Klipsop: Bly en gly
2012-02-21 13:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“O vrek! Vrou, jy beter begin bid!!! Ons twee probeer desperaat keer dat die ongemaklike stuk plafon uit ons hande val. Die twee lere waarop ons staan is nie ewe hoog nie. Ons kuite brand, ons arms is lam en ons sukkel om die stuk plafon in die laaste oop gedeelte van die sitkamer se dak te pas. Die volgende oomblik kantel dit gevaarlik en ek dreig om my balans op die leer te verloor. Los gips sif in my oë en op my hare. En ek bid! Uiteindelik glip die plafon in plek en Pierre begin om dit vas te slaan. Ek sak moeisaam op die sitkamer se rou sementvloer neer.
Waarom ons twee besluit het om al ons nuwe huis se plafonne self in te sit, sal ek nooit weet nie. Gewoonlik is dit die werk van drie bouers, en definitief nie van twee mense wat vat-vat aan sestig jaar nie. Die plafonpanele is swaar en pieperig. Dit lyk soos yslike plat koeverte van dik bruinpapier met gips tussen die twee lae. Stamp mens dit, dan lek die wit poeier oral uit.
Ons het na twee jaar in Prins Albert besluit om Sedgefield toe te trek, maar gou besef dat ons begroting vir ‘n huis en huispryse in die Tuinroete gladnie pasmaats is nie. Toe besluit ons om self huis te bou en Pierre gaan koop by voorbaat ‘n troffel. Soos voorheen gesê, my man is iemand met vele nerings. Hy kon self ons huisplan optrek. Die huis sou klein wees, maar gerieflik.
Realiteit het vinnig ingeskop en ons het besef dat goeie voornemens en daardie troffel nie die ding gaan doen nie. ‘n Plaaslike bouer het ingestem om die huis se dop te bou en die dak op te sit. Ons sou die res self moes doen.
Toe leer ons op die harde manier hoe bou mens huis. Pierre moes die badkamer van meet af maak en al die loodgieterwerk self doen. Ons het uitgevind dat alle deure groot en swaar is en dat deure hang spiere kan bou waar mens nooit geweet het jy’t spiere nie. Daar was nie geld vir handlangers nie en Pierre se pynlike presiesheid was nie bevordelik vir vinnig werk nie. Dit het gevoel asof alles ‘n ewigheid neem.
Boekkennis het baie gou praktiese ervaring geword. “Bid, Vrou!” was naderhand amper ‘n mantra. Soms, as ek so na die chaos rondom my gekyk het, het ek die gevoel gekry dat ons Heiland só lekker saambou dat Hy nie wil hê die huis moet klaarkom nie!
Die nypende geldtekort was altyd ‘n faktor. Toe ons gaan teëls koop, was Pierre se opdrag onverbiddelik: “Ons het net genoeg geld vir eenvoudige wit badkamerteëls. En as ons minder kan betaal deur meer te koop, dan gaan ons ook sommer wit teëls in die kombuis gebruik.”
Die wit teëls was onuitgestal in bokse in ‘n hoek van die groot winkel, maar voorlangs was die mooiste en duursaamste teëls. Ek het daar en dan die gebod teen begerigheid oortree. In een rak was presies wat ek wou hê en ek het my hand saggies daaroor gestreel. Die prys op die bokse was drie keer meer as wat ons kon bekostig.
“Hou jy daarvan?” Die winkelklerk het nader gestaan.
Ek het gesug. “Ja, maar dis te duur vir my.”
“Hoeveel het jy nodig?”
“Sowat vier-en-‘n-half vierkante meter.”
“Wel, hierdie is die laaste vyf vierkante meter van daardie soort. Dis eintlik op uitverkoping! Al die ander teëls op hierdie rak ook!” Op die ou end was die weelderige teëls selfs goedkoper as die wittes. Wonderwerk? Vir my, definitief!
Ons seun wou graag help om die kombuiskaste en hangkaste te bou, maar hy was op ‘n fietstoer in Kanada en die VSA en sou eers later kon kom kuier. Pierre het solank die kombuis ontwerp . My kleinerige kombuis sou op die ou end een van die mees praktiese kombuise wees wat ons ooit gehad het.
Ons het daaraan gewoond geraak om tussen die stof en boumateriale te leef. Ons meubels was toegemaak onder plastiek en van pakplek was daar geen sprake nie. Die slaapkamer was nog sonder ‘n deur. Terwyl Pierre binne gewoeker het, het ek buite probeer orde bring. Ek het geglo dat die duwweltjies en bossies in die tuin eendag sou plek maak vir ‘n lushof van kleure en geure.
Die huis was op daardie stadium nie juis ‘n sierraad vir die oog nie maar ek het in my geestesoog gesien hoe ons en ons kinders heerlik saamkuier tydens vakansies. Ons sou pragtige herinneringe maak en ons eie klein paradys skep.
Die firma waar ons seun werksaam was, het hulle deure gesluit, maar ons het geweet sy talente en opleiding is in aanvraag. Werkloosheid was nie ‘n probleem in sy beroep nie.
Ons meisiekind was ‘n weermag-dokter by Een Militêr en het vinnig opgang gemaak. Ons was vol vertroue dat die nuwe Suid-Afrikaanse regering sou besef dat dit ‘n hospitaal van wêreldgehalte was. Die personeel se algemene kundigheid en ondervinding in trauma, rehabilitasie, ensovoorts, was wêreldklas en sonder weerga in die land, sowel as in die hele Afrika. Voorheen het die mediese korps se hulpverlening in die res van Afrika onder streng geheimhouding geskied. Nou kon hulle oop en bloot in rampgebiede diens doen. Die Afrika-staatshoofde wat onder die vorige bedeling in die geheim mediese behandeling by Een Militêr ontvang het, kon nou openlik pasiënte word.
Toe bel ons dogter een Sondagoggend vroeg uit Pretoria. Na ‘n paar gewone gemeenplasies, bars die bom. Sy het ‘n pos in Kanada aanvaar!
“Dinge begin moeilik raak by die werk en ek moet aan my toekoms dink. Dis net ‘n een jaar werkspermit en ek sal na die jaar besluit wat my te doen staan.” Suid-Afrikaanse mediese kwalifikasies is tot onlangs sonder voorbehoud deur Kanada erken. Elke Suid-Afrikaanse dokter moet egter drie Kanadese eksamens doen en effektief hulle finale eksamen oorskryf voordat hulle by die Kanadese mediese raad kan registreer.
Ons meisiekind sou die enigste dokter wees in Hudson’s Hope, ‘n klein dorpie in die noorde van Kanada. Dis ses maande van die jaar bedek met ‘n dik laag sneeu. In die warm somers vreet die muskiete mens lewendig op - nie ‘n plek vir sissies nie!
Wat kon ons as ouers maak? Nie veel nie. Ons het haar gehelp om van haar meubels ontslae te raak en om haar pragtige meenthuis in Die Hoewes by Centurion te verkoop. Haar kat sou ons s’n word.
Dit was ‘n bedeesde groepie wat daardie jaar kort voor Kersfees by die Kaapstadse lughawe afskeid geneem het. Van ons dogter se vriende was ook daar en die trane het vlak gelê. Ons seun het belowe om vir haar te gaan kuier en sy het belowe om die volgende Kersfees saam met ons in Sedgefield te wees: “Teen daardie tyd behoort die huis seker darem leefbaar te wees.”
Dit was nie ons lekkerste Kersfees nie. Ons dogter is met ope arms in Hudson’s Hope ontvang en haar nuwe vriende het gepoog om haar eerste Kersfees in Kanada iets besonders te maak, al was die temperatuur buite in die omgewing van minus 30°C. Twee weke na haar aankoms het ‘n pasiënt twee klein katjies by haar huis afgelaai, die eerste teken van ‘n verblyf wat nie net een jaar sou duur nie.
‘n Paar maande later was ons terug by die lughawe, hierdie keer saam met ons seun en sy vriende. Hy was op pad na die VSA toe, om nooit weer terug te keer nie. Ek het openlik gehuil. Sy emigrasie was vir ons en vir hom baie moeiliker. Dit sou langer as ‘n dekade neem voordat hy ‘n Amerikaanse burger kon word.
Ons huis in Sedgefield is met verloop van tyd klaar gebou. Die tuin was mettertyd die lushof van my drome. Soos *Outa Jan Schoeman van Prins Albert eenkeer aan my gesê het: “Daar’s altyd genoeg krag as iets gedoen moet word en niemand anders kan help nie.” Ek het sy woorde onthou wanneer ek plat op my jis op die welige grasperk gesit het en skywe appels aan die wilde skilpaaie gevoer het .
Sedgefield se leuse is: “Waar die skilpad die pas aangee.” Die mooi omgewing en diepe rustigheid was salig, maar die verlange na ons kinders was soms onbeskryflik.
Baie van ons vriende het daar saam met ons gaan aftree. As hulle kinders egter kom kuier het, was dit stil by ons. Gelukkig was daar darem die weeklikse oproep van ver af en ‘n
stroom e-posse om te troos...
* “Outa” was sy eie keuse as aanspreekvorm. Hierdie statige ou wysgeer met sy bont lasppiesjas was ‘n geëerde inwoner van Prins Albert. Hy het dikwels sy ou skotskar, met die drel kleiner karretjies agteraan, voor die Fransie Pienaar-museum in Prins Albert parkeer. Dan het hy besoekende toeriste vergas op sy dosyne stories en wyshede. Outa het dikwels afskrifte van ‘n artikel oor hom wat in Die Burger verskyn het aan toeriste uitgedeel. Ongelukkig kon buitelandse besoekers nie die Afrikaans verstaan nie en ek het die artikel vir hom in Engels vertaal. My betaling? Drie van die soetste turksvye wat ek ooit geëet het. Daar is soveel mooi stories oor Outa. Hy het, tragies, aan die einde van verlede jaar doodgebrand nadat sy lappiesjas per ongeluk aan die brand geraak het.