Ommi-blog: hoe kan 'n mens verkragting hanteer?
2010-03-03 14:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Oor die tye heen bly verkragting maar eenmaal 'n woord wat by die meeste mense hewige emosie ontlok. Meestal afgryse, maar daar is helaas ook die onvanpaste, walglike grappies wat selfs vroue rondvertel. Ons het almal al onsmaaklikhede moes aanhoor oor sekueel desperate nonne, ongetroude vroue of gefrustreerde huisvrouens. Meestal kom die "grap" daarop neer dat die vrou 'n "goeie regsien" nodig gehad het. Dié soort onsensitiewe, oningeligte en pleinweg seksistiese stories laat die verstand duisel.
Verkragting kan blykbaar verskillende dinge vir verskillende mense beteken. Verkragting kan ook inderdaad van geval tot geval onder heel verskillende omstandighede plaasvind -- geen enkele een prettig nie. Daar is byvoorbeeld voorvalle van date rape, verkragting binne die huwelik of vaste verhouding, die verkragting van sekswerkers, sg. korrektiewe verkragting waar 'n man 'n lesbiese vrou sal verkrag om haar "reg te kry" en selfs gevalle waar 'n mán deur een of meer vroue verkrag is.
Met die nuwe omskrywing van die wet word dit regstegnies nou ook erken dat een man 'n ander een kan verkrag.
In die townships veral is daar verkragters wat spesifiek gay vroue teiken met die totaal misplaaste en perverse doel om haar haar seksuele oriëntasie te verander.
Wie sou dit ooit kon dink: omdat ek haar op gewelddadige wyse seksueel aanval en haar liggaamlike integriteit indring en probeer vernietig, sal sy van nou af aan eerder op mans verlief raak?
Weer eens: die verstand duisel.
RooiMier is oortuig daarvan: hoekom verkrag sekere mans? Omdat hulle kán. Dis 'n ingesteldheid teenoor vroue, dis 'n misdadige geneigdheid daartoe om 'n ander te onderwerp, te verneder, weerloos te sien, om koning te kraai oor iemand wat haar nie kan verset nie.
Oor één ding is sielkundiges, sosioloë en kriminoloë dit eens: verkragting is nie seksuele drange wat onder dwang bevredig word nie; dis uit en uit 'n gewelddadige mags-misdaad.
Ek is hier in jou huis, jy is 'n vrou, jy is weerloos en bang, ek het jou goed gevat, maar nou wil ek jou vir oulaas wys wie is nou hier baas. Ek sal jou liggaam gebruik en jou onderwerp aan my magtige wapen, my penis.
Die verkragter het heel moontlik 'n vrou of 'n vaste verhouding waar hy oorgenoeg seks en liefde kan ontvang. Die motief is ook selde seksuele aantrekkingskrag, vandaar dat ou mense, gestremdes en selfs kinders ook dikwels slagoffers is van verkragting. Om dieselfde rede is die uitlokking-verskoning snert en bloot 'n poging tot blame shifting.
Ek het regtig simpatie met Hettie Britz, die jong ma van Pretoria wat onlangs tydens 'n huisroof verkrag is. Maar ek wonder net hoe ander verkragtingslagoffers voel oor haar ongelooflike erbarming vir die verkragter. My gevoel is dat sy hom maar gerus kan vergewe, want dit sal haar self help om die trauma te verwerk. Ek sou nie wou sien dat sy hom vir ewig mag oor haar gee in die sin van ewigdurende slagofferskap, wrewelrige wrokke of dat sy hom voorlê en hom van sy hinderlike hingsel verlos met 'n stomp mes nie.
(Hoewel ek persoonlik nogal behae sou skep uit laasgenoemde idee. Maar dit daar gelaat.)
Maar regtig, om haarself te oortuig dat die man "liefde nodig gehad het" en dat sy hom graag sou wou omhels tydens die aanval? Beteken dit nou dat dit onchristelik sou wees as iemand wat 'n verkragting beleef het, deur 'n ernstige depressie getref word ná die voorval? Moet vroue wat lank terapie en berading moet ontvang ná verkragting nou voel hulle dien nie die Here na behore nie?
Behoort 'n vrou haar regtig te ontferm oor haar verkragter se vermoedelik emosionele en spirituele tekorte en hom so van Jesus se liefde te probeer oortuig?
Ek wonder of Charlene Smith, die bekende joernalis wat jare gelede in haar huis in Yeoville deur 'n rower verkrag is, hieroor sou sê?
Ek wonder wat die vrou wat as 'n Pretoriase 14-jarige tiener in 2000 deur 'n groep rowers om die beurt verkrag is, hiervan dink?
Baie mense was destyds geskok en verdwaas oor die
voorval. Uit Amerika het 'n Beeld-leser geskryf haar hart is gebreek oor "nog
'n lewe aan skerwe geruk is''. Vroue het vertel hoe so iets húl lewens
sou verwoes.
In 'n onderhoud, met haar
predikant en terapeut by, het sy vertel dat wat gebeur het, is nié "die big issue
in my lewe nie'', maar sy het erken dat dit 'n traumatiese uitwerking gehad het. Sy het egter besluit om nie toe te laat dat die verkragting gaan bepaal wie sy is en wat van haar lewe gaan word
nie.
"Wat gebeur het, het
gebeur. Jy kan dit nie help nie. Dis nie jou skuld nie. Dis verkeerd... maar
ek gaan nie hier sit en my dood-sulk daaroor nie.''
Dit herinner aan die Victor Frankl-filosofie: mens kan nie altyd bepaal wat met jou gebeur nie, maar jy kan besluit hoe jy daarop gaan reageer.
Ek wens Hettie Britz sterkte toe ná haar ervaring. Maar, dink 'n bietjie voor jy praat, wil ek by haar pleit. Dis regtig 'n uiters sensitiewe saak en baie mense het erger letsels as "glas in hul hare" ná verkragting.