Het almal nou die kluts kwytgeraak?
2010-09-04 15:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit was onvermydelik – en op ’n menslike vlak heel verstaanbaar – dat die skokkende dood van sers. Ntshimane Mogale van Tshwane se metropolisie woede by sy familie, vriende en kollegas sou ontlok.
Daar is nog baie onbeantwoorde vrae oor wat presies daardie aand gebeur het nadat Mogale en twee kollegas die Blou Bul-stut Bees Roux van die pad getrek het – en waarom Roux Mogale op só ’n brutale manier aangeval het.
Kyk, die neem van ’n lewe kan nie goedgepraat word nie, maar die feit is Roux is aangekla van moord en gaan verhoor word. Die saak is dus waar dit hoort: voor die hof. Die regsproses moet nou toegelaat word om sy gang te gaan.
Wat nie aanvaarbaar is nie, is die uitsprake van dir. Ndumiso Jaca, hoof van proaktiewe polisiëring by die Tshwane-metropolisie, by Mogale se roudiens Donderdag.
Jaca het gesê die Tshwane-metropolisie sal “seker maak dat Bees nie rus nie… ons sal padversperrings bou… ons sal hom teister tot hy die waarheid praat”.
Jaca se uitlatings wys ’n totale minagting van die wet en die howe. Dit is skreiend.
’n Mens sou dit nog kon weglag as dit nie daarvoor was dat Jaca ’n senior wetstoepasser is nie. Hy, van alle mense, moet die beginsels van reg en geregtigheid in ’n demokratiese samelewing respekteer en jaloers beskerm.
Wat Jaca effektief gedoen het, is om op ’n openbare platform sy ondergeskiktes ’n vrypas te gee om magsvergrype te pleeg teen ’n beskuldigde in ’n misdaad. Want ja, Roux – soos alle beskuldigdes – het ook regte.
Jaca is natuurlik nie die enigste een wat in die afgelope week dom uitsprake gemaak het oor die Roux-moordsaak nie. Die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, het sy voet dwars in sy eie mond gesit deur hom oor die Roux-verhoor uit te spreek.
Roux is nie deel van die Springbok-groep nie en die saak het dus niks met die nasionale rugbyspan uit te waai nie.
Jaca het terloops die Bok-afrigter gekap hieroor. Ja, De Villiers moes van beter geweet het, maar in vergelyking met Jaca se opruiende opmerkings was die Bok-afrigter se gekwalifiseerde steun vir Roux hoogstens naïef en ondeurdag.
Jaca moet vasgevat word deur sy bevelvoerders. Dit is tyd dat ’n boodskap uitgestuur word dat wetstoepassers nie bo die wet verhewe is in hul doen en late nie.
’n Les kan geleer word by mnr. Alfred Mogale, broer van die slagoffer, wat bespiegelinge van ’n rasmotief in die aanval verwerp het tot tyd en wyl die hof andersins bevind.