Matriekuitslae: Wat is waar en wat nie?
2010-01-09 17:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die uitslae van die matriekeksamen het ’n paar groot waarhede oor ons skoolstelsel blootgelê, en een groot onwaarheid oor hoe ons matriekeksamen werk.
Kom ons begin by die groot onwaarheid. Die oningeligte paniek oor punte in die een wiskundevraestel – aangeblaas deur sommige in die media – was skreiend. Die stelsel laat nie toe dat kandidate ’n vak soos vlieë druip omdat ’n vraestel moeilik was nie.
Hierdie soort alarmisme kom bykans jaarliks voor en materialiseer nooit (soos ook nie vanjaar nie), want die matriekeksamen is grootliks ’n ingewikkelde statistiese oefening waarvolgens kandidate in ’n rangorde geplaas word gemeet aan jaarpunte, die eksamenpunt en die kumulatiewe uitslae van vorige jare. Hopelik verstaan alle betrokkenes dit nou, en word toekomstige matrikulante hierdie soort ongegronde en onverantwoordelike traumatisering gespaar.
Die uitslae het ’n paar waarhede oor ons onderwysstelsel ook onderskryf. Eerstens het Afrikaanse skole weer absoluut uitstekend gevaar vergeleke met ander. Dit toon nogmaals aan ouers watter sterk grondslag behoorlike moedertaalonderrig bied.
Tweedens is die slaagsyfer in staatskole met ’n model C-agtergrond bykans dieselfde as die slaagsyfer van private skole wat die Onafhanklike Eksamenraad se eksamens skryf. Albei eksamens word deur dieselfde liggaam (Umalusi) gemonitor en op peil bevind. Goeie staatskole bly dus akademies op ’n hoë peil.
Derdens verwelkom ons die wegneem van die Mpumalanga-onderwysdepartement se mag om eksamens af te neem.
Welgedaan aan die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga, wat ’n polities ongewilde stap gedoen het waarvoor haar voorgangers nie die durf gehad het nie.
Dat die nasionale slaagsyfer met twee persentasiepunte gedaal het, is jammer, maar geen ramp nie. Die peil van die eksamen is belangriker as die slaagsyfer, en dis goed dat die onderwysdepartement onder Motshekga se leiding die strengheid van oudmin. Naledi Pandor voortsit eerder as om terug te val op die oëverblindery van die Asmal-era, toe die slaagsyfer deurgaans op bedenklike wyse gestyg het.
Die boodskap van vanjaar se uitslae is dat harde werk van onderwysers en leerlinge met prestasie beloon word. Daarvoor moet onderwysers voor die klas staan en leerlinge in daardie klas wees, en onderrig moet deurgaans plaasvind.
Die groot struikelblok hiervoor is die vakbond Sadou. Skole met ’n Sadou-meerderheid volg nie hierdie riglyn nie en hul uitslae is swak. Die vraag is of Motshekga Sadou, ’n getroue ANC-bondgenoot, kan vasvat en Sadou-lede kan laat fokus op die belang van die kind eerder as hul eie belang.
Dán sal matriekuitslae verbeter.
- Rapport