Smulpaap: Geroosterde sardientjies revisited
2012-01-19 11:13
Mediterreense pizza met 'n verskil
'n Bietjie moeite, maar dit is 'n treffer in die somer saam met 'n groen slaai.
(Hierdie is my variasie op die resep in die nuutse Taste, Januarie 2012).
Vir die pizza basis (3 x 23 cm) benodig jy:
333g koekmeelblom
'n pakkie suurdeeg/gis (7g)
1 eetlepel strooisuiker
125ml koppie louwarm water
80-100ml water
olyfolie
Versier jou pizza met:
3 groot sardyne
1 eetlepel koljandersaad
sade van 3 kardamompitte
2 eetlepels paprika
3 huisies knoffel
olyf olie
sap van 1 suurlemoen (en suurlemoenskil in skywe)
sout en peper
'n handvol rosa tamaties
Sit die oond aan op 180°C. Stamp die koljander- en kardamomsade saam met die paprika fyn. Plaas dan die sardyne (gevries of vars, maar moenie ontvries nie) in 'n roosterpan en geur met paprikamengsel, suurlemoenskil en 3 eetlepels olyfolie. Bak die sardyne in die oond vir 30 minute, wanneer die vis maklik vlok is dit gaar.
Meng die strooisuiker, gis en louwarm water in 'n klein glas houer en laat staan totdat dit verdik (10 - 15 minute). Gebruik 'n groot mengbak en maak 'n holte in die meel. Wanneer die gis mengsel reg is, gooi dit bietjie vir bietjie in die holte van die meel en meng met jou vingers. Jy sal sien daar is baie meel wat agterbly, maar gebruik die res van die water spaarsamig en knie om 'n stewige deeg te vorm. Die deegdigtheid moet jou herinner aan die tuisgemaakte speeldeeg van jou kleuterskooldae. Olie dan 'n skoon bak en laat die deeg daarin rys, bedek met kleefplastiek. Dit neem ongeveer 30 minute.
Intussen stamp die knoffel fyn saam met 4 eetlepels olyfolie totdat dit verdik, amper soos mayonnaise. Geur dan met suurlemoensap na smaak. Wanneer die deeg genoeg gerys het, strooi meel op 'n skoon kombuisoppervlak en verdeel die deeg in 3 gelyke dele. Rol elke bolletjie deeg 1/2 cm dik uit en geur met sout en peper. Bak dan in die oond vir 15 minute per pizza. Wanneer die pizza-basis reg is bedek dit met die sardyne, rosa tamaties en die knoffel mayonnaise. Geur met suurlemensap, sout en peper.