Gay oog: Laat God gebeur

2012-02-21 12:52

Hierdie is nie 'n gay storie nie.  Ek skryf nie gay stories nie.  Ek het byvoorbeeld my motor vandag parkeer.  Ek het nie my kar gay-parkeer nie.  Net so het ek nie 'n gay-lewe nie, en net so min 'n gay-leefstyl, ek het bloot 'n leefstyl.  En ek het 'n gelukkige lewe.

Ek borsel my tande al die jare op dieselfde manier, ek het dit nie skielik begin gay-borsel nie.  Ek ervaar op vorige reaksies op my blogs dat mense dikwels die gay-leefstyl afskiet as sonde.  Ek wonder wat presies is nou die sonde in my gay-leefstyl.  Hoe banaal en presies wil mense dan nou wees.  Ek haal 100% van die dag bloot asem. Inasem, uitasem.  Soos alle mense rondom my.

Ek gaan in die oggende werk toe, ek lewer 'n professionele diens, en baie beskou my as die beste in wat ek doen.  Ek werk onvermoeid om die wêreld 'n beter plek te maak.  Ek stoei elke dag om te verseker dat wat ek aanbied, toegevoegde waarde bevat.  Eintlik is ek 'n groot "softy" want ek sê moeilik nee as iemand my vra om te help, maak nie saak hoe besig ek is nie.

My vraag is dan ook: Hoe kan ek my potensiële lesers help?  Ek kan dalk help om te vertel dat ek normale dinge doen.  Ek is volgens standaarde nie net normaal nie; om die waarheid te vertel ek is baie suksesvol.  Ek ry 'n motor wat "middle management" tipies bestuur.  Ek neem deel aan sosiale aktiwiteite soos koffie-drink in die lekkerste plekke wat Johannesburg kan bied.  Eintlik is ek effe van 'n koffie-snob.  Toe ek noudiedag gaan Nespresso-koffie koop wou die vrou weet of ek 'n gastehuis besit, en ek moes haar vinnig reghelp dat ek dit vir myself aanskaf.

In die aande slaap ek.  Vir periodes met 'n slaapmiddel en ander daarsonder.  Dit is nogal merkwaardig dat die "gewone" medikasie in die apteek ook op my werk (toemaar, ek is nou sarkasties).  Ek is bloot 'n mens.  En ek is 'n gelukkige mens.

Ek wonder hoekom mense dan nou my "leefstyl" so maklik afskiet.  So met één veeg is my lewe blykbaar doelloos in sommiges se oë.  Maar volgens my eie tong-in-die-kies "Gay-oog" hou ek my met ordinêre dinge besig.

Ek reken dat die hele onsinnigheid ontstaan het uit onkunde.  Ek besef dat die eintlike issue oor seks gaan.  Eintlik gaan dit veel dieper as dit.  Dit lyk my dat meeste Afrikaners geen opleiding, nadenke of hoegenaamd enige insig het in die kompleksiteit van iets soos 'n seksuele identiteit nie.  Ek wonder baie keer of ek nie ook maar moet bedank as Afrikaner nie.  Dink ons dan rêrig in iets anders as in 'n kombuistaal?  Dink ons óóit?

Ek is sosiaal goed aangepas in my omgewing.  Ek is gelukkig in my eie vel.  Waarom gaan die herrie dan eintlik oor leefstyl?  Goeie grond, soos my een vriend sou sê.  Waarom moet ons so koes?

Ek kan met trots vertel dat 'n paar mense my al ge-defriend het op Facebook sedert my pen die blogs begin neerpen het.  Gaan in vrede!  Jy was nooit rêrig my vriend nie.  As jy te skaam is om my vriend te wees, ek verstaan.  Ek gun jou jou eie kas.  Ek gun jou jou eie God-in-die-kas.  Duidelik is God in jou hande.  Jy verf God met jou Bybelkwas totdat jy tevrede is met die eindproduk.  Dan het jy 'n God wat by jou pas.  Jy het jou prentjie van God, en daardie God veroordeel dan my gay-leefstyl, net soos jy daarvan hou.  Of het ek dit nou mis?  Vreeslik is dit om te val in die hande van die Lewende God.  Ja ek weet, vreeslik inderdaad om in jóú hande te val.  Of dan eerder in die hande van die prent van God in jou kop.

Ek verf God anders met my Bybelkwas.  Ek kan ook ritse verse in die Bybel gaan opsoek, maar ek wil nie, want ek gebruik die tekste nie meer as bewysplase vir my argumente nie. Dit is nie nodig nie.  Dit wil nie sê dat ek die tekste nie ernstig opneem nie, allermins.  As mense enige begrip het vir die manier van close-reading wat ek met die struktuur-analitiese benadering geleer het sal hulle weet dat my fondament op soliede klip gebou is en nie op sand nie.

Ek het 'n God wat sorg dat wanneer ek opdaag by die braaivleis, mense my nadernooi om my hande te kom warm maak.  En my uitnooi om saam te eet.  Ek sien God raak in my virtuele Facebook-vriende wat hande van vriendskap uitreik, en God so laat gebeur.  God gebeur elke dag tussen ons mense.  Ons gee aan God gestalte met elke glimlag en frons.  En so is elke duimbreedte van die aarde God s'n.

Ek kan baai in die sekerheid van die uitverkiesing, vir diegene wat opreg wonder waarheen is my siel dan op pad heen.  Vóór my geboorte is ek mos uitverkies volgens die belydennisskrifte wat ek heelhartig ondersteun.  Ek is ook gedoop, en daarom kan ek ook sê: "Wyk Satan, ek is gedoop!".

Ek probeer verstaan hoekom is mense so onseker van hulle eie opinies dat die Bybel om elke hoek en draai nadergehark word om jou posisie te versterk?  Ek onthou hoe een kollega my vertel het dat die mense wat hom die meeste probleme gee diegene is wat daar by die myn opdaag en met woorde soos "Die Here seën jou" opereer.  Dan moet jy weet jy moet oppas.

Ek hou van God en ek hou van die kerk.  Indien iemand dalk 'n ander indruk gekry het is ek jammer, en wil ek dit graag regstel.  Ek hou van beide God en die kerk(e) want beide het mense nodig hier op aarde om te oorleef.  En mense het mekaar weer nodig om te oorleef.  En so hou ons die kerkding en God in stand, sommige sal eerder vertel ons aanbid God en ons vier die gemeenskap van gelowiges.  Hoe dit ookal sy, ek verf God se prentjie met my eie verhaal en my eie kontak met mense.

Ons mense weet dat niks so seermaak soos mense waarvoor jy lief is wat jou in die rug steek nie.  Et tu Brute!  Ook hier gee ons gestalte aan ons verstaan van God.  Is hier iets van: Vreeslik is dit om te val in die hande van die Lewende God?  Ons God ageer immers met ons hande.  Oppas dus om te dink jy doen iets vir God, dalk oortuig jy jouself bloot dat jy dit vir God doen, maar eintlik doen jy dit vir die God wat jy geverf het in jou kop.

Ek weet net dat ek nie meer gered wil word van sonde nie.  Ek wil nie meer weet waarheen my siel vertrek nie, ek is nie meer bang vir die duiwel nie.  Ek is wel nog bang vir ander mense wat mekaar skade aandoen, oorlog, moord, roof, verkrag.  Ek is rêrig allergies vir hierdie tipe selfdestruktiewe interaksies tussen mense. 

Mense is dus my grootste vreugde op aarde en ook my grootste probleem op aarde.  Net so is God my grootste vreugde en soms my grootste probleem.  God is my grootste vreugde as mense mekaar liefhet en so aan God gestalte gee, of in ander woorde "God laat gebeur" tussen ons.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
92 reaksies
Kommentaar is gesluit vir hierdie artikel

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 10-21°C Sunny. Mild. Pta: 7-18°C Mostly sunny. Cool.
Jhb: 4-15°C Mostly sunny. Quite Cool. Bloem: 1-18°C Sunny. Cool.
Dbn: 12-24°C Sunny. Mild. PE: 13-22°C Morning clouds. Mild.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

FORD

Bantam 1.3i PU MY09
2010
R 94,990.00

CHEVROLET

SONIC 1.6 LS AT
2012
R 186,995.00

AUDI

A4 1.8T
2005
R 185,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

7'' gobii LCD e-leser met kleur

Nou slegs R899

Sluit in e-boek geskenkbewys ter waarde van R160, swart omslag en USB muur laaier. Aanbod eindig 27 Mei 2012. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.