Dit gaan nie so goed met ons vroue
2010-08-07 19:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Slaan ’n vrou en jy slaan ’n rots. ’n Goeie vrou is meer werd as korale. As God nie vroue gemaak het nie, sou Hy ook nie blomme gemaak het nie…
Oor vroue is deur die eeue al vele wyshede en pogings tot wyshede kwytgeraak. En dis veral rondom Vrouedag, wat Maandag in ons land gevier word, dat dié sêgoed kop uitsteek.
Dis ook in hierdie tyd dat alte graag oor vroue en hul rol in die samelewing gepontifikeer word. En dis ook hier rondom Vrouedag dat mooi klinkende en soms holrug geryde aanhalings oor die deugde, krag en skoonheid van die evasgeslag eerder eenkant geskuif moet word en nugter en eerlik gevra moet word wat wérklik die omstandighede van die Suid-Afrikaanse vrou is.
En dán moet ons vra of dié toestand bevredigend is en, indien nie, hoe dit verbeter behoort te word.
So: Wat is die waarheid omtrent die stand van die vrou in Suid-Afrika? Kom ons kyk na ’n paar feite.
’n Fundamentele voorwaarde vir bemagtiging is geldelike onafhanklikheid. Die meeste vroue in Suid-Afrika leef egter in erge armoede. Sowat 26% (meer as 12 miljoen) van Suid-Afrikaanse vroue is werkloos. Dit is dus vroue hierdie wat staatmaak op hul man om hul gesin te onderhou. ’n Mens wonder hoe dít klop terwyl byna 23% van mans (sowat 4% minder as vroue) in Suid-Afrika óók werkloos is.
Voorts is Suid-Afrika volgens Interpol die land ter wêreld waar die meeste vroue verkrag word – sowat 1 300 vroue daagliks. En wat dit selfs skokkender maak, is dat sowat 16% van Suid-Afrikaanse mans wat ’n verkragtingslagoffer ken, glo dié slagoffer het dit “geniet” om verkrag te word of “het dit verdien”.
Elders in die koerant berig ons vandag dat slegs 6% van swart vroue, 10% van wit en 1% elk van bruin en Indiërvroue in topbestuursposisies in Suid-Afrika is, en daar boonop steeds wesenlike verskille tussen die salarisse van mans en vroue in topbestuursposisies bestaan. Ook word dié verskynsel klaarblyklik nie goed genoeg aangepak deur huidige wette oor gelyke indiensneming nie.
Ons land blyk vanjaar uitstekend te presteer op sekere gebiede en uiters power op ander. Só byvoorbeeld het ons pas ’n hoogs geslaagde Wêreldbeker-sokkertoernooi agter die rug.
Kan ons nie met dieselfde drif en vasberadenheid waarmee ons hierdie geleentheid getakel het, ook die betreurenswaardige stand van vroue in ons land aanpak nie?
Die sukses van die bemagtiging en gelykheid van vroue kan duidelik nie gemeet word aan die getal vroue wat ons sedert 1994 in die parlement sitplek gegee het nie. Wat laasgenoemde betref, het ons statisties baie goed gevaar…
Ons kan slegs die lot en posisie van vroue verbeter indien élke vrou in die land, ryk of arm, swart of wit – soos die dapper vroue wat in 1956 opgeruk het in ’n protes teen paswette – hul stem laat hoor en daarop aandring dat die regering die daad by die woord voeg en wérklik deur middel van gepaste wetgewing en polisiëring vroue se hand in hierdie land versterk.