Die vet weet: ’n Skaal met persoonlikheid
2012-08-14 12:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Johannesburg se klimaat het êrens ’n persoonlikheidsverandering ondergaan. Soos ’n ou man met ’n gesplete persoonlikheid. (Hy moet ’n man wees; vroue is nie so vol nonsens nie!)
Eers het ons ’n paar heerlike somerdae, dan ’n kouefront. Dan weer son, dan nog ’n kouefront, met sneeu. Dan een of twee dae son en dan nóg ’n kouefront. Wanneer gaan dit ophou?
My nuwe skaal het duidelik ook ’n gesplete persoonlikheid, maar dit hou verband met ligging. Sit jy dit in die gang op die teëlvloer neer, laat weeg die skaal my 99,4 kg. Sit ek dit in die badkamer, weeg ek 103,4 kg. Sit ek dit in die slaapkamer op die mat, weeg ek 101,2 kg. Ek het nog die verpakking, so dalk moet ek die *&^%$@ skaal net terugneem winkel toe en my geld terugvra?
Daar is nie ’n raak beskrywing in Afrikaans om dit te sê nie, so verskoon my mix: Dit freak my uit! Hoe de dinges moet ek nou weet of ek gewig optel, verloor of stilstaan? Laas week het ek op 103,4 kg gestaan. Het ek dus 1, 2 of 4 kg verloor? Tel ek dit alles bymekaar en werk die gemiddelde uit? Het ek hoegenaamd enige gewig verloor?
Ek sal nie verbaas wees as ek nie gewig verloor het nie, want ek het die naweek te veel hoender en lamskerrie geëet. Maar ek het veel minder wyn gedrink, waarop ek trots is.
Die koue maak dit sowaar nie maklik nie. Het ek al gesê ek het van Sondag af byna gevries? Elke keer as ’n kouefront toeslaan, raak ek ook siek, en wanneer my ore pyn is ek nóg minder lus vir reg eet.
Ek beperk my koolhidraatinname steeds tot maksimum twee porsies per dag, en het darem die afgelope week drie keer met die honde gaan stap. My klere sit steeds losser aan my, so dit voel darem nie of ek gewig opgetel het nie.
Ek drink elke dag getrou my my vitamiene en omega-3, asook my "Amazing Minerals", ’n souterige poeier wat mens in water oplos. Dit is veronderstel om:
* ’n antioksidant te wees;
* bloeddruk te verlaag;
* die liggaam te alkaliseer;
* met gewigsverlies te help;
* cravings te verminder;
* bloedsuikervlakke en insulienweerstandigheid te herstel;
* selluliet te verminder;
* artritispyn te verlig;
* sparare te voorkom en verminder;
* oortollige water af te dryf;
* bloedsomloop te verbeter; en
* energievlakke te verhoog.
Dis nie ’n mediese produk nie, en ek weet nie of enige van die aansprake bewys kan word nie, maar ek het van verskeie mense gehoor dit het vir hulle wondere verrig. Dit voel wel of ek minder cravings kry (die meeste van die tyd, in elk geval). Ek kry nie meer naastenby so erg sooibrand nie, so dalk werk die alkalisering. Dit dryf beslis oortollige water af, en ek sukkel nogal nie met min energie nie. Van die ander dinge weet ek nie. Maar toe die oumense in Disprin geglo het, het dit vir alles gewerk. As ek dus in hierdie souterige poeier glo, gaan dit vir my ook help. Dalk is dit die plasebo-effek, of dalk werk dit regtig. Ek hoop so.
Ten minste is dit natuurlike bestanddele wat nie sleg vir jou kan wees nie, of hoe? Elke bietjie help.