Dís wat opposisie behoort te wees
2010-03-06 15:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die afgelope week het drie voorbeelde opgelewer wat rigtinggewend is oor die styl van opposisie wat in Suid-Afrika gepas is.
In ag genome dat die land tans ’n eenparty- dominante staat is waar die ANC in baie streke moeilik ontsetel gaan word, is die vraag dikwels wat die beste vorm van opposisie is.
Daar is ’n redenasie ten gunste van tradisionele, sterk opposisiepolitiek, en dan is daar ’n redenasie wat aanvoer dat ’n uitgesproke opposisie nie in ooreenstemming met die Afrika-kultuur is nie, en ’n meer samewerkende model gevolg moet word.
Lesers van Rapport sal weet ons glo lankal hierdie samewerkende model is sommer bog – trouens, ’n teenstrydigheid – en dat ons meen ’n sterk opposisie is ewe noodsaaklik vir ’n werklik funksionerende demokrasie as ’n sterk regering.
Drie gebeurtenisse hierdie week, in drie opposisiepartye, het na ons mening hierdie punt bewys.
Eerstens het die rammelinge in die VF+, veroorsaak deur die aanstelling van die partyleier, dr. Pieter Mulder, as ’n adjunkminister, oorgegaan in die eerste golf van ’n komende string bedankings van vooraanstaande lede uit die party.
Dit is uiteenlopende mense, maar die beswaar wat hulle gemeen het, is dat kiesers verlede jaar vertel is die VF+ is gekant teen die ANC, en die volgende oomblik sit Mulder in ’n regeringspos op die ANC-leier se genade.
Die wegbrekers glo in sterk opposisie eerder as dit wat die party nou geword het. Ons weet van nog bedankings wat op pad is.
Tweedens het die DA, wat dikwels wel sterk opposisie bied, die afgelope week in die parlement ’n fout begaan.
Ander opposisiepartye het adj.pres. Kgalema Motlanthe met vernuftige vrae byna so ver gekry om toe te gee dat die ANC se omstrede beleggingsmaatskappy Chancellor House as aandeelhouer baat vind by Eskom se tariefverhogings.
Die DA het die volgende vraag gehad, maar hy het Motlanthe laat wegkom deur nie oor Chancellor House te vra nie, maar eerder ’n vooraf uitgeskryfde vraag af te lees. ’n Mens moet voorbereid wees, maar ook polities vlugvoetig. ’n Gulde geleentheid is verspeel.
En derdens was daar Cope. Pres. Jacob Zuma se onlangse omstredenhede het die party laat onthou hy is juis in teenreaksie op dié omstredenhede gestig. Cope was vandeesweek die sterkste opposisie in die parlement omdat hy sy binnegevegte vergeet en op sterk opposisie gefokus het, met ’n kille en doeltreffende reeks politieke aanvalle op ’n tans sukkelende ANC.
Dit is wat opposisiekiesers wil hê – nie ’n versufte belangepolitiek of ’n swaarvoetige onaanpasbaarheid nie, maar ’n voortgesette aanval op die regering se swak plekke sodat beter alternatiewe ’n werklikheid kan word.