Meyer is g'n tref-en-trap
2012-01-28 14:25
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Met Heyneke Meyer se aanstelling as die nuwe Springbok-afrigter het die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) ’n kritieke draaipunt gemaak.
In ’n organisasie waar politiekery en eiebelang meer dikwels as nie die uitkoms van prosesse bepaal, het Saru onder die leiding van sy uitvoerende hoof, mnr. Jurie Roux, die aanstellingsproses tot een uitkoms beperk: die beswil van Springbok-rugby.
Meyer is nie ’n tref-en-trap-aanstelling nie.
Hy is vandag die mees gerespekteerde breier in die land. Sy CV is indrukwekkend en sy welslae as afrigter op verskillende vlakke oor ’n tydperk van meer as ’n dekade dui daarop dat hy nie ’n one trick pony is nie.
Straks minder sigbaar vir die openbare oog, is sy visie om spelers ’n geheel te maak, naamlik die span.
Met Meyer as hoofafrigter het die Blou Bulle-unie ’n hele paar goue jare beleef, soos laas in die tyd van Oom Buurman van Zyl toe die ou Noord-Transvaal die Curriebeker vier jaar agtereenvolgens gewen het.
Verdwerg in sy prestasies is egter die een wat ’n visioenêre afrigter van die res onderskei.
Dit is die prestasie wat hy met die piepklein SWD-span in 1999 vermag het toe die Suidwestelike Distrikte vir die eerste keer in 100 jaar in die halfeindstryd van die Curriebeker gespeel het met oorwinnings oor die Blou Bulle en die WP in daardie seisoen.
Dit, en die vele reeksbekers wat hy daarna gewen het, onderskryf sy vermoë as ’n skeppende afrigter wat die kuns verstaan om die hede en die toekoms een groter geheel te maak.
Sy versiendheid met talentontwikkeling én -identifikasie het hom oor ’n dekade ’n onontbeerlike deel van Loftus-rugby se sukses gemaak.
Dis hierdie kundigheid wat die nou afgeleefde “handelsmerk” van Springbok-rugby in iets veel meer opwindend en minder voorspelbaar moet verander.
Springbok-rugby bevind hom nou op ’n plek wat vernuwing en verandering vereis. Die tyd is verby dat ’n Springbokspan op die veld draf met die statistieke van “mees ervare span nog” as die hoofsaaklike wen-faktor.
Die Bulle se knorrigheid oor hul verlies is verstaanbaar. Hulle moet daaroor kom.
Die land se rugbypubliek is in afwagting om weer bruisende wen-toetsrugby te sien.
Dit gaan straf wees met die Springbokke wat tussen Junie en die einde van November vanjaar 12 toetse speel. Dis boonop teen formidabele teenstanders en in ’n eerste seisoen van die nuwe Viernasies-kampioenskap van die Suidelike Halfrond, ’n terugkeer van toere met drie tuistoetse en ’n mengsel van toetse en SuperRugby.
Meyer het as afrigter in die groter arena van die spel genoeg sakke sout verorber om te weet die verwagtinge van die rugbypubliek is groot.
Dis enorm – maar ook sonder genade.