Klipsop: As dit so knyp-knyp gaan
2012-02-02 10:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die meeste van ons manne het ‘n magnetiese persoonlikheid. Hulle trek hulle dinge iets vreesliks aan.
Vat nou maar hulle reaksie as hulle gunsteling rugbyspan ‘n wedstryd verloor. Hulle verval in diepe rou en die hele wedstryd word in die fynste besonderhede uitmekaar getrek. Hulle “replay” die wedstryd sommer self op die TV en bestudeer elke speler se tekortkominge in detail.
Dan praat ons nie eers van ‘n slegte dag op die gholfbaan nie. Geen lafenis by die negentiende putjie help teen ‘n nederlaag nie.
My ou Beste is nie ‘n sportman nie. Hy en balle is nie maats nie en hy sweer sy onvermoë om te skop, drop, en skrum is omdat sportballe heeltemal verkeerd gebalanseer is – vir hom! Hy is egter net so “magneties” soos die res van sy soort, met ‘n groot skeut deernis daarby. Hy trek hom dinge iets vreesliks aan en sy empatie met iemand of iets wat swaarkry is sonder perke. Hy lê nagte wakker as hy hoor van ‘n kindjie wat seerkry of swaarkry. ‘n Dier se gevoelens word hoog geag. Hy huiwer nie om die hond se knor of kat se miaau vir my te interpreteer nie: “Jy sit op haar stoel!” of “Sy kosbak is leeg!”
Vat nou maar die geval van Heinrich, die gemmerkat. Ek het eers agtergekom hy’t ongesiens vanaf ‘n katjie in ‘n kat verander toe hy een oggend my splinternuwe sybokhaargordyne merk met ‘n stinkende geel blerts.
Sy dae as mannetjieskat is summier opgeskort, en sterilisasie was die enigste opsie.
Dit was egter moeilike om wederhelf te oortuig dat die operasie tot die voordeel van ons almal was.
“Hoe sal jy voel as ‘n simpel veearts jou goeters afsny.”
“Ek het nie “goeters” nie.”
“En ek sê maar net!”
Toe hy Heinrich in die kar laai vir sy afspraak by ‘n veearts , sê hy vir oulaas: “Dit gaan vrek-seer wees. Ek voel soos ‘n verraaier.”
Dit was nie die einde van my man se ellende nie. Die veearts was alleen aan diens en hy moes bystaan vir die operasie. Die arme mens was doodsbleek toe hy en die kat weer by die huis kom. Die katmandjie met die slapende kat is versigtig op die mat neergesit en hy het dadelik vir hom ‘n stywe dop gaan gooi.
“Weet jy wat doen hulle as mens so onder verdowing is? Hulle pluk daai ou wolletjies rondom jou balletjies sommer net so af. En dan pop hulle dit uit en knip dit af. Iets vreesliks!"
My oë het gerek.
“Mens? Jou balletjies? Jy was by die veearts, nê? En ek hoop ons praat van die kat se sterilisasie hier!”
Heinrich was al lankal weer besig om die duiwe in die tuin te bekruip, toe loop Pierre steeds knyp-knyp, so asof hy ‘n groot nood het. Heinrich se gewaande pyn was ook syne.
Twee aande later kom sit hy styf teen my op die rusbank. Daar’s ‘n onnutsige vonkel in sy oog.
“Vrou, ons moet praat! Ek belowe jou, ek sal nooit-ooit iets teen jou sitkamergordyne doen nie. Maar julle los my “family jewels” uit!”