Op vlerke: Ontbytdam

2012-08-10 09:56

Om drie uur die oggend staan ons op vir ‘n besoek aan die Wildtuin. Die tasse en saamneem-goed is al die vorige dag gepak en staan gereed om na die motor gedra te word.

Ons sal vir die eerste twee nagte in Letaba kamp oornag en het ons besluit om by Orpenhek die wildtuin binne te gaan. Op die Orpen-Satara pad, so tien kilometer voor die Satarakamp, is die Nsemani-dam en daar beoog ons om middel-oggend laat-ontbyt te gaan nuttig.

Die vorige dag het Kate gegeurde maalvleis-frikkadelletjies, vir die vorige aand se ete en vir laat-ontbyt by die dam, in die braaipan gemaak. Ook het ons die vorige aand ‘n paar hoenderdytjies en -vlerkies oor die kole gebraai, wat ingesit sal word vir saamvat. Hoor ek Kate is al in die kombuis doenig om ook eiers te kook en vars saad-toebroodjies met tamatie en blaarslaai te maak.

Later het ek die ketel aangesit, vir ons koffie gemaak voor ons die tog aanpak en het ek die Stanly-fles vol warm water gemaak vir die oggend se koffie met ontbyt by die dam. Terwyl Kate besig is om die eetgoed te pak, dra ek solank die tasse en saamneem-goed na die kar.

Ons gaan so by sewe uur die oggend by die Orpenhek die wildtuin binne. Die luggie is fris en ons bekyk die grasse langs die pad wat al tot geelbruin verkleur het. Oop, ligblou die hemelruim, nie 'n wolkie in sig nie, windstil en is daar al sommer vroeg oggend beweging in die veld en in die lug. Ruik mens die bossies. Heelwat van die bome se blare het al in die voorwinter begin afval. Hoor ons nou en dan ‘n tortelduif en ‘n geelbekneushoringvoël, ‘n keer of wat die Natalse fisantjie en ‘n lemoenduifie. In die verte, ‘n geelblestinker.

'n End voor Orpen-kamp is ‘n trop wildehonde in die pad op ‘n stywe draf in die rigting soos ons ry. Nou en dan gaan staan een en ruik op die pad. ‘n Kleinerige ene steek op ‘n keer vas, buig die kop laag vorentoe met die voorpote effe uit mekaar en maak tjank geluide. Twee van die jongeres jaag mekaar speels. Ons verkyk ons aan die dofgeel met skakerings bruin, donkerbruin tot swart merktekens wat die geel in vlekke verdeel, die geelwit en swartbont van die kop met die ruie kwas sterte waarvan die punte gewoonlik wit is. Party het lang wit sterte, ander se wit in die sterte is net aan die punte. Hoor ons die pote op die pad soos hul draf. In ‘n stadium draf hulle die veld in, swiep die grasse soos hulle daardeur gaan en kom hulle ‘n end verder weer op die pad. ‘n Keer of wat steek die leier vas, kyk rond, kry dan weer koers in die rigting soos ons ry en gee die pas vir die trop aan.

In Orpen-kamp rek ons vir ‘n wyle bene en maak ‘n draai in die winkel. Later stap ons na die veiligheids-omheining in die kamp en sien ‘n klompie gewone tarentale by die suiping buite die kamp rond hang en water drink. Enkeles maak geluidjies soos hulle loop soek en saadjies pik. ‘n Klompie rooibokkies kom nader gestap met enkele zebras en ‘n blouwildebees op pad. Skud die zebras die koppe en waai die sterte soos hulle nader kom. ‘Trrrrrrr’…..’trrrrrrr’ ‘n Kuifkophoutkapper en hoor ons ook weer ‘n geelbekneushoringvoël.

Buite die kamp, op pad na die Nsemani-dam, wat nog ‘n goeie uur en ‘n half ver is, maak Kate ‘n bruin kardoes oop en kom sy met ‘n paar skyfies biltong tevoorskyn. Eet ons so paar om net eers die ergste honger te stil voor ontbyt later by die dam. Het ek al klaar ook die pakkie droë wors gesien wat sy gekoop het...

Verder kom ons rooibokkies, zebras en enkele blouwildebeeste op die grasvlaktes weerskante van die pad tee. ‘n Steenbokkie staan links van die pad naby lae bossies, dood stil, beweegloos, kyk net in ons rigting en begin toe aan die grassies vreet. Nou en dan hoor ons ‘n bosveldfisant. In die lug, bo ons, merk ons heelwat aasvoëls op lugstrome wat in sirkels draai, kom van hulle vinnig af grond toe en gaan sit daar êrens skuins voor. 

Ons ry nader en sien die klomp aasvoëls regs in die veld, so veertig meter van die pad, wat mekaar op die grond verdring. Sien ons die beendere van ‘n groot karkas en hoor ons die aasvoëls trek en pluk. Van hulle klouter oor mekaar en sprei die vlerke. Tussen hulle deur sien ons die rugstring, nek en die horinkies van ‘n kameelperd se kop wat nog herkenbaar is. ‘n Klomp aasvoëls sit in bome daar naby. Van hulle vlieg weer op. Heelparty op die grond maak die vlerke oop, begin lomperig in ons rigting draf en begin die vlerke klap. Hoor ons die flap, flap, flap van die vlerke en die geruis van die wind soos hulle laag oor ons die lug in vlieg. Verder agtertoe in die veld draf ‘n paar rooijakkalsies. Hoor ons ‘n end weg aan die linkerkant van die pad ‘n blouwildebees se snork en in die verte die blaf van zebras.

Soos ons langs die droë Timbavati-rivierbedding in die rigting van Satara ry, sien ons dikwels troupantjies in boompies se toppe. Blouvlekduifies vlieg gereeld oor die pad. Een keer sien ons ‘n aasvoël op ‘n nes hoog in ‘n boom by ‘n kleintjie. ‘n Keer of wat sien ons kameelperde, aan die oorkantse wal van die rivier, wat die blaartjies van ‘n boom af vreet en kom ons  rooibokkies langs die pad en in die veld tee. Bewyse van olifante se teenwoordigheid vind ons nou en dan in die pad. Hier en daar ‘n bedrywige miskruier.

Nader aan die Nsemani-dam stap ‘n troppie koedoes langs die pad tussen bome deur. Die koeitjies en jongetjies betree versigtig die pad terwyl die groot bul statig tussen die takke van ‘n boom tevoorskyn kom: die wit en roesbruin kleur met detail-haartjies binne die groot ore, wit om die bek, tussen die oë en wit strepe oor die lyf.  Kop omhoog stel hy sy gedraaide horings ten toon en volg hy die ander rustig soos hy oor die pad stap.

Regs van die pad, net voor die dam en nie ver die veld in nie, staan ‘n groot waterbok-bul met massiewe horings, kyk in ons rigting, staan vir ‘n wyle dood stil, draai om en beweeg in die rigting van die ander waterbokke wat verder die veld in staan.

Na tien is ons by die Nsemani-dam. Kate klim tussen die voorste sitplekke deur na agter. Sit en bespied ons die omgewing. Aan die regterkant van die dam kom vlakvarkies nader gedraf, gaan rol en skuur in die modder. Hoor ons die gespat soos die beer op sy sy lê en met die agterpote in die modderwater skop. ‘n Paar seekoeie se rûe steek daar naby bo die water uit, een blaas sproei deur sy neusgate en maak geluide. ‘n Seekoei-koei met haar kleintjie en nog ‘n opgeskote ene is ‘n hele end weg van die ander en kuier in die vlak water hier naby ons teen die wal. Net die kleintjie se koppie steek bo die water uit. Nou en dan sak hy in die water af, skop op die grond onder die water vas, skiet bykans heel uit die water langs die koei uit en plons dan weer terug. 

Skuins links voor ons in die vlak water woel kolganse en hul kleintjies met hul bekke in die water. Elke nou en dan hoor ons die groteres se geluide. Swem twee knobbeleende hier naby in die vlak water op soek na kossies. ‘n Klompie nonnetjie-eendjies sit eenkant op die wal tussen grassies, vlieg op oor die water en laat hul fluite hoor, gaan sit dan weer op die wal, vlieg weer op en oor die water in ‘n sirkel met hul fluite. Stap heel party bontkiewiete in die grassies en roep luidrugtig. Hoor ons ‘n visarend. Later sien ons twee van hulle daar ver in ‘n boom aan die regterkant van die dam. Hier en daar lê waterskilpadjies net bo die watervlak teen die oorkantse wal.

Kate haal die Stanly-fles en koffiebekers uit die drasak, slaan die middelste sitplek se rugleuning langs haar plat en haal die eetgoed wat sy vroegoggend ingepak het uit die koelhouer in die bagasieruim. Koffie word geskink: swart, ‘n tamatie-en-blaarslaai toebroodjie, ‘n hoenderboudjie, ‘n frikkadelletjie en ‘n hardgekookte eier word vir elk in ‘n houer gesit. Sout en peper. Sien ek die eier se geel is nog so effe loperig. Sit en smul ons in die kar terwyl ons die omgewing verder beloer. Kom sit ‘n grootglansspreeu op die syspieëljie van die kar in afwagting. So enkeles kom ook nader gevlieg en kom sit op die grond… gesels!

Op die linkerkantse wal kom ‘n kameelperd af water toe met ‘n klompie zebras diekant, wat pas klaar gesuip het, op pad terug die veld in. Op die verste punt van die dam anderkant die kameelperd lê twee witrenosters. Nou en dan draai die ore. Aan die linkerkant van die dam kom ‘n paar waterbokke stuk-stuk tussen die bome en in die veld aangestap. Stap die kleineriges so entjie, gaan staan vir ‘n wyle, kyk rond en stap dan weer aan. Die kameelperd het intussen tot teen die water gestap, begin om die voorbene uit mekaar te plaas om te suip, kom dan regop en stap endjie weg. Loer die kameelperd na die water en stap nog ‘n entjie verder. Kom dan weer nader na die water toe en probeer weer, vertrou nog nie die vrede nie, kom weer regop en stap terug die ruigtes in. Sien ons enkele krokodille ‘n ent weg in die water teen die wal.

Skuins van ons aan die regterkant van die pad kom ‘n patrysie agter ‘n bossie uit, stap huiwerig en voetjie vir voetjie die pad in, die koppie draai elke nou en dan met die ogies na bo as sy stil staan. As als veilig is, stap sy versigtig verder… voetjie vir voetjie, gaan staan, draai dan weer die koppie na bo en kyk. Kom daar drie kleintjies agter haar ook uit die bossie en volg haar.

Oorkant die dam beweeg ‘n paar olifante tussen die bome verby, die lywe nat en vol modder. Een gaan staan langs ‘n groot boom en begin die slurp en die kant van sy kop teen die stam skuur, dan agter die oor, beweeg so effe vorentoe en skuur die lyf, dan volg die boude. Stap toe verder die ruigtes in.

Volgende keer vertel ek verder...



Diere soek lafenis by die Nsemani-dam in die Kruger-wildtuin.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-16°C High level clouds. Cool. Pta: 2-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 2-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: -3-15°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 7-22°C Sunny. Mild. PE: 12-17°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot R2000 op die gewildste elektroniese ware

Kry elke dag besparings wat jou kop sal wegblaas op die gewildste elektroniese ware. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!