Lady Godiva: Wat maak jou bang?
2010-03-05 13:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Waarvoor is jy bang ?
Soos ‘n mens ouer word word jou vrese meer, meer intens. Jy ontwerp jou vrese vir jouself. Een vrees ly tot ‘n volgende een, én ‘n volgende een en só word die vrees net groter en die vreesbal kry meer momentum om alles op sy pad uit te vee.
My grootste kleintyd-vrees was ‘n mot, so ‘n harige, vlieëende ding. En dan natuurlik ook muise en rotte, die diertjies met die klein pootjies en rooi ogies, wat lyk of hulle jou lyf kan opknaag. Slange was ook op dié lys.
Ek het geleer hoe om Doom te gebruik. Muise en rotte? Ek trek nog steeds my bene op as ek een sou gewaar, maar ek weet nou hulle is banger vir my as ek vir hulle.
Slange? Onlangs roep buurman en sê hy het nou net ‘n slang in my tuin gesien. Ek het drie vierbeen kinders, dus het ek die slang gaan soek en ná vele kappe met ‘n graaf is die kalant middeldeur. ‘n Slang het ‘n dik vel, net soos vrees. Albei is moeilik om deur te kap. Ek het ook sy kop pap geslaan, want dié deel wou my sowaar pik. Twee uur later het ek eers begin bewe van skok en die volgende dag was my bo-arms seer. Ek twyfel of ek weer bang sal wees vir ‘n slang!
Één vrees wat steeds met my is, is om in ‘n publieke toilet vasgekeer te word. Om een of ander rede sal die deur nie wil oopgaan nie -- en ek sal daar moet bly vir die naweek. My selfoon sal ook nie opvangs hê nie en my man, vriende, wie ook al, sal nie die foon hoor lui nie! Lekker ou vreesbal, né! Wanneer ek ‘n publieke toilet gebruik maak ek seker dat die deur maklik oop en toe gaan, en dat ek nié sal vassit nie. Ek voel ook so oor die lewe, ek wil nie vassit nie. En ek sál nie vassit nie.
Tot drie jaar gelede was vrees my baas. Die vrees vir motorfietse was my baas en vóór dit, negentien jaar gelede, was perde my vrees. My hele lewe lank was vrees vir die dood my baas, maar dit is 'n onderwerp vir 'n ander dag. Om ‘n vrees te hê is menslik, ons almal is bang vir iets. Dit is wát ons doen met hierdie vrees en of ons toelaat dat dit ons lewens bederf en oorheers.
My man is dood vanweë my eerste vrees en die tweede een, 'n perd, het my aan my voet gesleep. Nogtans het ek weer ‘n motorfiets gekoop en weer op ‘n perd geklim. Hoekom? Want ek het ‘n besluit geneem: my vrese, al is hulle hóé erg ookal, sal my nie beheer nie.
Deur hierdie twee vrese te oorwin het ek geen vrese meer nie en kan ek die lewe elke dag voluit geniet, ek kan lééf en ek kan sonder vrees lewe.
Miskien moet ek die vorige sin oorskryf... ek het nog vrees, ek is nog bang vir wat met my kan gebeur, maar ek wéét ek sal dit wat gebeur kan oorkom.
Om ‘n vrees te oorkom is nie maklik nie, dit vat ‘n kopskuif wat jy maar elke dag aan moet skuif en skuif. Jy moet gefokus bly op die wil om jou vrees te oorkom, en dan die ergste: jy moet fokus op jou vrees, jy moet jou Nemesis in die oë kyk en eerste die six shooter se sneller trek!
My groot vrees was om weer op ‘n perd te kan klim. Hoekom sou ek weer op ‘n Vrees wou klim wat my aan my voet gesleep het? Die oorsaak was dat ek nooit weer kan ruik nie? ‘n Jaar van my lewe gesteel het en onherroeplik verander het?
Ek het perdry geniet vóór ek op ‘n grondpad gesleep is. Die gesoel van vryheid om op 'n perd se rug op die strand te gallop kan nie in woorde beskryf word nie. Die sagte groot bruin oë wat in jou siel kyk en die ore wat altyd luister as jy diep hartsake praat kon ek nie net totsiens voor sê nie.
My eerste rit na my cowgirl stunt-val was skrikwekkend. Ewe skielik was ‘n perd hoër as tevore, die kop en pote was massief en toe ek opklim was die pad grond toe bleddie ver!
Maar ek het opgeklim, ek en die merrie het stadig begin trot en toe in ‘n canter ingegaan. Ek het op my tande gebyt, my hande wat die leisels vasgehou het was sopnat gesweet, my boudspiere was op ‘n knopgetrek en my rug stokstyf. Nou was dit ek en vashou for dear life. Jy kan nie net sommer afklim as jy eers ry nie. Dan help dit nie meer om te sê ek is nou te bang nie.
Ewe skielik het ek gevoel ek kry ‘n nat snoek tussen die oë, dit was só lekker om te ry. My lyf het ontspan, en ek en my kwynende vrees het begin gallop. Die hoewe se dreun oor die aarde hoor ek nou nog, ek was óp my vrees en ek het haar gerý!
Só is ek genees van hierdie vrees, want ek het besluit ek gaan my nie laat terughou van al dié lekkerte nie. Ek het geweet ek sál, ek kán en ek hét. Die vars oggendlug teen my vel, die sonsopkoms oor die Karoo-koppies, die gerunnik van die perd, gekraak van die saal, hoe kon ek op al hierdie lekkerte van ‘n avontuur misloop ? My groot val het veroorsaak dat ek nie onmiddellik weer kon werk nie. Maar die feit dat ek my vrees oorkom het, het my weer verseker van ‘n werk.
Ek het vir ‘n jaar kinders met disleksie en Down-sindroom afgerig, ek het ook groot mense leer perdry. Dit was die beste jaar van my lewe, alhoewel ek ‘n paar ribbes voor ‘n kerk gebreek het. Én my neus gebreek het, want ek het nie ‘n martingale op my perd gehad nie (glo my, ‘n perd se kop klap seer). Én ‘n perd my gebyt het. Maar ek het opgeklim en weer gery.
Met élke opklim het ek oorwin.
Opklim, ry en vashou het my leuse geword, want die lewe is nie net elke dag ‘n lekker trot nie. Partykeer gaan jou lewensperd op loop met jou en vat dit ‘n láááng vasklou-rit voor die perd stop.
Ek wonder baie dae, het ek te hard op my kop geval? Ek is dan elke dag lus vir ry. Party van my mede-lewensridders sê dit is onmoontlik om gedurig op ‘n positiewe high te wees, "Tanya, daars fout met jou!" Hulle reken dit is boring om elke dag goed te voel oor die lewe.
Wel, wat hulle sê en ek vóél is twee verskillende dinge en geen mens gaan my ontneem van my lewensvreugde nie.
Ek word ook gevra hoe doen jy dit, hoe is jy altyd positief ? Wel ek is nie altyd op ‘n high nie, ek trot ook party dae, loop stadig deur plasse modder, gly stadig af van my perd af.
Dit is normaal om nie altyd te glimlag nie, maar dit is jou besluit of jy die lewe gaan rý, aldan nie. Die keuse is joune. Gaan jy jou vrees ry, of gaan jou vrees jóú ry?