Smulpaap: Kos vir 'n see-uitsig
2012-01-11 14:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Hierdie is 'n 'flash in the pan'-tipe ete, dit is eenvoudig en ontsettend smaaklik. Jy benodig 1 kg mossels (skoon geskrop), 'n houertjie room (250 ml), 2 koppies goeie witwyn, 4 gekapte huisies knoffel en 'n handvol gekapte pietersielie. (Die dis in my foto bevat dié bestanddele, maar jy kan 'n gekapte ui en seldery bysit.)
Die eenvoud van die dis lê in die kook daarvan: neem 'n groot genoeg kastrol, braai die knoffel (ook ui en seldery) in 'n eetlepel goed-beter-botter. Wanneer die knoffel en ui glaserig is, voeg die room, wyn en mossels by. Kook dit met die deksel op totdat die mossels oopgaan en gooi dié weg wat nie oopgemaak het nie. Roer die pietersielie in.
Bedien in diep bakkies saam met die verfrissende waatlemoen-somerslaai hier onder, vars suurdeegbrood, witwyn en, verpligtend, 'n see-uitsig!

Waatlemoen-somerslaai
Noudat die vakansie verby is, is my yskas aan die leë kant, maar die noodsaaklike is darem beskikbaar. Ek was gelukkig om waatlemoen, tamaties uit die tuin, knoffel, komkommer en Deense feta bymekaar te kry. Vir twee mense sal jy die volgende hoeveelhede benodig:
• 3 tot 4 skywe waatlemoen, gesny in blokkies
• 3 huisies knoffel in skyfies gesny
• 2 handevol klein rosa-tamaties
• 10-15 cm komkommer in skywe gesny
• feta na smaak
Vir die slaaisous
• 2 eetlepels natuurlike jogurt
• 1 eetlepel witwyn-asyn
• sout en peper
• 1 eetlepel olyfolie
Panbraai die tamaties en knoffel in olyfolie oor matige hitte. Rangskik die waatlemoen, komkommer en feta op 'n bord. Meng die bestanddele vir die slaasous en geur na smaak. Wanneer die tamaties geblanseer is en die knoffel mooi bruin is, skep oor die ander bestandele. Bedien met die slaaisous apart.
Lekker smul!
