Hoe goed is die matriekuitslae?
2011-01-08 12:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Niemand hou daarvan om prestasies gering te skat nie, maar soms is dit noodsaaklik om, in die breër belang, uit te wys dat iets moontlik skort en dat behoorlike navorsing nodig is.
’n Voorbeeld hiervan is die matriekuitslae wat die afgelope week bekend gemaak is. Die regering klop homself op die skouer, en vir elke suksesvolle matrikulant is sy of haar uitslae ’n prestasie wat nie bevraagteken moet word nie.
Rapport laat graag die sjampanjeproppe skiet: Geluk aan alle suksesvolles.
Enigeen wat weet hoe die matriekeksamen werk, weet dis inherent ’n uiters ingewikkelde statistiese oefening wat maklik verkeerd verstaan word en waarop oningeligte kritiek sowel algemeen as jammer is.
Maar kommer oor die reuse-styging in vanjaar se slaagsyfer, ondanks die onderwyserstaking wat die mees disfunksionele, brose deel van die onderwysstelsel lamgelê het, word versterk as ’n mens na die styging in die slaagsyfer van sommige vakke kyk.
Die persentasie kandidate wat in lewenswetenskappe meer as 30% gekry het (dit was in die vorige stelsel ’n druipsyfer in die hoër of standaardgraad, maar darem ’n slaagsyfer in die laer graad, maar nou is dit dikwels, en beskamend vir die land, genoeg om te slaag), het toegeneem van 65,5% tot 74,6%. In wiskundige geletterdheid van 74,7% tot 86% en in fisiese wetenskappe van 36,8% tot 47,8%.
Bostaande syfers is abnormaal hoog; nie net wat persentasiepunt-stygings betref nie, maar veral wat verbetering op verlede jaar se syfers betref. Gegewe dat dit – as die groot getalle kandidate betrokke in ag geneem word – onwaarskynlik is dat vanjaar se matriekklas se vermoëns beduidend van verlede jaar s’n verskil, is vrae aan die bod.
Dit is noodwendig dat die peil van elke jaar se vraestelle nie presies dieselfde kan wees nie, want die vraestelle verskil. Dit is die taak van die oorsigliggaam Umalusi (opvolger van die destydse Suid-Afrikaanse Sertifiseringsraad) om te verseker dat die peil van die vraestelle, die nasienproses en die berekening van die uiteindelike punte korrek is.
Die doel van Umalusi is onder meer om te verseker dat statistiese anomalieë soos hierbo aangehaal, nie plaasvind nie.
Die peil van ’n eksamen is belangriker as die slaagsyfer. Die matriekeksamen se geloofwaardigheid is vir ons onderwysstelsel van kardinale belang. Derhalwe is ’n behoorlike ondersoek na spesifiek hierdie vakke se uitslae noodsaaklik.
Hierdie aandrang moet nie gesien word as ’n aanval op die uitslae se geloofwaardigheid nie, maar as ’n versterking daarvan. As die regering vertroue het in die proses, sal hy instem tot ’n ondersoek. Dit sal die regte ding wees om te doen.
- Rapport