Dringende optrede oor mynwater nodig
2010-08-14 18:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Suid-Afrika is nie ryk aan natuurlike waterbronne nie. Dit is dus noodsaaklik dat ons elke druppel skoon water jaloers bewaar.
Dit is ironies dat ons goudmyne – waarop die ekonomiese rykdom van ons land eens gebou is – ook een van die grootste besoedelaars van ons water en natuurlike omgewing is.
Omgewingskundiges waarsku al sedert 2008 teen ’n reuse- ekologiese tydbom onder die Witwatersrand. Ondergrondse mynwater, besoedel met suur, styg in ’n kommerwekkende tempo in ou en vervalle myntonnels en -skagte. Van die Wes-Rand na die middestad van Johannesburg tot aan die Oos-Rand kan die suur water binne 12 tot 18 maande sinkgate veroorsaak, op grondvlak uitloop en in riviere beland.
Dringende ingryping is nodig om die besoedelde water veilig uit te pomp en te suiwer. Maar nóg die regering nóg die betrokke mynmaatskappye wil hul verantwoordelikheid in dié verband aanvaar.
Kyk, Suid-Afrika beskik baie jare reeds oor die nodige wetgewing om myne en fabrieke te dwing om hul sake omgewingsvriendelik te bedryf, asook oor wette om besoedelaars vas te vat. “Die besoedelaar betaal” is die reël wat hier geld.
Die waarheid is egter dat nywerhede hulle alte dikwels nie aan die wetgewing steur nie – en dat die verantwoordelike staatsliggame nie die wet afdwing nie.
Mnr. Trevor Manuel, minister in die presidensie, het Donderdag in die parlement laat blyk dis nie die regering se probleem nie en dat mynmaatskappye moet betaal. Die regering kan egter nie so maklik sy plig om landsburgers, infrastruktuur en natuurlike hulpbronne te beskerm, omseil nie.
Van die ou myne onder die stadskom is dekades lank al toe. Waar die voormalige eienaars nou opgespoor gaan word, weet nugter. Die meeste was boonop bankrot toe hulle toegemaak het.
En waar die eienaars wel nog bereik kan word – soos die Aurora-groep, eienaars van die mislukte Grootvlei-myn in Springs – lyk dit of die wet nie geld vir mense wat polities goed verbind is nie. Dit is hoog tyd dat Aurora, ’n swartbemagtigingsgroep wie se direksielede familiebande met die Zumas en Mandelas het, vasgevat word.
Manuel is tegnies korrek as hy sê die myngroepe moet self opdok. Maar dit is laat in die dag – en dit is waarskynlik net die regering wat die geldelike en ander vermoëns het om onmiddellik en doeltreffend in te gryp om ’n omgewingsramp te keer.
Gryp die regering in, gaan die belastingbetaler se sak ongelukkig geruk word. Maar doen die regering niks nie, gaan landsburgers ’n veel hoër prys betaal.
Me. Buyelwa Sonjica, minister van water en omgewingsake, moet vasgevat word weens haar klaarblyklike onvermoë om haar werk te doen.