Fliekvlooi: The Girl with the Dragon Tattoo
2012-01-19 14:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Stieg Larsson se roman, The Girl with the Dragon Tattoo, se oorspronklike Sweedse titel was Män som hatar kvinnor. In Afrikaans: Mans wat vroue haat.
Die afgelope tyd het Suid-Afrika gesteier onder skokkende gebeure waar vroue die slagoffers was van mans. In die twee mees opsienbare sake moet ons nog wag om die volle verhale in die howe te sien ontvou, maar volgens media-berigte lyk dit na tipiese vrouehaat wat gelei het tot die dood van 'n jong ma sowel as die gruwelike verminking en verkragting van 'n vrou in die fleur van haar lewe. Laasgenoemde moes boonop aanhoor hoe haar 19-jarige kind pleit vir sy lewe vóór hy koelbloedig doodgeskiet is.
Dan word ons ook gereeld gebombardeer deur berigte oor die moorde en mishandeling van vroue van alle ouderdomme, bejaardes sowel as babas.
Dít maak die *Larsson-trilogie uiters aktueel. Vrouehaat en vrouediskriminasie is wêreldwyd van alle tye af bekend en dit lyk nie of dit in die nabye toekoms 'n einde gaan kry nie.
In The Girl with the Dragon Tattoo wat tans landwyd te sien is (en waarvoor Rooney Mara 'n welverdiende Golden Globe-benoeming losgeslaan het), maak ons kennis met Lisbeth Salander, wat al beskryf is as "the pierced, bisexual, tattooed twentysomething hacker". Maar dit neem die kyker nie lank om agter te kom dat daar veel meer aan hierdie karakter is as net neusringe, tattoeëermerke en 'n unieke kuber-genialiteit nie.
Die storie gaan kortliks oor joernalis Mikael Blomkvist (knap vertol deur Daniel Craig), wat in oneer gelaat word ná 'n uitmergelende hofsaak, en die punk rekenaar-genie Lisbeth Salander. Salander is 'n jong vrou wat deur die (durf ek dit sê: patriargale) stelsel misbruik is en hunker na onafhanklikheid en om in vrede gelaat te word. Haar pad kruis met dié van Blomkvist wanneer hy 'n projek aanpak om 'n vroue-moordenaar aan te keer.
'n Sonderlinge heldin in 'n doolhof-misterie teen 'n intrige-gevulde agtergrond: Net soos die eerste Sweedse weergawe, boei hierdie Amerikaanse rolprent heel van die begin af. Kort voor lank is die kyker ingetrek in hierdie verhaal van 'n vooraanstaande Sweedse familie met fascistiese neigings wat die sleutel hou tot die verdwyning van 'n 16-jarige meisie 40 jaar vantevore.
In sommige tonele is die geweld brutaal grafies, maar teen die groter prentjie gesien is dit geregverdig. Wees maar net voorbereid.
Ek was mal oor al drie die Sweedse weergawes (op dvd beskikbaar) en die plesier word herhaal met hierdie uitstekende Amerikaanse poging van regisseur David Fincher. Ek sien uit na die twee opvolg-flieks.
Lees gerus sommer al drie die boeke ook, dit het meer om die lyf as die film-weergawes en is regtig die moeite werd.
* Die ander twee titels is The Girl who played with Fire en The Girl who kicked the Hornets' Nest. Hou die pers dop vir wanneer hulle hier by ons begin draai. Intussen, wees gerus dat elke fliek 'n volledige verhaal op sy eie is. Daar is 'n deurlopende tema wat met Lisbeth Salander te doen het, maar mens kan ook elke boek/fliek op sigself geniet.

Noomi Pace, die eerste Lisbeth Salander. Sy was te sien in die drie Sweedse weergawes van die trilogie.

Rooney Mara, Amerika se weergawe van Lisbeth Salander, die heldin van die Larsson-trilogie.