Kop & Hart: My God is beter as jou God

2012-09-20 12:34

Daar is baie gelowige mense, dwars oor die wêreld heen, wat mekaar haat, demoniseer en selfs doodmaak in die naam van hulle God en hulle waarheid. Ja, die Midde-Ooste kry dalk die meeste slegte publisiteit op die oomblik, maar moet nie vir een oomblik dink dit gaan beter in Christelike lande nie. Die hartseer werklikheid is dat mense bereid is om mekaar wreed dood te maak net omdat die ander nie soos hulle glo, dink of doen nie.

Hiervan is die bloedige betogings by Amerikaanse ambassades in talle lande, onder meer Libanon, Jemen, Indië, Tunisië en Egipte, ‘n wrede herinnering. Die betogings en aanvalle is onder meer veroorsaak deur die gewraakte Amerikaanse video, Innocence of Muslims, wat die spot dryf met die Profeet Mohammed. In die fliek word Mohammed verkleineer en as ‘n sedelose bedrieër uitgebeeld.

Alles het begin toe ‘n Egiptiese TV-stasie ‘n gedeelte van die film uitgesaai het. Wat die hele saak nog verder gekompliseer het is dat die film vervaardig is deur ‘n Egiptiese Koptiese Christen en die film vermoedelik gefinansier is deur ‘n Christelike groep met die naam Media for Christ. Dit het net weer die ou wonde van die eeue oue konflik tussen Christen en Islam oopgekrap.

Die betogings het al heelwat lewens geëis, benewens die Amerikaanse ambassadeur in Benghazi, Libië, wat saam met drie van sy landgenote om die lewe gebring is, en minstens twee mense wat voor die ambassade in Soedan doodgemaak is, is ook ‘n soldaat deur ‘n aanvaller in Afganistan vermoor. ‘n Selfmoord-bomaanvaller het in Kaboel, Afghanistan met haar motor in ‘n voertuig vasgejaag en tien mense is dood waarvan agt Suid-Afrikaners was.

Hierdie tipe sinlose bloedvergieting is egter nie iets nuuts as dit kom by gelowige mense se veldtogte teen die sogenaamde "onheiliges" nie. Dink maar aan hoeveel onskuldige mense het gesterf met die Christen-kruistogte. In die 12de eeu het pous Innocentius III in Europa vele Christene opgeroep tot ‘n militêre veldtog na die Heilige Land (verowering van Jerusalem) teen die Moslems. Dit was die Vierde Kruistog – ‘n ekspedisie wat uitgeloop het op baie, baie bloedvergieting.

Die ou-ou stryd tussen Christen en Moslem, net soos die smeulende haat tussen Hindoes en Moslems. Jode teen Christene. Natuurlik nie uitgesluit nie: die binnegevegte waar Christene teen Christene baklei en Moslems teen Moslems, en hier hou dit ongelukkig ook nie op nie. Almal voel hulle het die regte verstaan van God en Sy wil.

Die realiteit vandag is natuurlik presies wat die Zen leermeester Thich Nhat Hanh vir ons sê: “Until there is peace between religions, there can be no peace in the world.”

Want verskillende godsdienstige oortuigings is ‘n realiteit. Verskillende interpretasies van die werklikheid is ‘n gegewe. Of ek of jy daarmee saamstem of nie maak nie regtig saak nie, want dit is die werklikheid van die wêreld waarbinne ons leef. Ons kan dit nie wegwens of ontken nie. En dit gaan ook nie help, om te probeer maak asof alle godsdienste dieselfde is nie, want dit is nie!

Die Christen geloof is anders as die Islam-geloof en Hindoes glo anders as Boeddhiste en Humaniste dink verseker baie anders oor die lewe as gelowiges in die Judaïsme.

Dus: om almal onder een sambreel te probeer inforseer, is nie net naïef nie, dit is dom en gevaarlik. Dit is hoekom die filosoof Frantz Fanon op ‘n keer gesê het: “He who is reluctant to recognize me opposes me.”

Wat ek dink ons eerder gaan help is om die verskille te erken, eerder as ontken. Slegs as ons hierdie verskille erken en aanvaar kan ons begin soek na die ooreenkomste; kan ons met mekaar begin gesels en in eerlike dialoog poog om punte van oorvleuling en samewerking te vind.

En daar is baie raakpunte tussen gelowe. Ja, verskillende gelowe het hulle eie unieke oortuigings van aanbid, optree en lewe, maar dit is tog duidelik dat ons dieselfde planeet deel met mekaar, en dieselfde behoefte het tot oorlewing, vrede en geluk. Desmond Tutu verwoord dit so: “My humanity is bound up in yours, for we can only be human together.”

Alhoewel verskillend van siening, deel alle gelowe ook die oproep tot liefde, oproep tot omgee, vergewe, uitreik na die minder bevoorregtes en om vrede te bewerk, nie waar nie? Presies dit wat die skrywer Eboo Patel sê: “Show me a religion that doesn’t care about compassion. Show me a religion that doesn’t care about stewardship of the environment. Show me a religion that doesn’t care about hospitality.”

Wat ek tot nou gesê het, beteken natuurlik nie dat ek ‘n passiewe, kritieklose ingesteldheid tussen gelowe voorstaan nie. Jy hoef mos nie altyd met iemand saam te stem om sinvol met hom of haar te kan saam leef nie. Waarna ek eerder verwys is die styl van respek en sensitiwiteit vir ‘n ander se oortuigings. Dit is een ding om te glo jy is op die regte pad, dit is totaal ‘n ander ding om te glo net jou pad is die regte pad.

Intergeloof-dialoog het ten doel om die punte van ooreenkomste te vind en uit te lig. Dr. Karen Singh verduidelik dit so: “What interfaith seeks to do is to not allow religion to fall back into confrontational modes, into contemporary crusades and jihads, rather to move onwards to a new level of interfaith harmony and understanding.”

Met ‘n respekvolle en verdraagsame houding kan ons dus mekaar benader, nie met wat is die régte godsdiens nie, nee, eerder met wat is die regte godsdiens vir jóú.

Want godsdiens is ‘n menslike reaksie op hoe mense die goddelike in hulle realiteit beleef en vertolk. Godsdiens is dus ‘n menslike skepping en menslike tradisie, wat gebore is uit menslike kultuur, taal en gebruike. Ek stem daarom saam met Steve Toltz as hy sê: “To me, it was obvious man created God in his own image. Man hasn’t the imagination to come up with a God totally unlike him.”

Daarom sou ‘n gemeenskaplike punt van ontmoeting tussen mense van verskillende gelowe kon wees; dat die gesprek nie moet handel oor, wie is reg of verkeerd nie, soos meestal die geval is nie. Want meeste sulke gesprekke wissel ongelukkig tussen: geen godsdiens is reg; want daar is geen god nie, tot by argumente soos: nét die Christendom is reg, want Jesus is die enigste weg, of nét Islam is reg, want Mohammed is die laaste ware profeet. Nee, dit sou veel sinvoller wees om so ‘n gesprek te benader vanuit respek of soos Bishop John Shelby Spong dit verduidelik: “I would like the church to be a place where the questions of people are honored rather than a place where we have all the answers. The church has to get out of propaganda. The future will involve us in more interfaith dialogue ... We cannot say we have the only truth.”

Ek dink ook nie dat hierdie tipe gesprekke vanuit magsposisies kan plaasvind nie. Want ongelukkig word die verskille tussen gelowe meer op die spits gedryf, nie noodwendig deur die inherente geloofsverskille nie, maar eerder deur politieke agendas. C. Welton Gaddy omskryf dit as volg: “Every time that religion has identified itself or entangled itself with a particular political movement or a particular government, religion has been harmed by that. I see religion as a powerful positive healing force for the world. But that force is blunted, weakened, compromised inestimably, if we turn religion into a tool for advancing political strategy; if we make it a matter of how to win political office; if we treat it as anything other than a sacred part of life from which we ought to draw sustenance and values and strength for living courageously as good citizens.”

En is dit nie die waarheid nie? Kyk maar net na ons geskiedenis hier in Suid-Afrika. Elke keer wat ‘n godsdiens homself te naby aan die heersende politieke party geskaar het, is die fokus van liefde, vergifnis en minste wees, vinnig gekontamineer met die vergrype aan mag. Maar dit vir eers daar gelaat.

Hierdie oproep van my tot intergeloof-dialoog, wat fokus op die ooreenkomste, o.a. van die oproep tot liefde, is ‘n universele oproep. ‘n Oproep wat al meer as 2 500 jaar terug gedoen is deur die Griekse filosoof Sophocles: “Een woord bevry ons van die gewig en pyn van die lewe; en dit is die woord liefde.” Ook in daardie tyd het die Chinese filosoof en leermeester Lao Tzu gesê dat liefde die sterkste krag op aarde is en dat alle mense, nie net Chinese nie, opgeroep word om dit sigbaar te maak.

Net so kan ons dieselfde boodskap vind in die Bhagavad-Gita (Hindoeïsme), die Sutra Nipata (Boeddhisme), geestelike lerings van Black Elk en vele Afrika spirituele tradisies, om nie eers om te noem Hebreeuse- en Christen-geskrifte nie. Almal roep hulle volgelinge op tot Liefde, Omgee en Sorg.

Om my punt te illustreer, wil ek afsluit met so ‘n inter-geloofsgesprek wat ‘n ruk terug plaasgevind het tussen die Brasiliaanse Christen-teoloog, Leonardo Boff en die Dalai Lama (Tibettiaanse Boeddhis). Boff vra op ‘n stadium in die gesprek vir die Dalai Lama watter godsdiens dink hy is die beste godsdiens om aan te behoort. Die Dalai Lama antwoord hom toe: “Die beste godsdiens, is die godsdiens wat jou die naaste aan die Goddelike bring! Die godsdiens wat van jou ‘n beter mens maak.” Boff se opvolgvraag was natuurlik: “Wat maak van jou ‘n beter mens?” En die Dalai het geantwoord: “Medemenslikheid, sensitiwiteit vir ander, liefde, verantwoordelikheid, om los te wees van te veel besittings, en om regtig om te gee vir ander.”

Toe vra Boff vir die Dalai of hy godsdienstig is, en watter godsdiens dit is, waarop die Dalai toe antwoord: “Wat belangrik is, is nie of jy godsdienstig is en wat die inhoud van jou godsdiens is nie, maar wat belangrik is, is hoe jy teenoor jou familie optree, teenoor jou medemens en teenoor die wêreld. Die heelal is ‘n eggo van ons dade en van ons denke. As jy met liefde optree, sal jy liefde ontvang. As jy boos is, sal jy ook boosheid terugkry.”

Hiermee het die Dalai Lama gewys op sy eie filosofie van; hou wag oor jou gedagtes, want dit word jou woorde. Hou wag oor jou woorde, want dit word jou dade. Hou wag oor jou dade, want dit word jou gewoontes. Hou wag oor jou gewoontes, want dit word jou persoonlikheid. Hou wag oor jou persoonlikheid, want dit word jou lewe.

En jou lewe sal jou boodskap wees!

Presies dit wat ek ook glo. Want sien as jou godsdiens nie van jou ‘n beter mens maak nie, is dit nie die regte godsdiens vir jou nie. As jou godsdiens nie jou elke dag lewe kan infiltreer en jou goddeliker, sagter, eerliker, liefdevoller en medemensliker laat leef nie, wat is dan die sin daarvan?

Miskien as meer mense hulle godsdiens so verstaan het, sou minder van hulle die behoefte gehad het om bomme aan hulle lywe vas te bind of vernederende video's te maak of met geweld ander gelowiges te haat.

Jim Wallis: “We can find common ground only by moving to higher ground.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
212 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Nuutste Blogs-kommentaar

Leendert Van Oostrum sê... Die boodskap hieronder is verwyder nadat Danie Booi om 17:33 op 23 Mei (sien bo) daarop gereageer het. Ek het dit weer geplaas, en dit is weer verwyder. (Ek het dit nou gewysig om te kyk of dit aan Rapport se subjektiewe "kommentaarbeleid" met sy onuitgesproke kriteria voldoen.) Heel duidelik beskerm Rapport die intergeloofevangelie van sy huispriester teen geregverdigde kritiek. Ek plaas dit dus nou vir die derde maal: "Meestal loop enige kontak tussen verskillende godsdienste vinnig uit op konflik en baie keer selfs bloedvergieting." Op watter gronde word hierdie stelling as so 'n "altydgeldende waarheid" verkondig? Het Dr Pienaar alle kontakte tussen verskillende godsdienste waargeneem en bevind dat daar meer kontakte is wat uitloop op konflikte as die kontakte wat NIE uitloop op konflik nie? Indien ja, waar kan mens sy data besigtig? Indien nee, is dit nie 'n uiters onverantwoordelike stelling om te maak nie, 'n propagandistiese uitlating wat godsdienste as sodanig verdag te maak? Opmerkings soos hierdie laat mens begin om Dr Abel Pienaar te verwar met Dr Paul Goebbels, Hitler se Ryksminister vir "Public Enlightenment and Propaganda" (die Engels gee net die regte toonaard weer). Dit lyk asof Dr Pienaar elkeen van Goebbels se propagandabeginsels in die fynste besonderhede toepas. Waarom behandel Dr Pienaar sy lesers met die propagandamaniere van 'n Goebbels? Lees die storie...

Weer
Lotto
Ksd: 16-18°C Numerous showers. Mostly cloudy. Mild. Pta: 8-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 9-19°C Sunny. Mild. Bfn: 9-23°C Mostly sunny. Mild.
Dbn: 17-29°C High level clouds. Pleasantly warm. PE: 12-20°C Rain late. Afternoon clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

BDE ? Clearing & Forwarding

Durban
Communicate Cape Town Engineering
Market Related

Branch Manager

Johannesburg CBD
Communicate Cape Town Engineering
Market Related

Project Estimator

Johannesburg CBD
Communicate Cape Town Engineering
Market Related

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Southern Sun - Maputo

Spend 3 nights and pay for 2 at Southern Sun - Maputo for only R4 621 per person sharing. Includes accommodation, return flights, airport taxes and airport transfers.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii 7” LCD-e-leser in kleur + R160 e-boekkoopbewys – Soos gesien op TV

Lees e-boeke, kyk na video’s en luister na musiek met hierdie ongelooflike e-leser, nou slegs R799. Koop nou.

Witwarm Weber-aanbod!

Kompakte braai van 57cm + GRATIS deksel + GRATIS visbraai vir R1299.95. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Wreck-It Ralph nou beskikbaar

Jy en jou kinders sal dol wees oor hierdie jolige avontuurpretrit van Walt Disney. Beskikbaar op DVD, Blu-ray en in 3D. Koop nou!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

There are new stories on the homepage. Click here to see them.