Gay oog: Boksies
2012-01-31 15:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ons doen dit almal, ons sit alles en nog wat in boksies sodat ons mense makliker kan plaas – en sommer ook om ons verhoudings beter te kan hanteer. Dit verg nogal heelwat inspanning om buite ons boksies te dink, en nog méér inspanning om ons medemens te verplaas van een boksie na 'n ander.
Ons kan maklik iemand in 'n Gay-boksie of 'n Rassis-boksie sit. Sommige boksies is meer cool as ander. Die Rassis-boksie sal net nooit weer populêr wees nie. Die Gay-boksie is ook nogal ongemaklik om in te wees, want ek nog nooit iemand ontmoet wat teleurgesteld is dat hulle nie deel van die Gay-boksie is nie.
Sulke boksies is handige goed om mense te objektifiseer. Dit is 'n groot woord wat bloot beteken dat ons iemand só sien: gestroop van menswees. Ons sien nie in die objek 'n glimlag nie en ook nie 'n traan nie. Ons pas nie situasionele etiek toe nie, en probeer eintlik nie verstaan waar die persoon vandaan kom nie.
Dit is hoekom ek glo dat ons ons stories vir mekaar moet vertel. Hierdie stories het 'n groot impak om die hele boksie-patroon hok te slaan. Iemand het my byvoorbeeld vertel hoe hy as kind hier op die Kaapse vlakte menige wintersoggend twee uur die oggend deur die polisie uit sy bed gepluk is en buite in die koue op die grond moes lê. Daardie tyd voor 1994 was hulle deel van die Terroris-boksie.
Ons het nog in my tyd elke skoolsaal-periode moes hoor hoe daar vir die Kommunis-boksie gebid moes word wat as vyande van die lewende Christus eintlik net belangstel in ons land se ryk minerale. Teen hierdie Rooi Gevaar is daar Goddelike beskerming afgebid.
Ons moet dalk vandag stilstaan en opnuut dink watter boksies ons mee werk en of ons nie die mens verloor in die boksie nie.
Ek onthou eenkeer toe ek en my eks-skoonpa 'n gesprek gehad het oor die boksie-ding, want hy het as bestuurder destyds by sy werk op kursusse gegaan om hulle kreatief aan te moedig om buite die boksie te dink. Ek was heel entoesiasties en het gou-gou bygevoeg dat mens darem buite die Geloof-boksie ook moet dink. Hiervan, het ek verbaas verneem, het hy niks gehou nie. En ons het net nooit weer oor uit-die-boksie-dink gepraat nie. Ons het ooreengekom om op die punt te verskil.
Dit is natuurlik dikwels wat met die boksie-argument gebeur, ons boksies is so lekker knus en warm dat ons nie te veel daaraan wil verander nie. Ons wil nie eintlik veel aan die paradigma torring nie en nog minder die groot stap neem om 'n paradigmaskuif te maak.
Só 'n kopskuif verg moed.
Ek het in my lewe hierdie proses al 'n paar keer beleef. En ek kan met eerlikheid rapporteer dat die eindresultaat rêrig die moeite werd is. Die proses van verander is gelaai met spanning en onsekerheid. 'n Mens moet skielik die tou waaraan jy vas is aan 'n ander paal gaan vasmaak. Hier het ek leiding gehad, want ek glo nie mens kan dit op jou eie aanpak nie.
Ek het in 'n polities konserwatiewe huis grootgeword. Ek het nou nog van die ouer garde in die familie wat as rassisties geklassifiseer kan word. Hierdie was die een boksie wat ek myself uit verskuif het namate ek my mede swartmense as mense begin ervaar het. Mense met eie ideale, lag en trane. Om die waarheid te sê het ek ontdek dat ons Swart Afrikane rêrig die vriendelikste mense op aarde is. Tydens my jaar se werk in Brisbane in Australië het ek hulle die meeste gemis. Naas nou gewone pap en wors, want die Aussies ken nie van lekker wors nie en dink verkeerd ek meen polenta as ek vertel van pap.
Ek het ook in 'n fundamentalistiese kerk grootgeword. 'n Kerk waarin die klassieke meesterverhaal meesterlik aan my verduidelik is. Sonde, Verlossing en Dankbaarheid. Binne hierdie boksies is ek na die groot stad Johannesburg toe. Sodom en Gomorra. Die plek waar geen ordenlike plattelander dit eers wil waag om te bestuur nie. By RAU het ek begin leer dat ons boksies se onderliggende premisse taalkonstrukte is. Taalkonstrukte wat hierdie boksies filosofies in stand hou dat hulle so sterk word soos staaltronke.
Ons manier van praat oor mekaar bepaal in watter boksies ons mekaar inpas. Hier het ek die verbintenis met die Duiwel-en-Hel-boksie een middag in my tweedejaar verbreek. Op my knieë het ek vir die Here om verskoning gevra dat ek nie meer geglo het in die duiwel nie. In Bybelkunde het ek geleer dat dié karakter eintlik glad nie in die Ou Testament figureer nie en eers in die tussen-testamentêre tyd regrig gestalte verkry het.
Ek het in hierdie proses ook uit my fundamentalistiese boksie begin uitklim. Ek het begin om die Bybel nie meer so letterlik op te neem nie. Ek het begin agterkom wat die woord konteks beteken. Ek begin leer dat daar verskeie kontekste bestaan as mens tekste lees. Literêre konteks, antropologiese konteks, sosiologiese konteks, tekskritiese konteks, tradisie-historiese konteks, leserskonteks (resepsie-estetika). So kan mens begin om die woord konteks te beduie. Eenvoudiger gestel praat ek sommer van boksies. Weet verseker dat jou boksie jou antwoord gaan bepaal. Ek het geleer dat jou vraagstelling baie belangriker is as die antwoord. Dit is net as jy die antwoord klaar weet dat die vrae jou pla. Die grootste probleem destyds toe ontdek is die aarde is rond, was dat almal gedink het hulle wéét die aarde is plat.
Ek wil dus vra: "In watter boksie dink jy?". Ek vra myself gedurig af met watter boksies ek nou werk. Ek weet ook dat ek nie op die punt wil kom wat ek tevrede is met hoe ek die boksies verstaan nie. Ek wil kreatief elke keer opnuut kyk na die boksies. Ek wil aktief daaraan werk om name en stories te koppel aan die mense in my boksies. Dan kom ek agter dat by boksies se grense nie wyd genoeg is om my medemens in te pas nie. Ek sluit hier aan by die eintlike rede vir Christus se koms. Hy het die menslike boksies se grense kom verskuif. Ons moet waag om met die Tollenaar te assosieer.
Waag jy as leser dit dus om te assosieer met die mense wat jy in ongemaklike boksies sit. Kom ons dink vir 'n oomblik aan die gesigslose massa mense wat jy dalk in die Gay- en Sonde-boksie plaas. Het jy al die lag gehoor en die traan gesien in die oog van die mens wat jy in die boksies sit?
Het jy al iemand getroos en die hande gevat en gevra om te probeer verstaan?
Of is die eerste reaksie om iemand onmiddellik met die Bybel oor die kop te slaan en met vers en kapittel by te kom?
Ek wonder altyd waar so agressiewe benadering vandaan kom. Waar is die bron van al die "anger"?