Lady Godiva: Is die kool die sous werd?
2010-09-03 10:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ek maak koffie terwyl ek met ‘n vriendin gesels, was sommer die skottelgoed ook so tussendeur. Sy het vroeër gesê sy gaan my bel. Net genoem dat sy omgekrap is. Ek ervaar haar as ‘n vrou met verstand. ‘n Vrou wat glo in reg en verkeerd, morele waardes het en daarvolgens leef.
Sy vertel my van ‘n vriendskap wat verkeerd gegaan het. Sy noem ook hoe sy haarself altyd bevraagteken het. Ek vra nie detail nie, ek luister net. Sy het nodig om te ontlaai en van al haar frustrasies ontslae te raak.
Sy noem ook dat die spesifieke persoon betrokke is by ‘n saak wat haar na aan die hart lê, die welvaart van minderbevoorregte kinders en om hulle lewens te verryk en uit te bou.
Ek hoor haar passie vir dit waarin sy glo. En ook haar frustrasie van haar kop teen ‘n muur stamp en nêrens kom nie. Nie omdat sy nie oor die vermoë beskik om nie ‘n kompromie aan te gaan of te kan kommunikeer nie, maar omdat die ander party net eenvoudig haar dwarsboom, en nie die groter prentjie raaksien nie. Sy praat uit die hart uit.
Ek vra haar DIE vrae: Is dit die moeite werd? Wat is in dit vir jou? Hoe gaan dit tot jou voordeel wees? Gaan jy jou waardigheid langs die pad verloor? Wil jy net ‘n punt bewys? Is dit goed vir jou? Is jy seker dat indien jy voortgaan met die geveg jy gaan kry wat jy wil hê?
Sy laat my dink...
Hoeveel keer het ek nie net iets gedoen om ‘n punt te bewys nie? Om net die ego’tjie te streel van ek weet tog beter as jy nie? Hoeveel tyd het ek nie al gemors net om my stem te laat hoor nie? En WAT het ek tog daarmee bereik? Niks?
Hoeveel keer het ek nie al voor my siel geweet jy brand jou hand aanhoudend op ‘n stoofplaat nie, maar gaan terug vir nog ‘n seerkry. Net om weer te probeer want in ongeloof KAN sus of so mos onmoontlik nie so optree nie?
Hoe eerlik is jy met jou elke dag se gevegte? Veg jy net of dink jy voor jy ‘n geveg begin? Is jy seker van jou strategie en is jy bereid om ‘n nederlaag te aanvaar? Oordink jy jou aksies en is jy eerlik met jouself in die opsig dat jy dit vir jouself doen of net vir jou ego? Verloor jy jouself in die proses van punt bewys of leer jy uit elke veldslag?
Miskien klink bogenoemde selfsugtig, miskien verwaand, miskien lafhartig, maar vra jouself die eerlike vraag is dit regtig werd om jouself net te wil bewys? Of is dit wat jy mee besig is regtig tot jou voordeel?