Fliekvlooi: Kom ons praat oor Kevin
2012-02-03 13:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die meeste van ons is besonder kwesbaar wanneer dit oor ons kinders gaan. En geslag ná geslag is daar min ouers wat uiteindelik met volle eerlikheid en oortuiging kan sê dat hulle nie foute begaan het met kindgrootmaak nie.
Wat die situasie nog ingewikkelder maak is dat die sielkunde en die mediese wetenskap nog nooit 'n duidelike antwoord kon gee op die vraag van "nature vs. nurture" nie. Word ons kinders met sekere donker kolle in hul persoonlikheid gebore, of ontwikkel dié gedragsversteuringe tydens die grootwordproses?
Word psigopate só gebore? Of ontwikkel hulle stelselmatig in gewetenlose wreedaards?
In We Need To Talk About Kevin sien ons hoe dat 'n ma van die geboorte van haar seun af reeds sekere gewaarwordinge het wat agterna moeilik as oorsaak of gevolg herken kan word. Reisskrywer Eva Khatchadourian, briljant vertolk deur Tilda Swinton, is die ma wat van meet af aan nie met haar eersgeborene oor die weg kom nie. Kevin is 'n koliekbaba wat nooit ophou huil nie. En uiteindelik doen hy die ondenkbare: die dag voor sy sestiende verjaarsdag pleeg hy 'n misdaad wat die hele gesin se lewe onomkeerbaar verander.
Dis 'n ongemaklike rolprent. Met tye wonder mens of Eva nie die negatiwiteit wat haar seun so toenemend uitleef, veroorsaak nie. Sy pa kan immers geen fout vind met hom nie. Maar dan kom jy agter: sy ma is sy teiken. Alles wat hy aanvang is teen háár gemik. En uiteindelik gaan hy tot die uiterste oor om haar te folter.
Vraag is: hoekom? Dit word nooit behoorlik beantwoord nie. En die ironie is dat Eva uiteindelik glo dat alles haar skuld is. Die gemeenskap verwerp haar, blameer haar en sy aanvaar dit gelate.
In een van die min ligter – amper komiese – oomblikke in die fliek klop twee evangeliste aan haar deur en vra of sy weet waar sy die hiernamaals gaan deurbring. Sy glimlag, bly dat sy die antwoord ken: in die hel, natuurlik, sê sy. Die twee jong mans gaap haar verstom aan.
Die kyker kyk as't ware in Eva se gedagtes in. Sodoende kry mens groot empatie met haar, hoewel mens haar eintlik nie wil bejammer nie. Dis asof dit haar onnodig (verder) sal verkleineer. Tilda Swinton is die perfekte keuse om Eva te speel: Van haar ietwat androgene voorkoms tot by haar manjifieke toneelspel, ís sy Eva, ma van Kevin.
Drie akteurs vertolk die rol van Kevin. En hier is net sulke uitstekende spel te sien. Jasper Newell is Kevin, die (steeds!) doekdraende ouer kleuter, en waar dié kind daardie emosies van uiterste woede en soms, onverwags, ook weerloosheid vandaan kry is amper 'n wonderwerk. Sal interessant wees om te sien hoe verloop sy loopbaan.
Kevin as tiener is ook 'n veeleisende rol wat Ezra Miller uitmuntend vul. Sy Kevin is aantreklik, hiper-netjies in sy kamer, maar met 'n berekende kil blik. Tydens seun-en-pa-oomblikke lyk en praat hy nes 'n gewone tienderjarige. Maar as hy met sy ma te doen het, kan die mond wat so maklik glimlag nie die venyn in die oë verbloem nie.

John C. Reilly is Franklin, die pa wat blind is vir Kevin se foute. Knap toneelspel is hier ook in sý spel te sien. Franklin is 'n veel gemoedeliker karakter as Eva en Kevin, uiteraard, en dit bring amper bietjie verligting vir die kyker wat swaarkry onder al die spanning en dramatiese interaksie tussen seun en ma.
Mens se kop draai teen die tyd wat jy by die fliek uitstap, maar die ervaring laat jou met se baie om oor na te dink. Veral as jy 'n ouer is.
Kritiek het ek wel. Die fliek beproef alreeds mens se oorspanne senuwees en daarom was die klankbaan vir my erg irriterend met allerlei popliedjies. Die ergste vir my was egter 'n lied wat só lui: "...my darling boy, you always have been your mother's joy...", gesing in die skrillerige stem van Washington Phillips met 'n trekkerige snaarinstrument as begeleiding. Die Briels sou by hom kon leer.
Nog 'n oordoende effek was die aanhoudende gebruik van die kleur rooi: van lekker jolyt by 'n tamatiefees (let wel: rýp tamaties) regdeur met 'n dogtertjie se rooi skoentjies, nare bure wat Eva se huis met rooi verf besmeer, rye blikkies tamatiesop op 'n winkelrak, tot by Eva wat in 'n rooier-as-rooi rok sit by 'n Kersparty. Ek het naderhand gedink: Toe nou, ons kry die idee!
Maar ek moet sê: sluk maar jou Prozac en gaan kyk na die fliek. Dis 'n fliek wat jou laat dink, laat vóél en, vir die ouers onder ons, met nuwe oë na jou kinders laat kyk.