kop-op-'n-blog: Dankie vir gesondheid
2012-02-23 08:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
‘n Goeie vriendin het pas afgetree en dadelik ‘n ander werk oorgeneem: sy sorg vir haar man. Hy ly aan motorneuron-siekte, wat sy spiere genadeloos en meedoënloos sloop.
Ons sien mekaar nie so dikwels nie, dus is die aftakeling duidelik sigbaar by elke ontmoeting. Hy kan nog goed loop, maar albei sy hande en arms is onbruikbaar. Hy loop met dun-dun arms wat los hang soos ‘n lappop s’n. Hy kon mens altyd so ‘n lekker stewige druk gee, een van die min mans wat ek ken wat jou so ‘n goeie hug kon gee. Nou druk ek hom sonder dat hy eers sy arms lig.
Hy kan net nog met moeite ‘n stuk kos op ‘n slag met ‘n vurk in sy mond probeer instoot. Hy drink sy koffie met ‘n strooitjie. Hy kan nie self aan- of uittrek of was nie, hy moet wag dat die motordeur vir hom oopgemaak word. Hy gaan gereeld fisio toe en verder lees hy maar.
Sy kop is so helder soos toe hy nog kort gelede ‘n skoolhoof was. Dis net die spiere wat een vir een afskakel. Hy en sy vrou het nog steeds ‘n goeie verhouding en maak grappies en neem mekaar ernstig op – die een speel nie die rol van hulpbehoewende en die ander van versorger nie.
Maar dit plaas ‘n vreeslike stremming op albei se lewens. Dis soos ‘n ma met ‘n gestremde kind – ‘n voltydse werk en ewige bekommernis.
Net mooi toe albei hul aftrede wou begin geniet, kom so ‘n fisieke en emosionele – en finansiële! – las op hulle lê.
Maar hulle het darem nog mekaar. Wat sou byvoorbeeld met ‘n enkelloper gebeur as hy of sy so agteruit gaan? Permanente verpleegsorg? ‘n Versorgingsinrigting? Terwyl jy nog ten volle mens is en net die spiere begin meegee?
Ek bewonder my vriendin vir haar onomstootlike toewyding en vrolike manier van versorging, en ek bewonder haar man vir die grasie waarmee hy haar hulp aanvaar en daarvoor vra. En ek bewonder albei dat hulle steeds daaraan werk om heel mense, afsonderlike individue, binne hul verbintenis te bly.
En ek waardeer my gesondheid elke oomblik van elke dag.