Die vet weet: Trauma kan vet maak (3)

2012-10-16 13:57

Ek haat mood swings. Wens ek kon iets daaraan doen. Soms help die pille net nie.
Vanoggend is my bui so ’n modderbruin. Ek het wakker geword met daai vreemde gevoel in my hart – dit voel tegelyk swaar én asof daar ’n gat in my borskas is. Daai gat wil nie wyk nie. En dan sê sommige mense nog depressie is sommer nonsens – jy moet jouself net regruk!

My krappery in my gedagtes oor die swartste tyd van my lewe het ’n blik wurms oopgemaak. Parktown-prawns, eintlik. Dis veel grusamer.

Verlede week het belowend begin. Ek was in ’n goeie bui, het baie by die huis gedoen gekry, het vrolik gekuier saam met mense wat ek lanklaas gesien het. Ek het verlede Saterdag ’n tatoe op my regterarm gekry om die begin van ’n nuwe, positiewe hoofstuk in my lewe te merk – ’n vreeslike fraai, vroulike Jin-en-Jang-ontwerp in blougroen en pers met fyn paisley-detail. Selfs mense wat nie van tatoeëermerke hou nie, het my gekomplimenteer op die besonderse kunswerk.

Sondagaand het Gary teruggekom van die Zambezi, waarheen sy baas hom vir ’n week lange visvangvakansie geneem het om dankie te sê vir sy harde werk. Dit was heerlik om hom weer by die huis te hê. Die leë plek aan sy kant van die bed was weer gevul.

Die hele week het die halfleë bed my herinner aan die vyf en ’n half maande sonder hom, terwyl hy op staatskoste in Diepkloof "vakansie" gehou het. Ek het, soos in daardie tyd, met vier kussings geslaap om die illusie van ’n lyf te skep. Ek het weer brood en kaas begin eet om daai hol kol te vul. Dit laat my beter voel vir ’n rukkie, en dan voel ek van voor af de dinges in vir myself dat ek besig is om die goeie werk van my dieet ongedaan te maak. Die 15 kg wat ek sedert April vanjaar verloor het.

(As jy nog nie vantevore my blog gelees het nie: My geliefde Gary was in die tronk nadat sy eksvrou, Lynda*, hul twee dogtertjies skynbaar gecoach het om te sê hy het met hulle gelol. Dit het maande gevat voordat hy kon borgtog kry - en uiteindelik is hy bloot vrygelaat omdat die staat nie ’n saak gehad het nie. Geen bewyse van enige aard nie. Zilch. Nada. Ek vloek sommer. As hulle hom langer toegesluit kon hou, sou hulle, glo my. Daar was ’n Zimbabwiër saam met hom in die sel wat al twee jaar daar gesit het, en sy saak is maand ná maand net uitgestel omdat hy nie behoorlike regsverteenwoordiging gehad het nie.)

Dat Gary se baas hom saam op vakansie geneem het, is vir my net nog ’n bewys van Gary se onskuld. Die eienaars van die restaurant waarvoor hy werk, het hom ondersteun van die oomblik dat hy in hegtenis geneem is totdat hy vrygelaat is, en hom weer werk gegee.

Niemand wat Gary ken, het Lynda se bewerings geglo nie. Ek het in daardie tyd nog vier mans ontmoet met wie soortgelyke tragedies gebeur het, onder wie ’n apteker in my buurt, en gehoor van ’n ou universiteitsvriend wat ook onskuldig van molestering beskuldig is. Mense wat ek nog nooit ontmoet het nie, het gebel en e-pos gestuur om my en Gary te ondersteun. Sommige van Lynda se voormalige vriende het selfs gesê dis nie onmoontlik dat sy die kinders sélf met ’n voorwerp gemolesteer en die skuld op hom gepak het nie.

Ek dink die fout wat ek gemaak het, is om weer na daardie eNews-insetsel te gaan kyk wat ek ge-PVR het. Ek het die onnosel gewoonte om myself te straf. Wat my laat dink het ek gaan nie van voor af ontsteld raak nie, weet ek nie.

Ek dink terug aan die dag waarop Gary uiteindelik, onverwags, borgtog gekry het. Dit was Woensdag, 20 Oktober 2010. Sy prokureur en advokaat was reg om te vra dat die borgtogaansoek hooggeregshof toe gaan, en toe hoor ons die staat het skielik besluit om nie meer sy borgtogaansoek teen te staan nie. Blykbaar omdat hul saak nie vreeslik sterk is nie, is gefluister. ’n Datum is egter vasgestel vir die strafsaak – die week van 20 Desember 2010.

My skoonsuster Lila* het my daardie middag gebel om te sê hoe wonderlik dit is dat die waarheid nou begin uitkom. En toe gesê: "Sterkte met die vergifnis-deel."

Nou ja, net sodra jy dink dinge raak nou beter, raak dit slegter. Veel slegter. Die Maandagoggend, die 25ste, is daar ’n polisieman van die Parktown-polisiekantoor by ons hek: Lynda het ’n beskermingsbevel teen Gary verkry.

As ek reg onthou, was dit ongeveer op 17 November 2010 wat hy na die Randburgse hof toe sou gaan om dit te beveg – en Gary het ’n baie goeie saak gehad. Toe laat weet Lynda se advokate ’n paar dae voor die tyd hulle het uitstel gevra.

Iewers in hierdie tyd is die verkragtingsaak in die Johannesburgse landdroshof teen Gary teruggetrek. Voorlopig. Omdat die staat nie kon bewys wié dit was wat dit kinders gemolesteer het nie. Die datum ontgaan my, maar dit was iewers in November 2010.

’n Paar dae later laat weet Gary se prokureur Lynda het ’n saak in die Wes-Kaapse hooggeregshof teen hom aanhangig gemaak. Die hofstukke beslaan meer as 200 bladsye. Nie net haal sy weer die beweerde molestering van Annie en Camelia op nie, sy beweer nou sommer ook hy het háár en haar ouer dogter, Desirée*, aangerand, haar probeer vermoor, Desirée gemolesteer, haar (Lynda) tot alhoholisme en selfmoord gedryf, nie onderhoud betaal nie. Alles wat tot dusver in haar lewe skeefgeloop het, is volgens haar Gary se skuld. Lynda is skynbaar die volmaakte mens; niks is ooit haar skuld nie. Dis ook sy skuld dat Desirée nie meer by haar wil woon nie; trouens, weier om haar te sien. Sê Lynda. Vir geen van hierdie bewerings (lees: versinsels) het sy bewyse nie, maar die dik pak hofdokumente lyk indrukwekkend. Daar is selfs ’n verslag van haar psigiater wat sê hy het haar jare gelede verkeerd gediagnoseer: Sy het nie bipolêre gemoedsversteuring nie, "net" major-depressie.

(Ek noem hierdie feite, want dis immers alles in die hofstukke wat openbare  besit is.)

En les bes, daar is ’n verslag van ’n psigiater by die hofstukke ingesluit waarvolgens die kinders gesê het ék het hulle al twee ook gemolesteer. Ek, Lena.

Toe onthou ek die aand waarop Gary in hegtenis geneem is in Mei 2010, en my telefoongesprek met Lynda waarin ek vir haar gesê het presies wat ek van haar dink. In my woede. En ’n week voor dit wat sy gesê het Gary kan mos nou nóg meer onderhoud betaal (hy het reeds meer as die helfte van sy salaris betaal), want hy woon mos nou saam met my! Toe ek haar vertel het waar sy kan gaan afklim.

En toe besef ek waaroor dit eintlik gaan: wráák.

Dis nou amper twee jaar sedert die saak teen Gary teruggetrek is. Hy het ’n kontrak onderteken waarin hy onderneem om weg te bly van Lynda en die twee kinders totdat hulle meerderjarig is. Hy wou ’n klousule laat insluit dat hy dit bloot doen omdat hy nie geld het om die saak in die Wes-Kaapse hooggeregshof te beveg nie, en omdat daar sielkundig reeds te veel skade aan die kinders aangerig is. Maar met die hulp van Lynda se advokate – en sekerlik haar pa se geld – is Gary geboelie om die dokument nét so te onderteken, anders sou in die hof gesê word alle kommunikasie tussen die partye het onherroeplik verbrokkel. Of so iets. En dan sal Lynda voortgaan met die hooggeregshofsaak teen Gary.

Hy skuld sy familie reeds honderde duisende rand. Om van Johannesburg af ’n saak in Kaapstad te probeer beveg, sou allesverswelgend wees. Nie net geldelik nie, maar ook wat tyd en geestelike krag betref.

Gelukkig is daar wel swart op wit bewyse – per e-pos – dat hy hierdie klousule wou insluit, en dat Lynda geweier het. So hopelik sal sy kinders eendag uitvind hy het hulle nie versaak nie.

Nou ja. Ek weet nie of geregtigheid ooit in hierdie leeftyd sal geskied nie, maar ek glo wel daar is iets soos karma. Eendag moet ons almal verantwoording doen.

*Skuilname is gebruik.

* Lees Trauma kan vet maak (2) hier

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 18-24°C High level clouds. Mild. Pta: 12-26°C Mostly sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 11-21°C Morning clouds. Mild. Bfn: 10-24°C Mostly sunny. Mild.
Dbn: 18-28°C Afternoon clouds. Warm. PE: 16-21°C Mostly cloudy. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!