Gay oog: Regsgelowigheid uitgedien?
2012-02-14 09:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ek en 'n vriend sit nou die dag en kuier toe hy opmerk dat ons maklik kan praat van linksgelowig en regsgelowig. Dit het my weer laat dink aan die kerkdiens wat ek bygewoon het tydens Eendracht gemeente se Eeufees. Die eerste dominee se preek het my as linksgelowige aangespreek. Dit was deurspek van goeie Skrifuitleg en insig. Die tweede dominee wat aan die woord was is kennelik regsgelowig en het my geïrriteer. Sy meesterverhaal was net te goed uitgewerk en kon glad nie by my aanklank vind nie.
Dit is wat ek onder andere bedoel as ek verwys na die kerk as 'n hoer van gedagtes. Onder een sambreel probeer linksgelowig en regsgelowig saamleef. Hierdie saamleef gaan met konflik gepaard. Hopelik kan mens dit met 'n eufemisme aandui as 'n kreatiewe spanning. Ek ondervind dat linksgelowig en regsgelowig nie sommer regkry om langs dieselfde vuur te sit nie. Ek kom ook agter dat my gay vriende ook tussen hierdie twee pole beweeg. Aan die regsgelowige kant lyk my die meeste spanning te wees. Dit is moeilik om kongruent te wees as die regsgelowige raamwerk jou leefstyl veroordeel as sonde. Ná baie pyn besluit die regsgelowige dan dikwels om bande met die kerk te sny.
In 'n linksgelowige konteks maak ek nog baie moeite met die Bybel en ek is die laaste persoon wat reken alles is geoorloof. Ons moet mekaar se spasies ten minste respekteer. Ek verstaan heeltemal goed hoe 'n regsgelowige dink, want ek was ook in daardie kraal. Ek het egter 'n paradigmaskuif gemaak en is nou linksgelowig. Ek was nie "dommer" toe ek in die regsgelowige kamp was nie. Die regsgelowige denkraamwerk het vir my persoonlik uitgedien geraak.
Vanuit 'n sielkundige perspektief is daar sekere prosesse waardeur mens gaan indien 'n ander denkraamwerk omarm word. Onsekerheid en sielewroeging is deel van so 'n proses. Die verandering van denkpatrone is harde werk. Dit is dinkwerk. Die proses is nie vir lui mense nie. Aktief word nuwe vrae ontdek. Hierdie vrae is dikwels belangriker as enige antwoord.
Ek merk uit verskeie kommentaar op vorige blogs dat mense sukkel met linksgelowig en regsgelowig. Hortend en stortend kom dit uit dat daar tot sekere regsgelowige standpunte geraak is gedurende persoonlike "Bybelstudie". Daar word ook tipies beweer dat die Bybel die Bybel verklaar. Hierdie tipe bog is 'n voorwetenskaplike benadering. Dit dra net water wanneer die Bybel alleen op jou lessenaar is. Tipies van regsgelowig word omtrent geen wetenskaplike boek oor die Bybel langs die Bybel neergesit en vergelykings gemaak nie.
In hierdie Bybelspeletjie is dit waar dat die persoon wat die meeste weet die Bybelboek die beste gaan verklaar. Is dit dan nie voor die hand liggend dat mens ander boeke nadersleep as die Bybel hanteer word nie? Dit lyk vir die meeste mense te veel na werk, want dit beteken dalk minder tyd voor die televisie.
Ek onthou toe ek twee grade gelyklopend gedoen het. Aan die een kant my teologie en aan die ander kant honneurs in Semitiese tale. Dit het beteken dat ek vir twee jaar alle universiteitsvakansies opgeoffer het. Die een keer was ek wel vir 'n week see toe, maar het met die Hebreeuse Bybel op die strand gesit en aan my vertalings gewerk. Moet nooit na my toe kom en beweer dat ek nie 'n committed Christen is nie. Hierdie tyd in my lewe was vormende jare, en vandag kan ek my nie indink dat ek dit anders sou wou gehad het nie. Dit was deel van my reis van linksgelowigheid.
Vanuit my linksgelowige gay oog lyk dit vir my in orde dat God my liefhet. God het ook my leefstyl lief. Oor die jare pas ek die eenvoudige reel toe: "Zero Harm". Dit beteken dat ek aan mens en omgewing verskuldig is om geen skade te berokken nie. Ek wil egter aktief meewerk om te verseker dat ons mekaar nie te na kom nie. Ek vind dat linksgelowiges alle ruimte laat vir regsgelowiges, maar dat weinig regsgelowiges enige ruimte laat vir linksgelowiges. Die verskynsel is logies te verklaar want die regsgelowige denkraamwerk laat weinig ruimte vir verskille toe. Die regsgelowige leef in die volksmond: "It is mý way or the highway". In gelowige konteks kan mens sê: "It is mý way or the hell".
Dit lyk my ook dit is veel makliker om mense regsgelowig te indoktrineer want die regsgelowige ken al die antwoorde. Al stel die dominee se antwoord die denkende regsgelowige lidmaat nie tevrede nie, word die skyn ten minste bewaar dat die dominee al die antwoorde het. Mens kan die antwoorde moeilik verstaan, maar die antwoorde is beskikbaar.
Die linksgelowige hou meer van vrae as antwoorde. Die linksgelowige weet dikwels dat vrae tot sekere antwoorde lei, en daarom word vrae as ongeldig verklaar. Ek weier soms om vrae te beantwoord wat onregverdig is. Net so behoort die Bybel te weier om sekere onregverdige vrae te beantwoord. Ek dink dit is onregverdig om van die Bybelboek 'n klinkklare antwoord oor moderne verskynsels soos gay of saambly te verwag. Die Bybel lewer gewoon geen direkte kommentaar op moderne situasies nie. Hierdie situasies kon die Bybelskrywers nooit voorsien het nie. Ek dink die Bybelskrywers sou vreeslik onrustig geslaap het as hulle moes weet wat ons vandag met die Boek aanvang.
Die Bybel is geen kitsantwoordboek of toorboek nie. Die Bybel is ook nie 'n versielys wat vir alle situasies geld nie. Onthou die Bybel is mensewerk, God se Woord in mensetaal.
Ek as linksgelowige weier om sekere vrae aan die Bybel te stel. As jy dus in die Bybel raaklees dat my gay lewe sonde is, verwag jy te veel van jou toorboek-handleiding.
In hierdie geval laat jou Toorboek jou in die steek. Dalk sal jy beter vaar deur jou teekoppie te laat lees.