Knieknik: Pienk voetjies in die pienk paleis
2012-07-04 11:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dis 'n volle jaar later. En dit is skoon by my verby.
Wat? Vra jy my? Die eerste huweliksherdenking van prinses Charlene en prins Albert van Monaco natuurlik!
Maar met Tomkat wat skei en die Britse koninklike familie se geldsake wat so pal in die nuus is, vergeet ek toe geheel en al van die klomp in Monaco.
So die amptelike herdenking was 'n paar dae gelede al, op 2 Julie.
Saam met die persverklaring van die Pienk Paleis wat gisteraand laat in my facebook-posbus val, is daar ook 'n pragtige foto van die twee. Charlene lyk inderdaad soos 'n Griekse godin, en ek wens tog van harte dat sy en prins Albert inderdaad binnekort ouers word.
Met al die bespiegelings voor en ná die troue, weet 'n mens nou nog nie of dié huwelik regtig ware liefde is nie.
Ek wil tog so glo, ek hou immers van sprokies, al weet 'n mens tog dat vandag se lewe nie regtig-egtig plek kan vind in 'n outydse storieboek nie. Maar 'n mens mag droom…
Met jaar een agter die rug, kan die tweetjies seker nou al die gegons agter hulle sit en werk maak om inderdaad Pienk Voetjies in die Pienk Paleis te laat opklink.
Net die toekoms sal leer…
In Monaco was die eerste huweliksherdenking egter nie al om oor fees te vier nie.
Nog 'n huwelik is op die horison. Dié van prinses Caroline se oudste seun, Andrea, en sy meisie van die afgelope sewe jaar, Tatiana Santo Domingo. Hulle het dus ook reeds die spreekwoordelike sewe sakke sout saam opgeet. Tatiana kom uit 'n skatryk Columbiaanse familie en Andrea was tot en met die verlowing een van die mees hubare vrygestelle in Europa.
Die troue is in 2013, beslis nog 'n "sprokie" om na uit te sien.
* Volg Arlene Prinsloo Publiek op Facebook om op die hoogte te bly van die koninklikes se doen-en-late.