kop-op-'n-blog: Jaar van die draak
2012-01-24 11:48
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Volgens die Chinese is dit vanjaar die jaar van die draak, oftewel die drakensjaar – of steek hulle die draak met ons ape, rotte, hoenders, varke en honde?
Tot my leedwese is ek volgens die Chinese ‘n hond (of teef?), so ‘n lojale stertwaaier wat sit waar sy gesê word, vreet wat aan haar voorgesit word en uitbundig bly is as haar baas huis toe kom. Of basies as hy enigiets doen. Hoe pateties.
‘n Draak is natuurlik ‘n ander saak. Jy kan hom in die aand met laterns laat bokspring en kronkel tussen die entoesiastiese massas Chinese. Hy is groot en bont en indrukwekkend, veral teen ‘n ou keffertjie soos ek.
Dis miskien tyd om Drakensberge toe te gaan om nader aan ‘n draak te kom, al is dit net ‘n bergreeks wat ‘n paar eeue gelede vir die ouens soos ‘n draak gelyk het (of het hulle die draak gesteek?). Hulle het toe miskien beter geweet hoe ‘n draak lyk. Disney moet ‘n slag ‘n draakfliek maak sodat ons ook kan weet hoe hy veronderstel is om te lyk.
Of is daar al een?
So ‘n ou onbenullige hondjie (of tefie) soos ek verloor maklik tred met wat in die groot wêreld van Disney (met of sonder 3D-bril) gebeur.
Maar ek moet sê ek is innig dankbaar dat ek nie ‘n rot of ‘n vark of so-iets naars is nie. Mense wil my ten minste nie uitroei of eet nie. Hulle is nogal gewoonlik lief vir my (as ek in my spore trap en maak of ek uitbundig bly is as die baas huis toe kom, ens.), veral mans. Hulle gooi stokke vir my om te gaan haal en word wraggies nie moeg van die vervelige speletjie nie.
‘n Draak is natuurlik ‘n ander saak. Hy is ontembaar, geweldig groot, vuurspuwend, en as jy van rokers hou wat hul lyf rondgooi, is hy nommer een.
Die Chinese draak moet ‘n slaggie gaan kyk hoe lyk ons Drakensberge –baie groter en imposanter as hulle ou kamma-drakie!