Maar doen die regering genóég?
2012-01-14 13:40
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Mev. Gloria Sekwena sal nie sien hoe haar oudste seun op sy gradeplegtigheid lyk nie.
Sy sal ook nie sy eerste salaris saam met hom vier nie, want sy het Dinsdag tragies met haar lewe geboet toe sy wou verseker hy kry plek aan die Universiteit van Johannesburg (UJ).
Die Sekwenas se tragedie herinner aan die ewe tragiese verhaal van mnr. Sikhumbuzo Mhlongo wat in Augustus 2009 selfmoord gepleeg het omdat hy nie ’n identiteitsdokument uit die departement van binnelandse sake kon kry nie.
Die twee mense se verhale is metafore van die desperaatheid waarin die meerderheid van ons bevolking hulle bevind.
Nes Mhlongo destyds geweet het sonder ’n geldige ID-boekie is sy kanse op ’n werk nul, net so weet die duisende skoolverlaters wat Dinsdag voor UJ saamgedrom het hul enigste hoop op ’n werk is naskoolse opleiding.
Die regering weet van dié ellendes.
In beleidsdokumente en toesprake word daar herhaaldelik na statistieke verwys om dit te staaf; dit is vervat in die werkloosheidsyfers en getal welsyntoelaes.
Maar die vraag is nie óf die regering iets doen nie, die vraag is eerder doen ons regering genóég met die hulpbronne tot sy beskikking om die ellendes te verlig?
Want net soos met Mhlongo se selfmoord, stel mev. Sekwena se dood opnuut vrae oor die gebrek aan dringendheid by die regering om spoedige koersveranderings te maak.
Miskien is daar iewers ’n amptenaar of ’n minister wat kan verduidelik hoekom die regering sedert 1994 tot 2009 nie ’n enkele sent opsygesit het om meer universiteite en kolleges te bou, of om die bestaande infrastruktuur uit te brei nie.
Hoekom duur dit so lank om die onderwys- en landboukolleges wat deur die einste regering gesluit is te heropen?
Hoekom is dit so moeilik om die naskoolse stelsel uit te brei en die toegang tot opleidingsgeleenthede en die gehalte van onderrig te verbeter?
Miskien kan iemand by die departement van basiese onderwys ook verduidelik hoekom die matriekslaagsyfer gemanipuleer word om skoolverlaters wat duidelik nie vir naskoolse onderrig opgewasse is nie, onder ’n vals indruk te bring dat dit wel die geval is.
Die statistieke staaf dit: Net 4% van eerstejaarstudente wat in 2007 by universiteite ingeskryf het, het teen 2009 nog klas geloop.
By kolleges vir verdere onderwys en opleiding is die uitsaksyfer jaarliks tussen 13% en 25%.
Ons sit tans met ’n situasie waar ons nie net te min universiteite en kolleges het om die toestroming van eerstejaarstudente te hanteer nie, ons sit boonop met derduisende studente wat ’n geringe kans het om hul eerste jaar aan ’n kollege of universiteit te slaag.