Die vet weet: Trauma kan vet maak (2)

2012-10-10 11:49

Twee jaar en vyf maande. Dis hoe lank ek al met die wrok in my hart rondloop. Klink seker ’n bietjie psycho, nè. So ’n lang tyd, en steeds kan ek nie vergewe en vergeet nie.

Dis net ’n bietjie korter as wat my beste vriendin se dogtertjie oud is.

Ek wens ek kan weer so onbevange vrolik en uitbundig wees soos ’n kind van daardie ouderdom. “Kyk, Dadda, dis ’n driehoek!”

So entoesiasties oor absoluut alles soos *Gary se oudste dogtertjie, *Annie. So vreesloos oor die lewe soos Gary se jongste, *Camelia, is. Was. Miskien steeds is. Spring van die boonste trap af sonder om ’n oomblik te huiwer. Ek en Gary het het hulle twee jaar en vyf maande laas gesien. En ons weet nie of ons hulle ooit weer gaan sien nie. En die ergste van alles: Ons weet nie presies wat met hulle gebeur het nie.

As jy maklik ontsteld raak, moet asseblief nie die volgende paragraaf lees nie.

Annie het blykbaar vir die ondersoekbeampte, konstabel Dludlu, gesê: "Daddy put a black horn up my bum." En toe herhaal Camelia dit woordeliks net so. Daar is verklarings - kleintjies herhaal dikwels wat hul ouer sibbe sê. En kinders beskuldig dikwels die mens naaste aan hulle van ’n wandaad omdat hulle te bang is vir die mens wat hulle eintlik regtig seergemaak het.

Soms wens ek ek kon ’n stuk uit my brein laat uitsny sodat ek die hele 2010 kan vergeet.

Dit gaan darem al heelwat beter. In Augustus 2010 wou ek nie meer leef nie.

In daardie stadium was my geliefde Gary al drie maande in die tronk. Dit was onmoontlik om te weet hoe lank hy nog daar sou moes sit. Ek kon my geen lig aan die einde van die tonnel indink nie, want ek het nie geweet hoe lank die tonnel nog gaan aanhou nie. As mens ’n tyd aan iets kan koppel, kan jy selfs moeilike omstandighede hanteer. As jy weet dit gaan een of ander tyd verby wees. Maar as dit selfs net nog (!) drie maande moes voortduur, sou ek dit nie oorleef het nie. Letterlik. Ek het aanhoudend gehuil, kon nie konsentreer nie, kon nie ’n sinvolle gesprek voer nie. Wou nie meer leef nie. En toe beland ek in die hospitaal vir nege dae.

Omdat die ratte van ons land se (on)regstelsel so onbehoorlik langsaam draai, duur dit maande, selfs jare, indien enigsins, voordat iemand borgtog kry wanneer hulle van ’n skedule 6-oortreding aangekla word. Want jy moet buitengewone omstandighede aan die hof kan bewys oor hoekom jy borgtog behoort te kry. Aanhoudende selfmoordgedagtes tel blykbaar nie as buitengewone omstandighede nie.

Die aanklaer in Gary se saak het die landdros selfs oortuig dat dit ’n las op Gary se familie sou wees om hom borgtog te gee, en dat hy "veiliger" was in die tronk, met tussen 80 en 100 gevangenis op enige gegewe oomblik in ’n sel wat vir 40 bedoel is. Waar gevangenes op die bed langs jou verkrag word, of vrywillig seks het in ruil vir kos. Al beteken dit hulle kry ook die MI-virus present. Waar Gary ’n matras moes deel met ’n selferkende Satanis omdat daar gewoon te min slaapplek vir al die gevangenes in een sel is. Waar jy dit amper nie eens kan waag om jou etes te gaan haal nie, anders raak jou persoonlike besittings weg. Waar sommige bewaarders jou sommer aanmoedig om jou eie lewe te neem, want "dan is daar ten minste een gevangene minder".

Konstabel Dludlu het mos gesê dit kan tot drie jaar duur voordat die saak afgehandel is.

My ma, my beste vriendin, my terapeut en my nuwe psigiater het my almal aangeraai om weg te loop van die omstandighede. Om voort te gaan met my lewe. (Asof niks gebeur het nie?) Hoe kon ek?

Gary het uiteindelik vyf en ’n half maande in die Diepkloof-tronk deurgebring. Sun City, soos dit eufemisties genoem word. Deesdae verwys ons daarna as sy vakansie op staatskoste. As mens nie met sulke dinge spot nie, duur die pyn te lank voort.

Terwyl hy “weg” was, het ek mense so ver moontlik vermy. Ek kon dit nie regkry om oor ditjies en datjies met my kollegas te gesels nie. Ligsinnige grappies het my net depressiewer gemaak. Later raak mens gewoond aan die spreekwoordelike swaar rots op jou hart en leef daarmee saam. Elke nag ’n afspraak met die ongenaakbare eensaamheid en my eie meedoënlose gedagtes.

My nuwe psigiater het vir my pille voorgeskryf om die pyn te verdoof. Om net enigsins te kon cope. Om te kon slaap, om soort van te kon konsentreer by die werk. Om nie al die pille tegelyk te drink nie, het wilskrag geverg. Net die gedagte aan my bejaarde ma en die getraumatiseerde Gary in die tronk het my daarvan weerhou.

Verder het ek weer begin rook, elke dag 40 sigarette, en elke aand ’n bottel wyn of etlike sopies whisky geklap. Al het ek gesukkel om geldelik kop bo water te hou sonder Gary se bydrae.

En soms, terwyl ek Dinsdagaande vir Gary kos ingepak het voor besoekdag, het ek ’n hele pak van die koekies opgeëet wat vir hom bedoel was. Eenkeer het ek sommer twee pakke geëet. En ek hou nie eens van soetgoed nie.

Gelukkig het ek ongelooflike ondersteuning van vriende en familie gekry. My een kollega het elke maand vir my katte kos gekoop. ’n Ou universiteitsvriend het vir my hond kos gekoop. Gary se baas het heeltyd bygedra sodat ek elke week vir hom vleis en vars vrugte kon neem. Nog iemand het een maand my selfoonrekening betaal. My beste vriendin het gesorg dat sy my minstens twee keer per week sien. Selfs al wou ek haar nie sien nie. My baas het my werktye só gereël dat ek elke Woensdag kon afkry om vir Gary in die tronk te gaan kuier. Twee van Gary se vriendinne het my een keer per week gebel om my te bemoedig - die een uit Harare; die ander uit Londen. Sy een stiefsuster het my elke Sondag vir middagete genooi. Sy suster het uit die buiteland gekom en ’n week of twee op ’n slag by my kom bly. Sy een broer het letterlik elke keer van Kaapstad af Johannesburg toe gekom wanneer Gary in die hof was. Soms gevlieg, soms heelpad alleen met sy vodde ou bakkie gery.

Dit het my geloof in die mensdom herstel. My geloof (of gebrek daaraan) in ’n god het interessante paaie geloop. Maar dis ’n hele storie op sy eie. Ek sal ’n volgende keer daaroor skryf.

In elk geval, terug na ons "regstelsel".

As jy nie goeie regsverteenwoordiging kan bekostig nie, is jy in jou peetjie. Jy is skuldig totdat jy onskuldig bewys word. As jy geld het. Daar was ’n Zimbabwiër saam met Gary in die sel wat al twee jaar gesit het omdat hy nie sy eie prokureur kon bekostig nie.

Op die Donderdagaand in Mei 2010 wat Gary in hegtenis geneem is, het hy sy toegelate oproep gebruik om sy egskeidingsprokureur gebel. Sy het nie kennis van strafsake gehad nie, so sy het haar man gestuur. Ek was onkundig en naïef en het regtig gehoop Gary kry daardie Maandag al borgtog, dat die "misverstand" gou uitgesorteer sou word. Maar die saak is bloot uitgestel. Ek kan nie eens meer onthou tot wanneer nie. ’n Week later? Twee weke later? Daar gebeur bitter selde iets in so ’n hofsaak wat jou laat voel of daar vordering is. Elke keer word dit net weer uitgestel. Ek wou ’n boek daaroor skryf: The Waiting Game.

Ek het nie veel vertroue in die prokureur gehad nie. Veral nie toe ek van Johannesburg halfpad Krugersdorp toe moes ry om vir hom R5 000 kontant te neem nie - hy wou nie hê ek moet dit elektronies oorbetaal nie. Ek was in so ’n war dat ek nie eens sy motiewe bevraagteken het nie. Gelukkig het ons later ’n veel beter prokureur gekry op aanbeveling van Gary se baas. En toe ’n fantastiese advokaat.

Gary se ouer broer, *William, het omtrent die helfte van die geld wat hy vir ’n huis gespaar het, op Gary se regskoste geblaas. Sy lakoniese kommentaar? "Ag, perhaps I am just not meant to settle down."

Die aand voordat Gary se eerste borgtogaansoek in die hof sou voorkom, was daar ’n berig op eNews oor die Parktownse restaurantbestuurder wat na verwagting die volgende dag om borgtog sou aandoen nadat hy "na bewering sy eie twee dogters verkrag het". Deur Vanessa Govender. "An allegation no mother wants to hear," was haar woorde. Die staat sou die aansoek teenstaan, het sy gesê.

Daar was ’n insetsel van ’n onderhoud met Lynda en die kinders. Natuurlik is hul gesigte nie gewys nie, maar enigiemand wat hulle ken - soos die ouers van Annie en Camelia se kleuterskoolmaatjies - sou onmiddellik kon sien wie dit is en Lynda en Camelia se stemme herken. Klein Camelia het in haar swemklere voor die kamera geparadeer. Arme Annie was tjoepstil. Ek kon duidelik die merke op *Lynda (hul ma) se arm sien waar sy op Oujaarsaand van 2007 probeer selfmoord pleeg het, voor die oë van haar ander, ouer dogter, *Desirée, met ’n superskerp mes wat sy vir Gary vir Kersfees gekoop het. (Lynda moes 350 steke kry. Desi woon sedertdien by haar pa.)

Dit het gevoel of my hele borskas aan die brand slaan terwyl ek na die nuus kyk. So ’n vreemde, lam, aaklige hitte in my hart. Lynda het dus nie net gesorg dat Highveld Stereo ’n berig dra op die oggend nadat Gary in hegtenis geneem is nie, maar ook dat eTV ’n TV-nuusinsetsel het op die dag voordat hy om borgtog aansoek doen. En elke keer het sy sélf haar storie vir die media vertel.

Watter soort mens soek op so ’n manier aandag? Probeer iemand se lewe vernietig, en span sommer jou onskuldige kinders in die proses in?

Mense wat nie die agtergrond ken nie, dink waarskynlik nou ek maak wilde gevolgtrekkings. Maar glo my, dit was alles baie goed beplan.

En die nagmerrie was nog ver van klaar... Volgende week vertel ek verder.

* Skuilname is gebruik.

** Lees Trauma kan vet maak (1) hier.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 14-24°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-22°C Morning clouds. Mild. PE: 12-26°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!