Kop & Hart: ‘n Nuwe Kersverhaal

2012-12-13 13:44

In hierdie tyd het wêreldleiers bymekaargekom en ‘n bevel uitgevaardig dat daar volkstellings oor die hele wêreld gehou moet word. Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie geboorteland.

‘n Jongman en sy verloofde, wat swanger was, het saam gegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.

Sy het haar eerstelingseun in die wêreld gebring en hom in doeke toegedraai en op die agtersitplek van hulle huurmotor neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in haar geboortedorpie oor was nie.

Daar was mynwerkers in daardie omgewing wat in die plakkerskamp net buite die dorp gewoon het. Hulle het buite om ‘n vuurtjie gesit en kuier. Meteens staan daar ‘n man met ‘n wit pak voor hulle, en die kalmte en vrede van die man het hulle verstom. Hulle het aanvanklik baie groot geskrik.

Toe sê die man vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele wêreld bedoel is. Vandag is daar vir julle in die hierdie klein dorpie ‘n verlosser gebore! En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en op die agtersitplek van ‘n huurmotor.”

Skielik was daar saam met die man in die wit pak ‘n menigte mense met flitsende kameras en mikrofone, wat almal tegelyk geskreeu het: “Wie is hierdie kind?”

“Waar is hierdie kindjie?”

“Wie weet wie is die biologiese pa?”

En: “Gaan die ma die kind hou of gee vir aanneming?”

Nadat die man in die wit pak en die menigte ander mense van hulle af weggegaan het, het die mynwerkers onder mekaar begin praat: “Kom ons gaan reguit dorp toe om te sien wat gebeur het.” Hulle gaan toe haastig daarheen en kry die paartjie en die kindjie wat in die kar toegedraai lê. Toe hulle hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie kindjie aan hulle gesê is.

Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die mynwerkers hulle vertel het. Die jong ma het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink.

Die mynwerkers het toe teruggegaan terwyl hulle gepraat het oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos wat die man in die wit pak dit vir hulle gesê het.

Die mynwerkers het onder mekaar begin redeneer oor wat die betekenis van die man in die wit pak se woorde sou beteken toe hy gesê het: “Dit is Hy wat eendag mense gaan bevry van die slawerny van hulle dogmatiese en eng denke. Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy is ook in my, deel van my en ek van hom.”

In die jare wat gevolg het, het hulle met belangstelling die kindjie se grootword dopgehou. Gereeld was daar in die media bespiegel wie en wat die betekenis van hierdie kindjie was. En elke woord en handeling van die kindjie is op rekord geplaas en wêreldwyd gepubliseer.

Die kindjie het heeltyd deur beelde en gelykenisse gepraat. Dit het natuurlik baie ruimte vir misverstaan gelaat. En mense het verkeerdelik begin dink dat die kindjie iets anders was as net ‘n gewone mens; dalk was hy eerder ‘n God, ‘n engel of ‘n bonatuurlike wese.

Op ‘n keer toe ‘n groot skare rondom hom saamgedrom het, het hy gesê: “Dit verseker ek julle: Wie werklik luister na wat ek sê, sal wakker word vir hulle eie waarheid en sal dan waarlik vry wees. Dit sal wees soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Mense wat dit gehoor het en dit verstaan het, het ‘n innerlike verligting beleef. Hulle oë het oopgegaan en hulle het vrywording beleef. Maar ander se harte het verdonker en hulle het gesê: “Is dit nie ‘n buite-egtelike kind wat in sonde gebore is nie? Ons ken mos sy geskiedenis. Hoe kan hy nou sê: ons moet vir ons self dink want die waarheid lê binne ons?”

Hierop sou hy dan antwoord: “Wanneer die wat julle lei vir julle sê: Kyk! Die waarheid is bo julle, sal die voëls van die hemel voor julle dit bereik. As hulle vir julle sê: Dit is in die see, dan sal die visse van die see voor julle daar wees. Nee, die waarheid is binne julle. Diegene wat hulle self leer ken sal dit vind, en wanneer jy jouself leer ken sal jy geken word en dan sal jy besef dat jy deel is van Groot Geheimenis. Maar as jy jouself nie leer ken nie sal jy altyd in slawerny verkeer en jy sal ‘n slaaf wees van ander se blinde denke.”

Soos die kindjie ouer geword het, het hy al meer onttrek van die samelewing. Want hoe hard hy ook al probeer het om mense vry te maak, hoe meer het hulle hom óf slaafs aanbid en nagevolg, óf gehaat en verafsku.

By vele geleenthede het hy gesê dat hy slegs ‘n rigtingwyser is. Maar dit het meestal op dowe ore geval. Hy het besef dat sy teenwoordigheid vir meeste mense ‘n struikelblok geword het. Hulle was soos skape wat ‘n herder soek.

Toe eendag, was hy weg.

Paniek het onder sy volgelinge losgebreek. Hulle was herderloos. Hoe moes hulle nou weet wat om te dink, praat en doen? Waar was die kindjie, hulle verlosser? Maande het jare geword.

Die kindjie was nooit weer gesien of van gehoor nie.

Legendes en mites het sy menslike spore begin wegvee, totdat daar geen herkenbare spoor van hom oor was nie. Al wat oorgebly het was ‘n dag, gemerk op ‘n kalender.

‘n Publieke vakansiedag, waar mense eenkeer ‘n jaar aan mekaar die ongelooflike stories van die avonture van die kindjie kon oorvertel. Avonture wat met tyd al hoe ongeloofliker geword het.

Jaarliks is op die dag kerse aangesteek, om die koms van die kindjie te herdenk.

Daar is by sulke geleenthede aan mekaar gesê: “Sy lig het kom skyn in die donker sodat ons kon sien. Nou skyn ons vir almal, sodat hulle ook kan sien!” Niemand het egter geweet wat dit beteken nie. Maar dit was so ‘n ou bekende rympie dat met die aanhoor daarvan, baie mense spontaan begin huil het.

Ander rituele wat van geslag tot geslag oorgelewer was, was byvoorbeeld, dat almal aan mekaar geskenkies gegee het op die vooraand van die dag. Mense het hierdie dag bly vier. Dit was onlosmaaklik deel van elkeen se identiteit.

Niemand kon later meer presies onthou wat die gebeure, die man in die wit pak of die kindjie se geboorte beteken het nie. Al wat mense kon onthou was wat hulle ouers vir hulle oorvertel het. En natuurlik dat die dag ‘n vakansiedag is vol lekker kos en geskenke.

Mettertyd het die dag se betekenis verskraal tot ‘n familie-kuierdag. Wat ook seker nie te slegte rede is vir so ‘n dag nie. Die eintlike geskenk waarvan die dag ‘n simbool was, was vergete. Hierdie geskenk se betekenis kon opgesom word in een sin.

Die geskenk wat mense vrygemaak het en nie gebind het nie. Die grootste geskenk! Wat was hierdie grootste van groot geskenke? Wat was die oorspronklike boodskap van die kindjie?

Wat het die man in die wit pak, so lank terug bedoel met “...‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele wêreld” bedoel is? Wat was die waarheid waarvan die kindjie gepraat het?

Die kindjie het op ‘n keer, toe hy die bogenoemde vrae gevra is, met ‘n glimlag geantwoord:

Wanneer jy na binne gaan sal jy ontdek, jy is ek, en wanneer jy dan na buite gaan sal jy ontdek, almal is ek.

Hierdie eenvoudige waarheid kon egter net ontdek word deur die wat vry genoeg was om dit self te soek. En hulle wat dit gevind het sal in hierdie tye die nuwe wyse manne en vroue genoem word.

Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die wyses vir die mense sê. En herinner mekaar om alles te onderhou wat die kindjie ons kom wys het.

En vier dit elke jaar, deur ‘n kers aan te steek. ‘n Simbool van die lig wat binne jou aangaan die oomblik wat jy verstaan: ons is almal die kindjie.

Hierdie kers se vlammetjie steek ‘n ander kers aan en ‘n ander en ‘n ander. En voor ons oë word die donker verdryf en die wêreld verlig. Gaan dan en vertel dit aan die wêreld; die ware betekenis van die kers-verhaal.

En maak daarvan ‘n fees. ‘n Verligtings-fees. ‘n Vrywordings-fees. ‘n Eenwordings-fees. ‘n Liefdes-fees. En noem dit dan sommer – Kers-fees!
 

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
168 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 10-18°C High level clouds. Mild. Pta: 2-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 3-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-19°C Morning clouds. Mild.
Dbn: 7-22°C Sunny. Mild. PE: 11-18°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Good Morning, Mr Mandela van Zelda la Grange

Good Morning, Mr Mandela vertel die uitsonderlike verhaal van hoe ’n jong vrou se lewe, oortuiginge, vooroordele en alles waarin sy eens geglo het verander is deur die grootste man van haar tyd. Nou R221. Plaas jou voorafbestelling nou!

Bespaar 25% op die gewildste 25 boeke!

Kry 25% afslag op die topverkoperboeke, wat insluit Low-Carb Living for Families, The Book Thief, How to Train Your Dragon en nog baie meer. Koop nou!

Tot 60% afslag met die opruimingsverkoping!

Bespaar tot 60% op toestelle, boeke, elektroniese ware, speelgoed, flieks en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe Afrikaanse uitreikings

Sien jy uit na die nuutse Afikaanse titels? ’n Vuurwarm verskeidenheid boeke is beskikbaar by kalahari.com. Bestel nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!