Lady Godiva: Stiletto's - hedonisme of bemagtiging...
2010-03-17 15:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ek is seker daarvan dat, indien daar so 600 jaar gelede stiletto's beskikbaar was, Lady Godiva dit beslis sou aangetrek het voor haar epiese tog deur haar tuisdorp.
Sy sou die perd gelos het en kaal deur die dorp met haar stiletto's geloop het. Die skoene sou beslis rooi gewees het.
Ek glo ook dat die geskiedenis anders sou verloop het as sy wel hierdie skoene gedra het . . .
Cleopatra sou ook ‘n kandidaat gewees het vir ‘n stiletto-diktator. Lucrezia Borgia sou heel waarskynlik in plaas van gif uit ‘n “jewel encrusted” ring liewer ‘n stiletto se hak gebruik het om haar vyande uit die lewe te help. Johanna van Arkel sou die hele Europa oorgeneem het en Katharina die Grote die ganse Ooste.
Elke land sou beslis ‘n vrou as president gehad het -- of selfs ‘ n koningin -- en net om seker te maak die geskiedenis verloop perfek sou alle vroue elke dag stiletto's gedra het en dit gratis by die staat gekry het.
Christiaan Laboutin, John Galliano, Manolo Blahnik sou as heiliges verklaar word en spesiale sypaadjies sou daar wees sodat geen vrou se stiletto-hak sou breek nie.
Maar helaas, Godiva het duidelik nie stiletto's gedra nie!
(Sug, sug, sug...!)
Gisteroggend staan ek voor my skoenkaste. Ek besit 152 paar skoene. Ja, ja, ja, ons almal het maar ‘n ou probleempie. Ek wonder of ek ooit weer ‘n stiletto gaan dra? Ek is 11 weke swanger en voel gedurig seesiek op land, stiletto's doen nie op die oomblik enige iets vir my nie. Flatties wel! Die gedagte om ‘n paar stiletto's aan te trek en daarmee net tot by my motor te loop wil my laat opgooi. (Braak is so ‘n afgewaterde woord! ) Ek vra die vraag op Facebook. “Sal ek ooit weer stiletto's kan dra?” En ek kry 55-plus kommentare, elkeen is skreeusnaaks en oor elkeen kan ek nog ‘n blog skryf. Stiletto's is ‘n inspirasie, selfs vir mans. Of sal ek liewer sê júís vir mans ?
Die New Statesman Magazine van 1959 het die eerste keer melding gemaak van ‘n vrou wat stiletto's gedra het en ‘n hak gebreek het. Die eerste ontwerper van die stiletto was volgens die internet Kristin S. Wagner.
Ek is oortuig dat vandag se ontwerpers meeding om te kyk wie die hoogste skoen kan bou, nie ontwerp nie, bóú. Gaan kyk na John Galliano se nuutste reeks vir 2010, jy moet omtrent op ‘n leer klim net om jou voet in die skoen te kan sit, en dan -- beslis -- moet jy nog leer om te loop.
Vóór jy as rolprentster/model/sosiale vlinder dit sou waag op straat sou jy eers moet leer loop met dié “monstrosities”.
Die inspirasie vir hierdie blog het gekom na aanleiding van my Facebook kommentaar en ook as gevolg van foto's in ‘n gesinstydskrif (?). Die arme jonge dame moet die heeltyd aan iets vashou in die foto's, haar skoene is sóó hoog en die vrees van val in stadige aksie is duidelik sigbaar op haar gesig. As sy nie sit met haar 15cm hakke nie, hou sy aan iets vas of leun sy teen ‘n deurkosyn. Ek kyk gereeld Fashion TV, nie net vir die nuwe modes nie, maar ek is seker daar gaan nog ‘n model struikel op haar stiletto-hakke en dít kan ek nie misloop nie. Hulle loop nie, hulle balanseer, party voete al so seer dat dit skoon skeef in die skoene pas. Die gesigte lyk nonchalant maar as jy mooi kyk sal jy sien -- en as jy daar is, hóór -- hoe daar op die tande gekners word.
En tog: stiletto's verkoop. Gee ‘n vrou ‘n paar stiletto's, of nog beter: een met ‘n rooi sool en sy verander in ‘n goddess, sy straal. Sy word langer, dunner, sexy, mooier en sy kan die wêreld oorwin!
Stiletto's is soos prozac, dit lig die gees. Stiletto's is soos Le Mer, Botox, Liposuction en ‘n gesigsontrimpeling. Al dra jy dit aan jou voete, jy lyk en voel oraloor goed.
‘n Asemrowende paar stiletto's sal die meeste vroue laat oe en aa, die bank laat bel om te hoor van ‘n groter oortrokke fasiliteit. Sy sal sommer verskeie kredietkaarte sáám gebruik om DIÉ PAAR SKOENE van ÁLLE TYE te kan koop.
Party vroue wat hier lees sal seker sê, nee hulle sal dit nooit doen nie, maar ek is seker daarvan deep down sou hulle wil as hulle kon! Daar sal nie soveel stiletto-kunswerke in tydskrifte en op die internet wees as vrouens nie belang gestel het en die skoene gekoop het nie.
Miuccia Prada sit tot blomme oral oor haar skoene en volgens my is van haar stiletto's die maklikste om te dra. Haar skoene sal jy in jou sitkamer WIL vertoon. Manolo Blahnik sal nog verklaar word tot ‘n skoen-heilige , sy ontwerpe is ook kunswerke en die sketse verkoop vir duisende euro's.
Ek oefen maar elke oggend om so ‘n tree of wat stap met my stiletto's, ek wissel hulle af, gaan lê op die bed wanneer ek seesiek-swanger-moeg
Ek is seker daarvan, dat indien daar so 600 jaar gelede stilett
raak. Natuurlik met die stiletto's stééds aan my langlydende voete.
Net om nie te vergeet nie: op ‘n paar stiletto's kan ek die wêreld regeer!