Die vet weet: Daar’s baie erger dinge as verkeerd eet

2012-08-29 11:43

Die afgelope week was weer nie ’n goeie week nie. Nie soseer wat dieet betref nie, want ek staan darem nou op 102 kg - dus 400 gram af van laas week af.

Jammer as ek dus nou nie regtig oor my dieet gaan skryf nie, maar daar is iets wat ek van my hart af moet kry. Daar is baie erger dinge in die lewe as dat jy ’n steak & kidney pie vir lunch geëet het

My huiswerker, Minah, het borskanker. Die meeste mense weet seker staatshospitale is useless, maar ek het dit die laaste paar maande met groot frustrasie gevoel.

Staatshospitale se personeel - verpleërs en dokters - kommunikeer nie met die pasiënte nie.

Toe Minah twee maande gelede ’n mastektomie gehad het waarin haar linkerbors en die aangrensende kliere onder haar arm verwyder is, het ek haar in Natalspruit-hospitaal in Katlehong naby Germiston gaan besoek. Toe ek die suster uitvra oor die operasie en moontlike opvolgbehandeling, het sy bot gesê: "I am not at liberty to discuss a patient with you."

Maar blykbaar is niemand by die hospitaal ook "at liberty" om haar toestand met die pasiënt self te bespreek nie. Sy is nooit behoorlik ingelig oor wat met haar liggaam aangaan nie.

Toe Minah twee weke gelede terugkom werk toe, het sy die laboratorium- en doktersverslag saamgebring dat ek daarna kan kyk. Dit was so Grieks soos statistiek op universiteit vir my was; ek kon bitter min daarvan verstaan. Beeld se mediese verslaggewer het vir my verduidelik dis fase 3-kanker, want beteken dit het na die omliggende weefsel versprei. En dat die gewas 16 cm in omtrek was!

In die verslag staan ook: "The patient was advised to have neoadjuvant chemotherapy first but opted to have surgery. A modified radical mastectomy was done." Minah sê sy is nooit die opsie van vooraf-chemo gegee nie. Of dalk het die dokter dit net nooit in verstaanbare taal aan haar verduidelik nie!

Luidens die verslag het die gewas 1 531,5 g geweeg. Dit was ook 168 x 45 x 35 mm groot. Dan staan daar ook onder "Clinical details": "A 42 year old female patient with a long standing history of a left breast mass." Sy het die eerste keer ’n knop gevoel in November verlede jaar, en toe het die suster by die kliniek vr haar gesê sy moenie bekommerd wees nie, dis nie kanker nie. Sy was nog ’n keer daar en het die vrees teenoor my uitgespreek dat dit kanker kan wees, maar sy kon nie verstaan wat die personeel vir haar sê nie. Toe ek daardie verslag uiteindelik in Junie sien, het daar iets gestaan van "abnormal cells". Toe sê ek vir haar sy móét terúggaan kliniek toe. Toe doen hulle ’n biopsie, dis kanker, en binne twee weke moet sy gaan vir die mastektomie. Van November tot 7 Julie, dus. Is dit "a long-standing history"? As hulle geweet het dit kan kwaadaardig wees, hoekom het hulle dit nie vroeër behoorlik aan haar gekommunikeer nie?

Gister het ek saam met haar die dokter gaan sien. Minah was al halfagt by die hospitaal, waar sy in ’n tou moes sit om haar lêer te kry. Ek het halftien opgedaag, want sy wou nie hê ek moet onnodig lank sit nie. Uiteindelik het sy haar lêer 11:20 gekry. Toe sit ons in die tou om die dokter te sien, op sulke harde houtbankies wat al blink gesit is deur al die honderde mense wat elke dag daar sit en wag.

Etenstyd het ek vir ons iets gaan kry om te eet, en al wat die kantien by die hospitaal het, is toebroodjies met goed soos polonie en sulke pienkerige tamatiesous. Toe gaan koop ek maar vleispasteie oorkant die pad by ’n King Pie. Gesonde kos is ’n luukse daar, lyk dit my.

Eers 14:20 kry ons toe uiteindelik die dokter te sien. En toe skel hy haar omdat sy veronderstel was om al verlede Woensdag by die borskliniek by Baragwanath-hospitaal te gewees het. Nie op ’n onvriendelike manier nie. Maar sy het Woensdag regtig nie goed gevoel nie; sy het erge pyn in haar heup en bene gehad.

Ek het ’n lys vrae saamgeneem wat ek op Reach for Recovery se webwerf gekry het. Baie goed uiteengesit in verstaanbare taal sodat ’n pasiënt die dokter alles kan vra wat haar kwel. Dit het vir my gevoel die dokter dink ek is ’n indringer, ek matig my aan om sy kosbare tyd te kom mors. Hy sê hy het alles reeds mooi vir haar verduidelik.

Maar wanneer ek haar gevra by die huis het wat sê hy, kon ek agterkom sy verstaan nie. Ek dink nou nie ek is die slimste mens op aarde nie, maar as iemand met ’n universiteitskwalifikasie nie daai taal kan verstaan nie, hoe moet iemand met net standerd 8 dit doen?

Minah het beter gevoel nadat die dokter die vloeistof uit haar bors gedreineer het - omtrent drie koppies vol! - want die drukking was minder. Die slegte nuus is die pyn in haar bene (bones, nie legs nie) kan beteken die kanker het intussen vererger na fase 4. Die dokter is ook bekommerd oor haar longe. As ek nie vir hom gevra het om vir haar iets voor te skryf sodat sy minstens minder pyn het totdat die mense by die borskliniek by Baragwanath-hospitaal kan vasstel wat die probleem is nie, sou sy seker weer met net Panado huis toe gegaan het. Soos sy gekry het ná die operasie.

En toe gaan sit ons vir nog ’n halfuur in die ry by die hospitaal-apteek om die pille te kry.

Hierdie vrou beteken vir my die wêreld. Sy is veel meer as net ’n huiswerker; sy is my vriendin. Sy het by my en my verloofde gestaan toe ons deur geweldige trauma is twee en ’n half jaar gelede. Sy het drie kinders wat sy alleen moet grootmaak, van wie die jongste maar nege jaar oud is. Ek kan probeer help, maar ek is nie ’n miljoenêr nie. Ek is so bang sy maak dit nie. Ek is so bang sy het verskriklik pyn. Ek is so bang sy moet weer in ’n staatshospitaal gaan lê.

Dis hoekom ek sê: Daar is baie erger dinge as om een dag verkeerd te eet.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
9 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-21°C Sunny. Mild. Pta: 1-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 3-15°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 1-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 14-21°C Mostly sunny. Cool. PE: 8-18°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!