Klipsop: Sakke sout
2012-01-26 15:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ken jy die storie van die man wat in ‘n arm dorpie aangekom het? Almal was amper dood van die honger. Toe maak hy ‘n groot pot vol water op ‘n vuur staan in die dorpsplein en plaas ‘n klip daaraan om sop te maak. Die inwoners het een vir een nadergestaan, elkeen met een ding om in die sop te gooi: ‘n wortel, een ui, ‘n aartappel, ens. Hy kon op die ou end die klip uithaal en vir elkeen ‘n bak voedsame sop gee. Dis wat ek graag wil doen. Elkeen praat saam en op die ou end het ons baie lekker stories. Ek hoop...
Hier gaan ons:
Dis eintlik nie té moeilik om getroud te bly nie, al is die vele sakke sout wat saam opgeëet word miskien uiteindelik net so sleg vir die bloeddruk soos ‘n egskeiding. Dinge behoort egter goed te gaan as mens net deur daardie eerste klompie dekades kan kom; sê maar die eerste vier… dink ek...
Jy raak half gewoond aan jou maat se geite teen die einde van die dertigste huweliksjaar. By die vyf-en-veertigste jaar van samesyn besef jy uiteindelik; daar’s geen salf aan te smeer nie. Hy’s so gemaak en so laat staan. Dis dan wanneer jy maak soos skoonsus sê: “Nee vrek, ons kan hulle maar nou net sowel opgebruik, want ons kan vergeet om hulle ooit te verander!”
Dank die Vader vir die skeut humor wat Hy so vrylik uitdeel om te help met die skiwwigheid.
Ons meisiekind het sopas afgestudeer en ons seun was in sy finale jaar op kollege toe die noodlot in alle erns aan die deur kom klop het. Toe ek een aand onverwags in die badkamer instap, sit wederhelf sopnat op die rand van die bad.
“Wat gaan aan?”
“Niks, ek rus net so ‘n bietjie. Ek sal nou-nou verder stort.”
“Waarom?”
“Waarom al die vrae? Omdat ek lus is. Daarom!”
Dit was die eerste keer dat ek gehoor het ‘n mens stort in sessies. Ek het skielik onthou dat daar ook ‘n paar keer “gerus” was as ons in die tuinpaadjie opstap. Om die waarheid te sê, al die “rustigheid” het al hoe meer verdag begin lyk. Iewers was daar fout.
Kyk, ons vrouens karring nie, maar ons het lankal geleer van gapings vat. Dit help byvoorbeeld om onverwags ‘n vraag te vra wanneer ‘n man se oë vasgenael is op ‘n rugbytoets op televisie.
“Die rustery? Dis net sodat die dekselse pyn in my bors kan weggaan.” Was sy ongeërgde antwoord terwyl hy die bak grondboontjies naderhark.
Ek het my nie dadelik so te sê uit my geloof uit geskrik nie. Dit het eers drie dae later gebeur na die nood-angiogram in die hospitaal.
Dis toe dat die kardioloog kalm aankondig: “Ons hou jou sommer hier, mnr. Kotzé. Ek glo nie ons sal vanaand al die operasie kan uitvoer nie, maar jou hartomleiding sal beslis môre gedoen word.”
Snaaks hoe weerloos mens raak as dinge buite beheer is. Ek en ons kinders het verwese rondom my man se hospitaalbed gestaan en nie mooi geweet wat om te doen nie. Hy was nog nooit in sy lewe in ‘n hospitaal nie en nou was sy lewe skielik in gevaar.
“Pa gaan oukei wees,” het ons dogter belowe. “Onthou pa die balletonderwyser van my laerskooldae? Wel, hy het twee keer pa geword na sy hartomleiding. Pa sal sommer gou weer ‘n jong bok wees.”
Dit was ‘n lang nag vir ons almal. Ons seun moes eksamen skryf, maar ek en ons meisiekind was vroegoggend weer by die hospital. Die ure het verby gedraal.
Uiteindelik het die hartsjirurg tevoorskyn gekom. Daar was vyf verstopte are wat herstel moes word, maar Pierre was wakker en in die hoësorgeenheid. Ons mag maar vir ‘n paar minute na hom toe gaan. Hy’t baie klein gelyk tussen die dosyne masjiene waaraan hy gekoppel was. Ek het sy hand in myne geneem en hy het myne stewig vasgedruk.
Die suurstofpyp is ‘n paar dae later verwyder en Pierre kon uiteindelik weer met ons praat. Daar was steeds talle buise wat hom aan die flitsende en brommende mediese toerusting rondom hom gekoppel het.
Hy het my met moeite nader gewink en saggies in my oor gefluister: “Vrou, ek hoop nie jy gee om nie, maar ek voel nie juis vanaand lus vir kafoefel nie. Kan ons dit maar later doen?”
Dis toe dat gewéét hy gaan herstel! Solank hy net nie met daai balletonderwyser se trieks kom nie!
* Al iets soortgelyks beleef? Kom deel gerus jóú sakke sout hier.