Ommiblog: Wie is almal só?
2009-11-19 13:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Party van julle het darem baie kwaai gereageer toe ek durf suggereer dat die toi-toi moontlik sy oorsprong in Nederland kon gehad het. Wat my laat wonder het wat die uitslag sou wees as ons 'n meningspeiling onder ál wat Afrikaner is kon hou oor ras-gevoelens.
Voel die meeste van ons meerderwaardig teenoor rasse wat nie van Europese afkoms is nie? Of is dit net 'n klein groepie wat maar nog altyd neergesien het op mense wat anders lyk, ander godsdienste aanhang of 'n ander kultuur beoefen.
Vir my lyk dit of daar 'n groot groep neo-rassiste ontstaan het, hoofsaaklik uit die groep wat vroeër as liberaal beskou is. Was daar dus meriete in die agterdog wat daar destyds was oor die sogenaamde white liberals? Ek onthou een of ander informele opname waarvolgens die groot ondersteuners van die ou Progressiewe Federale Party (PFP) in Johannesburg se gegoede noordelike voorstede hulle huiswerkers skandelik sleg betaal het.
Hoe opreg was dié onder my mede-Afrikaners toe hulle hul teen apartheid uitgespreek het?
Ek het dit nie teen joernaliste soos Max du Preez, Tim du Plessis en Christi van der Westhuizen wat uiters krities na die vorige regime gekyk het en wat deesdae ook kritiek teen die ANC-regering se vergrype en mistastings uitspreek nie.
My probleem is met witmense wat ras in alles inlees en álle negatiewe gebeure daarheen herlei. Asof witmense die kopiereg besit op eienskappe soos moraliteit, eerbaarheid, goeie burgerskap, hardwerkendheid en selfs intelligensie.
Miskien gaan dit oor onrealistiese verwagtings.
Miskien was dit maklik om téén apartheid te wees toe swart mense nog uit die (wit) oog in die townships moes bly en net gesien is waar hulle stilweg in wit woonbuurte huise kom skoonmaak het en tuine versorg het. En natuurlik tee gemaak het vir wit kantoorwerkers. Swart geleerdes, soos onderwysers en akademici, is ook eenkant gehou waar hulle by swart universiteite en skole gewerk het. Swart professioneles het ook bitter min met gewone witmense in aanraking gekom.
En toe, in 1994, is die swartes op ons doorsteps. Die regses het gereageer soos te wagte -- geen verrassings dáár nie. Die fenomeen wat my stomgeslaan het was sovéél van my sg. verligte vriende wat skielik steen en been begin kla het oor swart bure se maniere en gewoontes, sterk twyfel begin uitspreek het in swart vermoëns en motiewe. Met 'n besliste rassistiese onderbou.
Dit het nie gehelp om te probeer walgooi deur hierdie wittes op swart onderwys en die nalatenskap daarvan te wys nie, of om te sê onthou van kultuurverskille en eeue-oue ingeburgerde tradisies nie.
Daar was, en is steeds, 'n totale gebrek aan verdraagsaamheid by baie van my ou white liberal-vriende.
Dis ook die tragiese uitwerking van apartheid. Mense is só effektief uitmekaar gehou dat hulle nie begrip of insig kon ontwikkel in mekaar se alledaagse gewoontes nie. Kontak het gewoonlik bestaan uit 'n werkgewer/werknemer-verhouding.
Natuurlik is daar by alle regdenkende mense in dié land kommer oor soveel dinge, ek ontken dit nie. Ek sidder as ek die woord Eskom in 'n opskrif sien -- en misdaad... meer hoef ek nie te sê nie.
Wat vír ons almal werk is 'n uitstekende grondwet wat regte beskerm, 'n regstelsel waar mens jou saak kan stel (die Solidariteit-saak oor regstellende aksie bewys dit tans weer), 'n meerderheid inwoners wat eerlik en hardwerkend is en oorgenoeg mense wat opreg strewe daarna om van Suid-Afrika 'n suksesverhaal te maak.
My pleidooi is net dat ons álmal moet ophou om die raskaart uit te pluk wanneer dinge nie na ons sin is nie. Wittes is baie vinnig om te kla wanner mense soos Chuene en Malema die raskaart speel, terwyl baie van ons ook net in terme van swart en wit dink.
Feit is: die meerderheid mense in ons land is swart. Feit is: ons het 'n swart regering en dit sal nooit verander nie. Hou nou op kla en kom met positiewe bydraes.
Suid-Afrika is 'n Afrika-land waarvan die meerderheid inwoners swart is. Deal daarmee.