Gay oog: Haweloos
2012-02-07 10:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Jy was dus haweloos, som my terapeut my storie in een woord op. Ek het dit self nog nie so geformuleer gehad nie, maar dit was waar. Ek was al in my lewe haweloos. Ek met al my slimmighede moes my trots in die sak steek en die woorde herkou totdat dit ordentlik verteer.
Haweloos het nie sommer gekom nie, dit het gebeur. Presies hoe kan ek nie meer lekker onthou nie. Ek weet net op 'n dag was my ouerhuis net nie meer daar om my te ondervang nie. Gelukkig kon ek vakansies in die universiteitskoshuis bly. Veral in my laaste twee studiejare het dit gehelp.
Nadat my ma oorlede is het dinge met rasseskrede verander. Die dag toe my pa al haar goed gaan laai het met die bakkie, het ek en my sussie Martelize agterna gery met my gelapte studentekar. Daar by sy plot aangekom het ons gereken om darem na 'n harde dag se trekkery oornag te kry. Blykbaar het my pa se nuwe vrou nie kans gesien vir die twee nuwe kinders nie en moes ons na 'n struweling ander plan maak. Die son is al besig om onder te gaan. Nouja, 'n student het nie geld om iewers in te boek nie en só was al plan om dalk deur te ry na my broer in Secunda. Hy het immers dieselfde jaar vir Sasol begin werk as ingenieur en het 'n woonstel daar gehad.
Synde in die tyd voor ieder en elk 'n selfoon gehad het, het ons gehoop hy was tuis. Ná donker het ons daar aangekom en sy motor in die oprit gewaar. Dit was seker so agt of nege uur. Ons was pootuit; en na 'n lang gekloppery het ons besef hy is nie daar nie. Daardie jare was my lyfie nog dun, en het ek dadelik die situasie geasseseer en 'n plan gemaak. 'n Klein venstertjie onder aan die kombuis se kant was oop. So 'n tipiese waskamervenstertjie waardeur diewe gewoonlik 'n klein seuntjie stuur om die groot deure aan die binnekant te gaan oopmaak. Ek is toe self deur die klein venstertjie.
Aan die binnekant aangekom het ek Piet hoor snork daarbo. Hy was al blykbaar vroeg bed toe en hy word nie maklik wakker as hy eers slaap nie. Sonder om hom te steur het ons moeg in die bed geval.
Was ek dus heeltemal haweloos? Is mens haweloos as jy wel 'n bed vir die nag kan opspoor? Of is haweloos die gevoel wat in jou niere kom nesskop dat daar rerig nie meer 'n blyplek is wat jou geborge laat voel nie. Is dit waarvan die Bybel praat as die Seun van die Mens sy kop nie eers op 'n rots kon laat rus nie. Die wêreld is ons woning nie.
Ek dink daardie ervaring het my so bietjie daredevil-agtig gemaak oor aardse goed soos my ma altyd gesê het. Veral as ek daaraan terugdink hoeveel van haar aardse goed verlore gegaan het in die plot se stoorkamer weens 'n lekkende dak, en muf. Al die babakleertjies wat ons kinders gedra het was netjies opgevou gewees in koffers. Dit moes volgens haar gebêre word vir haar kleinkinders. Dit het sin gemaak, want van my ouma se oorspronklike gehekelde truitjies was ook daarin, en sy kón hekel.
Ek gee vandag eerder my kinders se klere vir die welsyn om te herbruik want ek weet hoe die mot en die roes kan verniel op hierdie ou aarde.
Onlangs ná my Pa se dood het daar 'n paar goed na my kant toe gekom. Eintlik was alles dinge wat ek al lankal afgeskryf het; ek wou niks erf nie. Ek het tog al meer as te veel goed in my lewe vergader. En ek het darem die kassie wat aan my oupagrootjie Dirk Bakkes behoort het en wat ek nou vir my seun Dirk Bakkes wil gee. Dit is nou dieselfde oupa wat in 'n Kerkbode-artikel verewig is omdat hy so lank geleef het. Oom Dirk en tannie Dorie Bakkes, vertel die artikel, het in die gemeente Eendracht gebly. Daar is ook 'n foto van hulle twee geplaas naas die berig voor hulle nederige hartbeeshuisie. Die kas moes in dié huisie gestaan het.
Ek wonder nou ook of die gevoel van haweloosheid ook al in ander mense nesgeskrop het. Jou huis is immers waar jou hart is. En as jou hart skielik huis soek is jy haweloos. Mense dink dat as jy drie universiteitsgrade agter jou naam het sou jy darem al vir jou hart 'n huis kon kry. Nee, dit werk nie so nie. Jou hart kan enige tyd sonder 'n huis raak.
So verneem ek tydens die Studietrust (www.studietrust.org) se afsluiting vanjaar dat daar baie gegradueerdes in ons land sonder werk sit. Ek is seker dat daar onder die "sonder werk sit"-groepering definitief ook harte is wat huise nodig het.
'n Hart sonder 'n huis voel baie verlore. En ek wonder of daar ooit weer 'n plek sal wees waar my hart tot ruste sal kom. Ek het 'n onrustige, soekende hart. My hart het sy maagdelike onskuld verloor.
In die afgelope kerstyd klink die verhaal van Jesus in die krip baie mooi. Die klipharde krip moet ons daaraan laat dink aan die klipharde realiteit dat Jesus haweloos gebore was. En op hierdie hawelose kind was daar nog boonop jag gemaak ook. Hier is eintlik niks romanties aan Jesus se geboorte nie. Die sterre is maar altyd bokant ons, en bied geen tuiste vir 'n mensehart nie. Selfs die wyse manne kon alles bring behalwe 'n tuiste.
Jesus het eintlik nooit 'n tuiste gehad nie, en volgens goeie navorsers vaderloos grootgeword in Galilea. Professor Andries van Aarde, 'n internasionale kundige in die Nuwe Testament het 'n goeie boek oor die tema geskryf: "Fatherless in Galilee".
Ek weet egter dat dit één ding is om van 'n ding te lees of te hoor, en 'n ander ding om iets aan jou eie bas te voel. Ons is mos vol senuwees en ons breine groei neurale paaie wat soms so diep gesny word dat gedagtes in 'n groef gaan waaruit moelik gebreek kan word. Ek soek gedurig nuwe woorde om te beskryf wat met my in die lewe gebeur het. Sommige probeerslae is meer suksesvol as ander.
Die wêreld is ons woning nie. Maar dis ál woning wat ek ken. Hierdie malle rit op drywende tektoniese plate wat soms aardbewings en tsoenamis voortbring is eintlik 'n helse lekker rit. Alles maak nie altyd vir my sin nie, maar vandat ek die konsep van 'n persoonlike God laat gaan het pla die natuurrampe my nie meer nie. Ek rou oor die verlies van mens, plant en dier, maar nie meer oor 'n onverstaanbare God nie.
My hawelose hart het my gedwing om die vraag na die regverdigheid van God, en juis 'n persoonlike God ernstig op te neem. Die gevolge van dié bevraagtekening was verrassend insiggewend. Ek kon die paradigmaskuif maak, naamlik dat ek dink dat God tussen mense gebeur.
As ons mense vir mekaar se harte huise kan aanbied gebeur God. Anders gebeur God nie, en sit ons met harte sonder huise en nuttelose Gode.