maar “hey!” en loop my byna kediks vas teen ‘n groot auntie wat met ‘n klomp plastieksakke by Marks and Spencer se hoofingang uitsteier.
 
Die outomatiese skuifdeure van dié kettingwinkel bly vir eers oop, asof hulle geskrik het vir die swaarbelaaide tante. So, ek stap maar in en my oë vlieg rond in hierdie veel groter wonder van die Woollies wat ons in die tuisland het.
 
Ek stap, kyk en verwonder my aan die vormlose vormdrag wat hierdie omvattende winkel uitstal. Niks wat ek sommer-sommer aan my lyf sal wil trek nie. By die mansafdeling herinner die onderbroeke my aan die skuifbare tente in Onrus se karavaanpark op Hermanus: lekker los, grootwaarts en gemaklik om in te roer. En moenie die sloppie kort- en langbroeke uit jou verwondering haal nie: sulke pap nommertjies wat selfs vir my punkerig sal laat lyk.
 
Soos ek aanstap, sien ek bra’s. Groot, gevulde, opgestopte bra’s. Met talle tierlantyntjies. Lynreg vir ‘n mamma-beer se boesem. En talle vierkantige, bont-spatsel jakkies waarmee hulle Matrone van 7de Laan ‘n splinternuwe wardrobe sou kon gee.
 
Nodeloos om te sê: ek vlug buitentoe. “Hey!” sê die punk, besig met sy tweede sigaretjie. “Going somewhere?”
 
O shit!, dink ek. Word ek opgetel of opgeraap? Ek beduie vervaard dié kant toe, daar waar die Spele veronderstel is om vanoggend al af te geskop het. En ek is laat, kaartjies in my baadjiesak.
 
“Hey”, sê Punk en slaan sy arm om my lyf. “I’ll show you the real Olimpics. First time in London? I’ll show you.”
 
Ek voel ‘n bietjie verwese, onseker. Bietjie bang. For God’s sake, dink ek, ek word hier gekaap deur ‘n laaitie vir wie ek ‘n pa kon wees. Maar laaitie vat die oom se hand en ons stap die mistigheid in. “Cigarette?” vra hy. Ek rook nie, maar vat ene net om van my senuwees ontslae te raak. Puff-puff, stap ek voort, aan’t hande van ‘n jong man wat ek glad nie ken of wil ken nie.
 
Die Spele se kaartjies brand hier binne-in my lyf. Maar dis nie waarheen ons op pad is nie. Ek is soos ‘n troll besig om aan kettings rondgelei te word deur Mr Know How, I’ll show you.
 
Ek wonder waarheen?
 
En dan die rêrige wonder. Voor ons doem die grys-geklipte staatskis op. Die St. George’s-katedraal. Punk vat weer my hand en lei my die heiligdom binne. Daars ‘n koor wat sing, daars orrel en daars stilte. Die son wil-wil deurbreek deur die reusagtige gebrandskilderde glas. Die plafon boog opwaarts ten hemele.
 
Punk maak sy oë toe, slaan sy hande saam en staan doodstil terwyl die koue binne die kerk besig is om op te warm. Die orrel dreun skielik deur die grootsheid van die gebou, die koor oefen ‘n aanlê-lopie. Ek maak my oë ook toe, my hand steeds in Punk se hand, en die verwondering van klank en stemme en bewende orrelpype ruk my hart wawyd oop.
 
Voel ek ‘n handdrukkie? wonder ek. Ja. En Punk lei my my teen die smal trappies op boontoe (ondanks my erge hoogtevrees), op, op, nog opper tot heel bo en hy wys my die spectacle van hierdie wonderwerk van hoog bo-af ondertoe wat ek nog nooit voorheen gesien of beleef het nie.
 
“This is far more beautiful than the Olimpics”, sê Punk. “This is worth your while –  when in London – without tickets or ice cream or donuts or funny people with their stupid flags and silly sporting gear. Sorry, but no cigarettes allowed.”
 
Ek maak weer my oë toe. Ek voel hoe ek aftuimel ondertoe, hoe ek met verbasing hierdie grootsheid van onbeskryflikheid ervaar. Tot Punk weer my hand vat en sê: “That’s it. Let’s go.”
 
Terug op die vliegtuig sien ek Kaapstad ontvou. Bellville, Parow, Mitchell’s Plain, die Vlakte, die gehuggies, die mier-mensies wat besig is om water na hul skuilings aan te dra.
 
Geen Engelse ontbyt of ‘n Marks and Spencer of ‘n Woollies vir hulle nie. Net ‘n kleitrap in die modder rondom ‘n lekkende kraan.
 
Ek sien ook die blink-gekoepelde tempels en spitsdak-kerke wat tussendeur hierdie aalmoes-gemors hul stemme probeer uitreik en hoop om te sê: “This is it. This is worth your while.”
 
Ek voel weer Punk se hand in myne. Ek verwonder my opnuut aan sy gevoelvolle medemenslikheid. Eks so spyt hy is nie saam met my hier nie.
 
Want ek sou so graag vir hom die wonderwêreld van Hermanus wou wys, die wonderwyse nageslag-oudhede wat van die Kaap die Kaap maak, die wonderlike reënboog wat oor Suid-Afrika skyn.
 
Ek dink aan en wonder oor Punk. Sigaretjie in die hand.
 

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-19°C Sunny. Mild. Pta: 12-30°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 12-26°C Sunny. Pleasantly warm. Bfn: 13-30°C High level clouds. Pleasantly warm.
Dbn: 18-33°C More sun than clouds. Hot. PE: 12-21°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!